Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
US erken hy het afgewyk van taalbeleid
Die Ou Hoofgebou by die Universiteit Stellenbosch (US). Foto: Anton Jordaan

Die Universiteit Stellenbosch (US) het erken dat sewe van sy fakulteite sedert die begin van die jaar van sy amptelike taalbeleid en -plan afgewyk het deur nie aan Afrikaans en Engels gelyke status in klasse te gee nie.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Vrydag AfriForum Jeug se aansoek om ’n interdik wat die US dwing om by sy eie taalbeleid te hou, toegestaan nadat die universiteit laat Donderdagaand kennis gegee het hy sal nie die aansoek teenstaan nie.

George Steyn, voorsitter van die US-raad, het in ’n beëdigde verklaring gesê die uitvoerende komitee van die raad en die rektor se bestuurspan aanvaar dat “tot die mate wat daar van die taalspesifikasies in die 2016-jaarboek afgewyk word, die US onregmatig opgetree het”.

Hy het toegegee dat daar in altesaam 268 modules in sewe fakulteite van die riglyne vir die gebruik van taal afgewyk word. Dit sluit in die fakulteite opvoedkunde, regsgeleerdheid, teologie, ingenieurswese, natuur-, landbou-, en ekonomiese en bestuurswetenskappe.

Steyn se erkentenis volg nadat die US se regspan in Februarie met AfriForum Jeug in ’n skikking buite die hof ooreengekom het dat hy stappe sal neem om seker te maak alle fakulteite hou by die taalbeleid.

Adv. Jan Heunis SC, wat namens AfriForum Jeug opgetree het, het gesê dit is duidelik dat die US nooit self op ’n spoedeisende grondslag regstellende stappe sou doen om die huidige situasie reg te stel nie.

“Inteendeel, die US is halsstarrig besig om die teenoorgestelde te doen,” het hy aangevoer.

Steyn het verder verklaar dat die US ná die inwin van regsadvies aanvaar dat die taalmosie wat die raad op 20 Februarie aanvaar het, regtens aanvegbaar is aangesien dit in wese op ’n wysiging van die taalplan neerkom sonder dat die regte prosedures gevolg is.

Met dié mosie het die raad toestemming gegee vir ’n interim-maatreël wat fakulteite toelaat om die taalriglyne vir akademiese modules met “buigsaamheid” toe te pas.

Die interdik dien as tussentydse maatreël totdat AfriForum Jeug se aansoek om die raad se taalmosie tersyde te stel, aangehoor kan word. Dit sal met ingang van die tweede kwartaal op 29 Maart in werking tree.

Bernard Pieters, AfriForum Jeug se koördineerder aan die US, het gesê hulle is uiters teleurgesteld dat die US-bestuur studente en lede van die publiek tot op hede onder ’n wanindruk laat verkeer het.

“Ons hoop studente sal van die begin van volgende kwartaal af kan klasloop soos wat daar in die jaarboek aan hulle beloof is,” het hy gesê. “Dit is ’n groot oorwinning vir Afrikaans en moedertaalonderrig. Ons hoop om dieselfde te sien vir ander tale en dat dit nie ’n eksklusiewe oorwinning vir Afrikaans sal wees nie.”

Die US het Vrydag in ’n verklaring aan studente gesê die universiteit het in Februarie reeds met ’n amptelike proses begin om die taalbeleid en -plan van 2014 te hersien.

“Die proses sal volgens die voorgeskrewe prosedure verloop en sal konsultasie met die US se belangegroepe insluit,” lui die verklaring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.