Die Universiteit Stellenbosch (US) se raad gaan by die hersieningsproses van die taalbeleid ingryp voordat dit te laat is om sy eie veranderings aan die konsepbeleid aan te bring.
Die raad het Maandagaand op ’n vergadering eenparig ’n mosie aanvaar om voor die einde vandeesmaand ’n buitengewone vergadering te belê sodat hy sy eie
prinsipiële standpunte oor die taalbeleid kan formuleer en dit aan die taalkomitee aan die stuur van die hersieningsproses kan deurgee.
“Daar is lankal ongemak met die feit dat die raad die konsepbeleid eers teen die einde te sien kry en dan nie meer enige veranderings kan aanbring nie,” het een
raadslid anoniem aan Netwerk24 gesê. “Dan is ons net ’n rubberstempel op ’n proses waaroor ons geen beheer gehad het nie en is dit uiteindelik nie eintlik die raad se beleid nie. Die onverbonde lede van die raad sal dan moet gaan met wat die bestuur van die begin af wou deurdruk.”
Dié mosie is aanvaar nadat ’n eerste mosie om die hersieningsproses in sy geheel te staak met veertien stemme teenoor tien afgestem is.
“Die probleem is dat die proses eintlik verkeerdom begin het,” het nog ’n raadslid gesê. “Die US-bestuur het self die hersieningsproses geïnisieer en nie die raad nie.
So, daarom was dit belangrik vir die raad om te sê alvorens die finale konsep aan die Institusionele Forum en die senaat voogelê word, hy ook ’n geleentheid moet hê om insette te lewer. Dit het redelike argumentering gekos om almal te oortuig, maar daar was ’n ingesteldheid om middelgrond te bereik.”
’n Derde raadslid het gesê dat die raad van mening is dat die US se meertaligheid ononderhandelbaar is en Afrikaans se posisie beskerm móét word.
“Daar gaan ’n punt kom waar universiteite nie meer die hoeveelheid aansoeke wat hulle kry, gaan kan hanteer nie. Dan moet die US die beste breinkrag kan lok.
Sy meertalige karakter is een manier om dit te doen. Die vraag is hoe skryf jy dit in ’n beleid in sonder om sekere groepe te laat dink jy streef eintlik nog die
bevoorregting van Afrikaans na.”
Die raad se besluit om die hersieningsproses te laat voortgaan, beteken AfriForum Jeug se hofaansoek om ’n tussentydse interdik om die proses op te skort, sal
voortgaan. Die twee sal mekaar op 19 Mei weer in die hof sien.