Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
US onttrek dosent uit klas oor taaldispuut

’n Dosent aan die Universiteit Stellenbosch (US) se opvoedkunde-fakulteit, wat bekend is vir haar sterk standpunt oor die gebruik van Afrikaans in klasse, is van Vrydagmiddag af ná haar uitsprake oor rasse-integrasie in een van haar klasse uit ’n klas onttrek.

Die Universiteit Stellenbosch se opvoedkunde-fakulteit op die Matie-kampus. Foto: Verskaf

Karlien Conradie, wat opvoedkundige sielkunde in die nagraadse onderwyssertifikaat-program aanbied, het aan die begin van Maart studente gehad wat uit haar klas geloop het omdat sy die inleiding tot haar klas in Afrikaans aangebied het.

’n Groep studente het aan die begin van die kursus beswaar gemaak teen die tolking van Afrikaans na Engels en het die gebruik van die oorfone as verwarrend bestempel. Daarna is oorgeslaan na tolking van Engels na Afrikaans met Afrikaanse opsommings en ondersteuning. Beide tolkingsopsies is deel van die taalbeleid van die US.

Die studente, wat meesal nie Afrikaans of Engels as huistaal het nie, het steeds uitgesluit gevoel gedurende die gebruik van Afrikaans en die verhouding tussen hulle en die dosent het verswak.

Intussen is ’n opname van uitsprake wat Conradie in ’n daaropvolgende klas op 12 April gemaak het tussen die studente versprei.

Luister hier na die opname op die studente-nuuswebwerf van die US se departement van joernalistiek, MatieMedia. 

In die opname word Conradie gehoor terwyl sy oor rasse-integrasie praat. “Ek glo in integrasie, in menslike integrasie. Ek glo nie daarin dat dié goed gedwonge moet wees nie. Dit is kunsmatig. Dankie, ek wil dit nie hê nie,” is van Conradie se woorde in die klas.

Die opname is onduidelik. Daar kan gehoor word hoe Conradie verder sê sy wil mense ontmoet omdat sy hulle in die oë wil kyk en iets deel, nie omdat hul rasse verskil en hulle moet integreer nie. “Ag nee... scary... dit is kunsmatig... wie leef so?” kan verder in die opname gehoor word.

Die stem van ’n student wat nader aan die opnemer sit, kan gehoor word wat sê: “O nee... ek kan nie in die klas wees nie.”

Volgens MatieMedia het Conradie in kommentaar op haar uitsprake in die klas gesê dat kommentaar wat akademies en teoreties gegrond is, kan bruikbaar wees om deduktiewe denke te stimuleer en tot nadenke oor bepaalde vakgerigte beginsels en prosesse te lei. In dié geval was dit oor die identiteitsontwikkeling tydens adolessensie, die proses van sosialisering en sosiale identiteit.

Prof. Johan Malan, waarnemende dekaan van die opvoedkunde-fakulteit, het besluit om die klas tydelik in ’n Afrikaanse en Engelse groep te verdeel om die spanning te ontlont. Die verdeelde klas is egter net een keer aangebied en van volgende week af sal daar weer net een klas wees.

Dit gaan toenemend so wees dat klassituasies nie meer homogeen sal wees nie.
Prof. Johan Malan, waarnemende dekaan van die opvoedkunde-fakulteit.

“Ons het dié besluit geneem weens die gespanne situasie tussen die dosent en die beswaarde groep studente.

“Die situasie oor die taalgebruik het eintlik al vroeër met die begin van die kursus in die klas ontstaan. Die verhouding tussen die beswaarde groep studente en die dosent het in die proses verswak,” het Malan gesê.

Hy het ook verwys na die opname wat van haar uitlatings in die klas gemaak is en Donderdag beskikbaar geword het.

“Bevestiging moes gekry word of die aanmerkings aanstoot gee of nie. Ons het besluit die getuienis is van so ’n aard dat ons beslis die saak moet ondersoek. Daar is op ’n formele ondersoek in terme van arbeidsverhoudinge-voorskrifte ooreengekom,” het Malan gesê.

Hy het gesê die doelwit was om so gou as moontlik na ’n enkele klasaanbieding terug te keer. “Onderwysers moet juis leer hoe om op te tree in onderrigsituasies wat gekenmerk word deur diversiteit wanneer hulle self voor ’n klas gaan staan.”

Hy het gesê dit is nie ’n geval van rassespanning in die klas nie. Daar is wit studente wat teen die uitsprake van die dosent is en daar is swart studente wat haar steun.

“Dit is nie ’n wit-en-swart-kwessie nie. Die kern van die probleem is dalk onsensitiwiteit wat binne die geskiedenis van die verhoudinge tussen wit en swart verstaan moet word,” sê Malan.

Hy het bygevoeg dat die fakulteit nie wegskram van inklusiwiteit nie – dit is juis die teenoorgestelde. Die hele gedagte is dat die fakulteit juis inklusiwiteit bevorder.

“Dit gaan toenemend so wees dat klassituasies nie meer homogeen sal wees nie,” sê Malan.

* Martin Viljoen, woordvoerder van die US, het gesê Conradie het bevestig dat sy nie vir kommentaar beskikbaar is nie.

Meer oor:  Onttrek  |  Universiteit  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.