Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
US: Leiers se opleiding opgeskerp ná ondersoek

Die Universiteit Stellenbosch (US) gaan opleidingsprogramme vir studente en koshuisleiers ontwikkel om te verduidelik presies wat hy met meertaligheid bedoel en hoe dit toegepas moet word.

Dít kom nadat die US die ouditfirma Deloitte aangestel het om die beweerde skending van taalregte in koshuise te ondersoek.

Die US het Maandag, op die dag van ’n verhoor voor die Menseregtekommissie (MRK) oor die saak, besonderhede oor die verslag in ’n brief aan die studente bekend gemaak.

Deloitte het ondersoek ingestel na klagtes wat met die Minerva-, Irene- en Francie van Zijl-koshuis en die privaat studenteorganisasie (PSO) Capri verband hou.

Deloitte het bevind dat verskeie huiskomiteelede (HK) “nie ’n verbod op die gebruik van Afrikaans geplaas het nie”.

Luidens die brief het die HK-lede uitgesluit gevoel as gevolg van die taalgebruik toe hulle destyds eerstejaars in Minerva was en wou dus die verwelkomingstydperk in 2021 meer inklusief maak.

’n Groep het op 10 Mei teen die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid betoog. Foto: Jaco Marais

“Die meeste eerstejaars het die gebruik van Engels ter wille van inklusiwiteit tydens die verwelkomingstydperk aanvaar, maar die omvang van die toepassing is nie aanvanklik duidelik gedefinieer en oorgedra nie.

“Dit het gelei tot bespiegeling dat die verwelkomingsprogram gebruik is om Afrikaanse taalregte weg te neem.”

’n Student van die vrouekoshuis Huis Francie van Zijl op die Tygerberg-kampus het ’n amptelike klag by die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid oor ’n beweerde verbod op die gebruik van Afrikaans in die koshuis tussen 2018 en 2020 aanhangig gemaak.

Die eenheid het aanbeveel dat ’n anonieme peiling onder die studente gedoen word en die studenteleiers het daartoe ingestem. “Maar dit blyk daar was nie behoorlike kommunikasie daaroor nie, wat daartoe gelei het dat die student wat aanvanklik gekla het, gemeen het dat die pogings om die kwessie op te los vrugteloos was.”

Deloitte sê hy het “nie enige bewyse gevind wat ’n beweerde verbod op die gebruik van Afrikaans in die vrouekoshuis Irene en Capri PSO tydens die verwelkomingstydperk staaf nie”.

Die Deloitte-verslag sluit aanbevelings ten opsigte van Minerva en Huis Francie van Zijl in, maar voer aan dit kan breedweg aan die US geïmplementeer word.

Die eerste hiervan is dat koshuisleiers oor die US se taalbeleid en die implementering daarvan in koshuise, asook oor klagteprosedures met betrekking tot die gebruik van taal, opgevoed word.

Deloitte beveel ook aan dat koshuisleiers in die verwelkomingstydperk moet spesifiseer dat die gebruik van ’n gedeelde taal “’n versoek vir inklusiwiteit is en nie ’n opdrag met die doel om die regte van enige ander taal te ontken nie”, lui die brief.

Deloitte stel voor die HK moet duidelik definieer watter gedeeltes van die verwelkomingsprogram onderworpe sal wees aan die gebruik van ’n gedeelde taal, en sê studente wat ongemaklik voel om Engels te praat, moet toegelaat om hul huistaal ter wille van inklusiwiteit te laat tolk.

Deloitte stel ook voor dat eerstejaars ingelig moet word van die prosesse om klagtes, asook die relevante eskalasie-prosedures, te hanteer.

Die rektoraat het die verslag en aanbevelings van Deloitte ontvang en besluit om sensitiwiteitsopleiding met betrekking tot “uitsluitende taal en gedrag” aan te bied.

“Daar sal meer opleiding plaasvind met betrekking tot die implementering van die taalbeleid in studentegemeenskappe – nie slegs tydens die verwelkomingstydperk nie, maar ook in die verloop van die eerste en daaropvolgende jare.

“Die inligting oor die taalbeleid in die US se institusionele verwelkomingsboekie sal uitgebrei word om ’n beter verduideliking van die proses vir klagtes te verskaf.

“Tweejaarlikse verslagdoening oor die implementering van taal sal vanaf die tweede semester van 2021 in studentegemeenskappe ingestel word. Hierdie verslae sal dieselfde verslagdoeningsproses volg as wat tans met betrekking tot fakulteitsverslae gebruik word.”

Die US sê hy het ’n opvolgverslag na aanleiding van sy eerste verskyning voor die MRK ingedien en het die Deloitte-verslag aan die kommissie verskaf.

Getuienis deur klaers, belanghebbendes en koshuisleiers gaan Maandag en Dinsdag in Stellenbosch voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.