Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
US lê brandstigting-klag by polisie
Stakende werkers betoog vandeesweek op die kampus van die Universiteit Stellenbosch. Foto: Jaco Marais

Die Universiteit Stellenbosch (US) het ’n saak van brandstigting en saakbeskadiging by die polisie aanhangig gemaak nadat betogers Donderdag ’n kantoor in sy Administrasiegebou B aan die brand gesteek het.

Aanvanklike aanduidings is dat die skade aan die gebou en kantoor R300 000 beloop.

’n Groepie betogers het na bewering omstreeks 22:00 ’n petrolbom in die kelderverdieping van dié gebou gegooi.

Die brandalarm is geaktiveer en sekuriteitspersoneel en nooddienste het die brand geblus. Die kantoor is vernietig, maar niemand is in die voorval beseer nie.

’n Motor wat aan ’n student behoort, is ook aan die brand gesteek, maar sekuriteitspersoneel kon daarin slaag om ook dié brand te blus en slegs dele van die voertuig is beskadig.

Luidens ’n verklaring van die universiteit beskou die bestuur die voorval in ’n baie ernstige lig.

“Hierdie is nie protes nie, dit is misdadige optrede – en is daarom totaal en al onaanvaarbaar. Ons het ’n verpligting om die universiteit en sy mense te beskerm en sal nie huiwer om dit te doen nie. Ons sal ook dissiplinêr optree teen universiteitspersoneel en studente wat hul aan hierdie tipe gedrag skuldig maak,” het prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier, gesê.

Onbevestigde berigte is dat die brandstigters voormalige werknemers is van maatskappye wat deur die US gekontrakteer is.

Die polisie ondersoek die voorval en sekuriteit by die administrasiegeboue is uitgebrei.

’n Staking deur die US se werkers duur Vrydag voort. By minstens een koshuis moes die huiskomiteelede vir studente kospakkies maak uit dit wat hulle uit die kombuis bymekaar kon maak. Klasse en akademiese aktiwiteite op die kampus gaan voort, maar personeel en studente is versoek om te alle tye waaksaam te wees.

Werkers betoog teen die aflegging van 150 kollegas wat weens beweerde onwettige optrede tydens verlede jaar se betogings teen uitkontraktering afgelê is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.