Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
US-raad kritiseer ‘eensydige’ beriggewing oor hofsaak
George Steyn, voorsitter van die Universiteit Stellenbosch (US) se raad. Foto: Verskaf

Die Universiteit Stellenbosch (US) se raad het hom die afgelope naweek sterk oor die “selektiewe en eensydige rapportering” van die verloop van AfriForum Jeug se hofsaak teen dié universiteit uitgespreek.

Dít kom nadat AfriForum Vrydag advertensieboodskappe in die sosiale media uitgestuur het wat lui: “AfriForum Jeug red Afrikaans op Maties” en “AfriForum Jeug wen weer in hof teen US”.

Die hooggeregshof in Kaapstad het verlede week ’n bevel uitgereik waarvolgens AfriForum Jeug sy aansoek om regshulp om die hersieningsproses van die US se taalbeleid ter syde te stel, teruggetrek het.

Die hof het ook die tussentydse interdik van 11 Maart – waarvolgens die US verplig word om sy huidige taalbeleid toe te pas totdat daar ’n nuwe beleid is – finaal gemaak.

AfriForum Jeug se berig lui egter dat regter Kate Savage se uitspraak verlede week “die US nou verplig om sy taalbeleid en -plan in werking te stel, sowel as die taalspesifikasies wat in die 2016-jaarboek gepubliseer is”.

“Wat in dié berig verswyg word, is dat AfriForum Jeug en vyf ander applikante kort voor die aanhoor van hul aansoek – dat die US die hersiening van sy taalbeleid moet staak – hul aansoek in die geheel teruggetrek het,” het George Steyn, US-raadsvoorsitter, in ’n verklaring gesê.

Steyn het ook uitgevaar teen enkele raadslede wat die raad, bestuur en hersieningsproses onder verdenking plaas.

“Die hersiening van die US se taalbeleid is ’n proses wat nog aan die gang is, en die konsepbeleid is steeds net ’n werkdokument. Dit is ’n komplekse saak met menige standpunt en bydrae.

“Daarom is dit jammer dat enkele raadslede, strydig met die raad se gedragskode, doelbewus die raad, die bestuur en die proses via die Afrikaanse media onder verdenking plaas,” het hy gesê.

“As raadslede is dit ons verantwoordelikheid om die belange van die US se studente, dosente en professionele akademiese en administratiewe steundienspersoneel te bevorder.”

Die raad het die naweek besluit dat die universiteit se aanbod van onderrig in Engels uitgebrei behoort te word sodat geen toegelate student van die akademiese aanbod uitgesluit word nie.

Terselfdertyd moet daar verseker word dat die Afrikaanse aanbod nie verminder word nie en dat Afrikaans as onderrigtaal verder uitgebou word.

Daarmee saam het die raad hom ook uitgespreek ten gunste van ’n verbintenis tot die ontwikkeling en bevordering van Xhosa as akademiese taal.

Dié beginsels is via die viserektor vir leer en onderrig, prof. Arnold Schoonwinkel, aan die taalhersieningswerkgroep oorgedra.

Die raad sal die geleentheid hê om die volle nuwe konsepbeleid deeglik te bestudeer voordat hy dit op 22 Junie moet aanvaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.