Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Vonke spat oor planne vir Stellenbosch-manskoshuis
Die vleuel van die Huis Marais-manskoshuis wat die tuiste van studente van gemengde geslag gaan word. Foto: Argief

Dawid veg teen Goliat, maar Dawid se arms is vasgebind en sy bene by sy knieë afgesit.

So beskryf voormalige inwoners hul gevoel oor die Universiteit Stellenbosch (US) wat “in alle waarskynlikheid” die manskoshuis Huis Marais van gedaante laat verander.

Die koshuis kry vir ’n tweede agtereenvolgende jaar geen nuwe eerstejaars nie en inwoners word gedwing om na ’n vleuel van die koshuis te trek om plek te maak vir ’n splinternuwe “gemeenskap”.

Die indruk onder inwoners en belanghebbendes is dat die oorblywende 150 huidige Huis Marais-inwoners waarskynlik sal gradueer en dat die koshuis, gestig in 1947, na verwagting nie sal voortbestaan nie.

Sekere inwoners van Huis Marais het verlede jaar aan die US-bestuur geskryf en gesê hulle voel ontuis.

Die US het sy rektoraat se besluit Maandagaand in ’n brief aan alle studente oorgedra en gesê hy beplan om die inwoners van ’n gedeelte van die koshuisgebou te vervang met “ ’n nuwe, meer inklusiewe gemeenskap van gemengde geslag” met plek vir 90 vroulike en 68 manlike studente.

Die nuwe gemeenskap sal dus in een vleuel van die koshuis woon, terwyl die huidige Huis Marais-inwoners na ’n kleiner, meer moderne vleuel trek.

Die vleuel waarna die Huis Marais-manstudente nou moet trek, is dieselfde vleuel waar vroue van die koshuis Huis ten Bosch (HTB) vir ’n kort tydperk vanjaar (vóór die staat van inperking begin het) gewoon het omdat die HTB-gebou in ’n brand beskadig is.

Die US het in Oktober verlede jaar gesê hulle is van mening dat Huis Marais ’n “swak en problematiese etos” het wat onmiddellik verander moet word. Om te wys hoe ernstig hulle is, het hulle besluit om geen nuwe eerstejaars vir 2020 in die koshuis te plaas nie.

“Sekere inwoners van Huis Marais het verlede jaar aan die US-bestuur geskryf en gesê hulle voel ontuis,” sê prof. Arnold Schoonwinkel, viserektor vir onderrig en leer.

Daar was glo ook ’n voorval waar inwoners van die koshuis foto’s gemanipuleer het om ’n prominente vrouefiguur in hul binnekring te verneder te midde van konflik tussen die partye.

Die inwoners en leierskap van Huis Marais, ’n koshuis wat onlangs baie suksesvol was op kultuur- en sportgebied, sê hulle het sedertdien herhaaldelik om verskoning gevra en talle daadwerklike pogings aangewend om te voldoen aan die US se verwagtinge, maar Maandagaand moes hulle saam met die res van die studentekorps uitvind hulle koshuis se voortbestaan is in gedrang.

Huis Marais-primarius Stander Terblanche. Foto: Instagram/Huis Marais

Dié wat in Huis Marais gewoon het of tans daarmee verbind is, is geskok, moedeloos en kwaad om hierdie nuus te ontvang en meen hulle voer ’n verlore stryd.

“Ons het verlede jaar al gesê hulle moet verander, anders sal hulle nie eerstejaars kry nie,” sê Schoonwinkel. “Ná hul tyd vir introspeksie het dit weer duidelik geword dat daar nie ’n duidelike nuwe visie is wat strook met die universiteit s’n nie.”

‘Koshuis probeer verbeter’

Volgens Stander Terblanche, primarius van Huis Marais, het hulle sedert Oktober verlede jaar, asook voor en midde-in die inperking, alles in hul vermoë gedoen om die situasie reg te stel, selfs met ’n drasties verminderde getal inwoners.

“Die US het gesê ons moet self vasstel wat die probleme is met ons etos. Ons het toe begin deur ons verhouding met ons inwonende hoof, met wie daar voorheen geskille was, te probeer verbeter,” lui ’n verslag deur Terblanche, wat in Mei vanjaar aan die US gestuur is nadat die bestuur gevra het vir inligting oor hul vordering. Netwerk24 het die verslag onder oë gehad.

“ ’n Vraelys is aan alle inwoners gestuur vir terugvoering oor waar ons kan verbeter, en elke huiskomiteelid (HK) het gefokus op ’n sekere groep studente om hul terugvoering te kry. Ons het vergader met leiers van verskillende groepe soos die teengeslagsgeweld-beweging wat insigte gebied het.

“Toe het ons ’n plan beraam om die etos te hervorm in verskeie stappe wat onder meer taalkwessies, geslagsverhoudinge, kultuurverskille, interkulturele kennis en sosiale verantwoordelikheid takel.”

Die leierskap het ook ’n buddy-stelsel ingestel waar twee inwoners van verskillende agtergronde bymekaargebring word om meer van mekaar te leer.

Tydens die inperking het die leierskap volgens Terblanche voortgegaan met digitale byeenkomste en geleenthede vir herbesinning. Dit word ook weerspieël in die koshuis se sosialemedia-plasings waar hul deelgeneem het aan die internasionale beweging #blackouttuesday teen rassisme.

Pogings deur leierskap is ‘heeltemal onvoldoende’

Maar die US hou vol dat dié pogings van die afgelope 11 maande “heeltemal onvoldoende was”.

Prof. Arnold Schoonwinkel, US-viserektor vir onderrig en leer. Foto: sun.ac.za

Schoonwinkel sê nie al die kwessies word in die dokument wat Terblanche saamgestel het, getakel soos deur die US versoek nie. Hy sê volgens die US was daar te min inligting oor hul vordering, ondanks die feit dat die verslag 26 bladsye lank is.

“Dit is teleurstellend dat die geleentheid nie gebruik is nie,” sê Schoonwinkel. Volgens hom blyk dit dat die “dominante, invloedryke groep van leiers” nie verstaan watter veranderinge die universiteit wil sien ten opsigte van die gelyke behandeling van verskillende bevolkingsgroepe, respek vir vroue en die bevordering van die verantwoordelike gebruik van alkohol nie.

Volgens Schoonwinkel was daar weer vanjaar voorvalle van alkoholgebruik “op ’n uitdagende wyse” in Huis Marais nadat die US dit vroeër verbied het.

Terblanche sê die koshuis is baie ernstig daaroor om hierdie beleid te gehoorsaam en hy is nie bewus van ’n spesifieke voorval wat plaasgevind het nie.

Schoonwinkel sê: “Ek hoop dis baie duidelik dat ons sê dit is ’n groep van leiers, nie noodwendig die formele leierskap of ’n identifiseerbare groep nie. Ons probeer om nie almal te straf nie.”

Huis Marais ‘bepaal self toekoms’

Volgens Schoonwinkel hang dit van die huidige Huis Marais-inwoners af of hul studentegemeenskap sal voortbestaan, en hoe dit sal lyk.

“Die US poog om die gemeenskap te laat aangaan met introspeksie, maar ons skep ook ’n nuwe gemeenskap in die gebou waar daar nie eerstejaars gaan intrek nie,” sê hy.

Schoonwinkel erken egter dat sodra die “gemeenskap” van gemengde geslag volgende jaar by die vleuel intrek, hulle beslis nie weer gaan uittrek om die gebou enkelgeslag te maak nie, afgesien van enige veranderinge wat die Huis Marais-gemeenskap maak.

Dit wil voorkom asof die Huis Marais-inwoners twyfel of hulle ooit genoeg kan doen om hul koshuis te red.

Terblanche sê in sy skrywe aan die bestuur: “Ons het tot die besef gekom dat ons beslis op ’n aansienlike agtervoet is teen die institusionele wil en mag van ’n magtige entiteit soos die US. Ons weet dit, en ons het dit eerstehands ervaar.”

Honderde steun versoekskrif teen US

Huidige en oudinwoners is ernstig hierteen gekant en het hul ontevredenheid in ’n aanlyn versoekskrif uitgespreek wat teen Dinsdagaand deur byna 1 000 mense onderteken is.

“Die Huis Marais soos ons dit geken het, is effektief verby,” lui die petisie. “Hierdie besluit is geneem sonder enige verdere konsultasie met die huidige inwoners en leiers.

Rugbytruie hang voor ’n voordeur van Huis Marais. Foto: Instagram/Daniel Goosen

“Daar is baie moeite gedoen en Huis Marais het ’n uitgebreide verslag verskaf oor hul vordering. Huis Marais het ook gevra dat hulle toegelaat word om verdere insette te lewer en om geraadpleeg te word voordat die US enige drastiese besluite neem.

“Die US het egter stilgebly en geen verdere kommentaar gelewer of leiding gegee nie, en ná ’n tydperk van byna vyf maande vorendag gekom met hul finale antwoord, wat hul voormelde besluit is.

“Deur hierdie versoekskrif teen die US se beslissing te onderteken, steun u die argument dat Huis Marais ’n manskoshuis moet bly met eerstejaarstudente vir 2021.”

’n Gesiene oud-inwoner van Huis Marais, wat anoniem wil bly, het bevestig dat ’n sterk, diverse groep oudstudente wesentlike pogings aanwend om met die US oor die saak te onderhandel.

Schoonwinkel sê: “Dit word altyd verwelkom. Oud-inwoners wat ’n begrip het van waar die koshuis vandaan kom en waarheen hy moet gaan, kan help om te sorg dat ons in die voortgesette Huis Marais die regte etos het”.

View this post on Instagram

Our Diversity Committee 2019!

A post shared by Huis Marais (@huismarais) on

Meer oor:  Huis Marais  |  Us
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.