Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
US-mosie maak deur oop vir Engels al dreig regstappe
Die Universiteit Stellenbosch (US) se regsfakulteit. Foto: Leánne Stander

Die raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het Saterdag ondanks waarskuwings dat hy homself aan regsaksie blootstel ’n mosie aanvaar wat die weg baan vir Engels om voortaan as primêre voertaal gebruik te word.

In wat as ’n spanningsvolle vergadering van agt uur lank beskryf is, het die US-raad toestemming gegee vir ’n interim-maatreël wat fakulteite toelaat om die taalspesifikasies vir akademiese modules met “soepelheid” toe te pas.

Die amptelike mosie bepaal dat tale só gebruik word dat geen student van ’n lesing uitgesluit word nie en dat die gebruik van Afrikaans in lesings “verseker, bevorder en aangemoedig sal word”.

Die bewoording van die mosie gee die US-bestuur effektief toestemming om in die interim met ’n taalplan te werk te gaan wat besluite soos dié van die regs- en ingenieursfakulteite om Engels as primêre taal te gebruik, ondersteun. Dít ondanks die feit dat dit ’n verbreking sal wees van ’n skikkingsooreenkoms met AfriForum Jeug, waarin die US ooreengekom het om sy taalbeleid en -plan soos in 2014 aanvaar, toe te pas.

Netwerk24 verstaan die regsadvies aan die raad was dat afwyking van die huidige taalbeleid gronde vir ’n nuwe hofaansoek is wat “in alle waarskynlikheid suksesvol sal wees”.

As verweer is daar aangevoer dat “dringende omstandighede” wat die US dwing om van die huidige taalbeleid af te wyk, die skikking met AfriForum Jeug negeer.

Die raadsvoorsitter, George Steyn, het die vergadering voor die stemming vir die mosie daaraan herinner dat ’n ja-stem ook ’n stem vir moontlike regsgevolge sal wees.

Die mosie is desondanks aanvaar, met slegs ses stemme daarteen, en een lid wat buite stemming gebly het.

“Die enigste afleiding wat gemaak kon word is dat die bestuur bang is vir reaksie – dié kan net van Open Stellenbosch wees,” het een raadslid op voorwaarde van anonimiteit, gesê. “Vanuit ’n regsoogpunt was die besluit nie rasioneel nie. Die reputasie en geloofwaardigheid van die raad gaan aan skerwe lê nadat ’n hof beslis het die universiteit kom nie ooreenkomste ná nie en volg nie sy eie prosedures nie.”

Verskeie raadslede het ook gedreig om uit die raad te bedank indien ’n mosie om ondersoek in te stel na die regsfakulteit se onlangse afwykings van die taalbeleid en -plan nie aanvaar word nie.

Netwerk24 verstaan verskeie lede het te kenne gegee dat hulle nie hul weg oopsien om verder op die raad te dien indien daar nie so ’n ondersoek geskied nie.

Die doel van die ondersoek is om ’n bevinding te maak oor hoe dié afwykings ontstaan het, en aanbevelings te maak oor hoe om dit in die toekoms te hanteer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.