Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
US: ‘Hof bevestig beleid wil nie met Afrikaans wegdoen’

Die Universiteit Stellenbosch (US) het die uitspraak van die konstitusionele hof ten gunste van sy taalbeleid verwelkom en sê dit bevestig dat hy met dié beleid nie probeer om met Afrikaans weg te doen nie.

Die hof het Donderdag die aansoek van die veldtog Gelyke Kanse om die taalbeleid tersyde te stel en met die 2014-beleid te vervang, van die hand gewys.

Die Universiteit Stellenbosch se Ou Hoofgebou. Foto: Leanne Stander

Volgens die US bevestig die uitspraak ook die doel van sy taalbeleid, naamlik “om toegang tot die universiteit en meertaligheid te bevorder, en die akademiese en beroepsukses van studente en personeel te ondersteun”.

Die hof het ook bevind die proses in 2016 om die beleid te aanvaar, was “deeglik, omvattend en inklusief” en dat behoorlike oorlegpleging plaasgevind het, lui ’n verklaring wat die US Donderdagmiddag uitgereik het.

“Die US neem kennis van die hof se verwysing na die beskerming van minderheidstale. Buiten die gebruik van Engels, is ons verbind tot die gebruik van Afrikaans en isiXhosa.”

Daarby het die hof bevind dat die taalbeleid nie daarop uit is om Afrikaans “op enige manier te elimineer” nie, sê die US.

“Dit is ook die US se ervaring dat die toepassing van dié taalbeleid bevestig dat daar aan die eis van meertaligheid voldoen word – ook wat betref die besondere plek van Afrikaans in onderrig, die administrasie en in die leefomgewing aan die US.”

Dié beleid maak deel uit van die bevordering van ’n “transformerende studente-ervaring” soos uiteengesit in die US se Visie 2040 en strategiese raamwerk.

“Deur die gebruik van meer tale word toegang en inklusiwiteit bevorder. Sowel Engels as Afrikaans word as onderrigtale gebruik – Engels sodat niemand uitgesluit word nie, en Afrikaans omdat daar steeds ’n vraag na onderrig in Afrikaans is.”

Gelyke Kanse, Danie Rossouw, prokureur namens Gelyke Kanse, die president van die US-konvokasie en vyf studente is as die applikante gelys en die US en die voorsitters van die US se raad en senaat as respondente.

Gelyke Kanse het die konstitusionele hof genader nadat die hooggeregshof in Kaapstad in 2017 teen hom beslis het.

In ’n minderheidsuitspraak het die hof egter beklemtoon dat Afrikaans behoue moet bly en ander inheemse tale ook ontwikkel moet word, berig Christiaan Du Plessis.

’n Banier van die veldtog Gelyke Kanse.Foto: Facebook

Dié uitspraak doen ’n beroep op die burgerlike samelewing om bystand te lewer om private instellings van onderrig te skep.

Die taalbeleid van 2014 het Afrikaans en Engels gelykgestel, maar met die 2016-beleid geniet Engels voorkeur as onderrigtaal terwyl Afrikaans aangebied word waar dit redelik en prakties is.

Regter Johan Froneman het gesê die 2014-beleid het swart studente uitgesluit en dat die redes wat die US verskaf het om die beleid aan te pas, geldig is.

Die US verduidelik in sy verklaring dat Afrikaans en Engels vir voorgraadse modules die tale van leer en onderrig is en dat afsonderlike lesings aangebied word waar dit “redelikerwys uitvoerbaar” is.

In lesings waar albei tale gebruik word, word alle inligting minstens in Engels oorgedra en aangevul met Afrikaans.

Vir eerstejaarmodules is intydse tolking tydens die lesing beskikbaar en word tolking met verdere studiejare op versoek van die fakulteit gebruik.

“Voorgraadse lesings kan in een taal aangebied word net waar die aard van die leerstof dit regverdig, die dosent slegs in een taal kan klas gee, of die klasgroep per stembrief eenparig vir een taal stem.”

Studente sal ook steun in albei tale ontvang en alle verpligte leesstof buiten gepubliseerde materiaal sal in Engels en Afrikaans beskikbaar wees.

Op voorgraadse vlak word vraestelle ook in albei tale opgestel en kan studente hul werk in albei tale indien.

“Die meertalige model ondersteun Afrikaanse studente wat in hul eerste studiejaar nog nie Engels op ’n akademiese vlak bemeester het nie. Ons vertrekpunt is kennisoordrag deur meer as een taal, ingestel op die behoeftes van studente.”

Teen die finale studiejaar behoort studente dan in staat te wees om in Engels op nasionale en internasionale vlak te kan meeding, “waar dít die taal van besigheid en ander interaksies is”.

• Die volle uitspraak van die hof kan HIER gelees word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.