Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
UP werk aan planne om boomkewer te beheer
Hars drup uit nuwe besmettings op die stam.Foto: Wilhelm de Beer

Dit kan tot R10 000 kos om ’n enkele groot boom te verwyder wat besmet is met die dodelike swam Fusarium euwallaceae en die stompkopkewer Euwallacea sp. nr. fornicatus, wat die swam versprei.

Dié indringerkewer het reeds sedert dit verlede jaar in Suid-Afrika opgemerk is meer as 50 boomspesies hier aangeval, onder meer in verskeie woonbuurte in Sandton, Pietermaritzburg, George en Knysna.

Dr. Trudy Paap van die Universiteit van Pretoria se Bosbou- en Landbou-biotegnologie-instituut (Fabi) het die stompkopkewer op plataanbome in die KwaZulu-Natalse Botaniese Tuin in Pietermaritzburg ontdek.

Die kewer is 2 mm lank en afkomstig van Suidoos-Asië. Dit beïnvloed natuurlike en stedelike omgewings, sowel as die landbou.

Hoewel die stompkopkewer op avokado- en pekanneutbome in Suid-Afrika aangetref is, het dié kewer en swam nog nie ’n regstreekse impak op voedselgewasse in die land nie, sê prof. Wilhelm de Beer van Fabi.

Op sommige bome is daar klein, opgehewe letsels op die bas wat soos haelgeweerletsels lyk.Foto: Wilhelm de Beer

“Ons is wel bekommerd oor die moontlike impak op die avokado- en pekanneutbedryf in Suid-Afrika en is reeds sedert verlede jaar saam met hulle besig om boorde te monitor en na moontlike beheermaatreëls te kyk,” het hy op ’n seminaar by die UP gesê.

Nog ’n bron van kommer is die koste daarvan om besmette bome uit stedelike gebiede te verwyder.

“Dit kos ’n stad geweldig baie om een van hierdie bome te verwyder. ’n Munisipaliteit kan tot R10 000 betaal om ’n groot boom te verwyder, dus het die besmetting van hierdie swam ’n geweldige groot ekonomiese impak.

“Sommige munisipaliteite het nie gebeurlikheidsplanne vir sulke rampe nie. Ons is in gesprek met verskeie munisipaliteite om hul personeel te help oplei om geïnfekteerde bome te herken en veral daardie bome waar die kewer aanteel te verwyder.”

Hy sê dit is absoluut noodsaaklik dat munisipaliteite die storting van die hout van besmette bome beheer, aangesien die kewer nog maande lank in stompe kan uitbroei en op dié manier verder versprei.

Die stompkopkewer is 2 mm lank en afkomstig van Suidoos-Asië. Foto: Wilhelm de Beer

“Daar behoort in elke dorp of stad waar die kewer voorkom, spesifieke stortingsterreine geïdentifiseer te word waarheen al die hout gebring moet word,” sê De Beer.

Dan is daar die groot risiko dat Suid-Afrika van sy inheemse spesies gaan verloor indien die kewer natuurlike gebiede soos die Knysnawoud of die Bosveld binnedring.

“Ons weet reeds dat party inheemse bome aangeval word, maar nie almal sal doodgaan nie. Dit is baie onvoorspelbaar en ons monitor die situasie in die Suid-Kaap in samewerking met Sanparke,” sê De Beer.

Die simptome van ’n besmette boom verskil van boomspesie tot boomspesie: Van klein gaatjies met fyn saagsels tot wit, poeieragtige kolle of vlekke van druipende hars op die bas wat die gate van die kewers omring. Op sommige bome is daar ook klein, opgehewe letsels op die bas wat soos haelgeweerletsels lyk.

Dié kewer het oor die afgelope dekade in Israel en in Kalifornië in Amerika belangrike gewasse, soos avokado’s, makadamias, pekanneute, perskes, lemoene en druiwe, aangetas, maar die grootste skade was onder avokado’s.

Die kewer is 2 mm lank en versprei ’n dodelike swam wat die natuurlike en stedelike omgewing, sowel as die landbou, beïnvloed. Foto: Samantha Bush

In die Los Angeles Botaniese Tuin het dit 207 boomspesies aangetas wat verskeie Suid-Afrikaanse bome, soos die kiepersol, wilde geelkeurboom, swartapiesdoring, koraalboom en kruidjie-roer-my-nie, insluit. Die Engelse naam vir die kewer, “polyphagous shot hole borer”, verwys juis na sy vermoë om só baie verskillende boomspesies aan te val, sê De Beer.

Sommige van die meganismes om die besmetting van die swam hok te slaan, sluit in die afkap en verwydering van reproduktiewe gashere, om bome te plant wat bestand is teen die stompkopkewer en die swam, chemiese beheer en chemiese lokmiddels.

“Ons is tans besig met verskeie navorsingsprojekte sodat ons meer te wete kan kom oor die gedrag van die kewer en swam in Suid-Afrika, watter bome vatbaar is, en die mees effektiewe behandeling of voorkomingsmaatreëls.”

Maar die kewer is hier om te bly. Dit het reeds só wyd versprei dat dit nie uitgewis sal kan word nie, sê De Beer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.