Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
US ís op regte pad, sê rektor aan parlement
Prof. Wim de Villiers Foto: Lerato Maduna

Die Universiteit Stellenbosch (US) het ondanks daarvan dat die afgelope twee jaar ’n “taai en komplekse” periode vir dié instelling was, goeie vordering met onder meer sy taalbeleid en transformasie gemaak.

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, het Woensdag so aan die parlementêre portefeuljekomitee oor hoër onderrig en opleiding gesê.

Dit was ten tyde van ’n sitting waarin die US se topbestuur aan die parlement moes verslag doen oor die jongste verwikkelinge ten opsigte van die inwerkingstelling van sy nuwe parallelmediumtaalbeleid, sy transformasieplan, sowel as die veiligheid en sekuriteit van studente op kampus, en die uitbreiding van studentebehuising.

Connie September, voorsitter, het ten tyde van die sitting namens die komitee hul medelye uitgespreek met die universiteit en naasbestaandes van die vermoorde Matiestudent Hannah Cornelius (21), sowel as oor die aanranding van nog ’n student, Cheslin Marsh, in dieselfde voorval.

De Villiers het gesê as daar teruggekyk word na 2016, het die #FeesMustFall-veldtog die hele sektor geraak.

Die grootste les wat ons geleer het, is dat opponerende verhoudings werklik verloor-verloor-verhoudings is wat alle partye duur te staan laat kom
Prof. Wim de Villiers, rektor

“Die grootste les wat ons geleer het, is dat opponerende verhoudings werklik verloor-verloor-verhoudings is wat alle partye duur te staan laat kom.”

Hy het erken dat die afgelope twee jaar “ ’n taai en komplekse” periode vir die US was.

“Ek glo ons het uitstekende vordering gemaak deur ’n aantal belangrike beleide goedgekeur te kry soos ons nuwe taalbeleid, ’n beleid van gelyke indiensneming, ’n nuwe toelatingsbeleid, sowel as ’n beleid oor onregverdige diskriminasie en teistering en ’n nuwe studentetugkode.”

Volgens De Villiers het die US ook ’n uitgebreide en gediversifiseerde bestuurspan saamgestel “om ons die beste kans te bied om vorentoe te kan beweeg”.

Hy sê hoewel die US volgende jaar sy 100ste bestaansjaar vier, “het ons egter nog ’n lang pad om te stap”.

“Vir ons as universiteit is dit wat ons nastreef uitnemendheid en relevansie. Ons reis is egter nog nie voltooi of perfek nie. Ons is verbind tot ons reis van transformasie met ons rolspelers.”

Prof. Nico Koopman, viserektor van maatskaplike impak, transformasie en personeel, het gesê transformasie is ’n hoëvlakprioriteit vir die US.

“Ons het daarom nou ’n viserektor vir transformasie aangestel. Vanaf 1 Julie sal ’n senior direkteur vir transformasie ook by ons werksaam wees.”

Volgens Koopman is ’n transformasiekantoor ook ’n begrotingsprioriteit, terwyl ’n nuwe transformasiekomitee die transformasieproses lei en monitor.

Ons probeer regtig om die motto van geen finansiële uitsluiting te laat realiseer waar daar akademiese meriete is
Prof. Nico Koopman, viserektor
Prof. Nico Koopman

“Ons transformasieplan is in Maart vanjaar ook eenparig deur die senaat aanvaar.

“Ons probeer regtig om die motto van geen finansiële uitsluiting te laat realiseer waar daar akademiese meriete is.”

Prof. Arnold Schoonwinkel, viserektor van leer en onderrig, het gesê ’n meningspeiling in Maart vanjaar toon dat 75% van die US se studente ingesluit voel vanweë die nuwe taalbeleid.

Die nuwe taalbeleid is hersien en gefinaliseer nadat die US se raad volgens Schoonwinkel op 30 November 2015 ’n mosie aanvaar het dat “Afrikaans as taal nooit weer ’n hindernis vir enige student wat aan die US wil studeer en nie Afrikaans vlot kan praat nie, moet wees nie”.

Die nuwe taalbeleid, wat met massiewe finansiële steun gepaardgaan, is aan die begin van die 2017- akademiese jaar in werking gestel.

Schoonwinkel het bygevoeg dat ’n “inklusiewe meertalige aanbod” ’n unieke bate is wat die US van die res van die land se universiteite onderskei.

Meer oor:  Nico Koopman  |  Wim De Villiers  |  Onderwys  |  Regte  |  Rektor  |  Pad  |  Parlement  |  Us  |  Transformasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.