Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
US-rektor van blaam onthef ná ondersoek

Prof. Wim de Villiers, rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), is van enige blaam onthef ná ’n ondersoek na beweringe dat hy probeer inmeng het in die konstitusionele hof se saak oor die US se taalbeleid, deur oudregter Edwin Cameron te probeer oorreed om die benoeming vir die kanseliersverkiesing te aanvaar.

Oudregter Burton Fourie het bevind dat “daar geen bewyse was ter ondersteuning van ’n bevinding dat die optrede van De Villiers oor die benoeming van Cameron vir die amp van kanselier by die universiteit ’n ernstige oortreding van die reg, of ernstige wangedrag uitgemaak het nie”.

Fourie se verslag is gister by die laaste raadsvergadering bekend gemaak.

Volgens hom toon die bewyse dat De Villiers, soos hy verplig was om te doen, gehelp het – en selfs die leiding geneem het – om geskikte kandidate vir die benoeming van ’n nuwe kanselier te identifiseer.

Prof. Wim de Villiers, US-rektor. Foto: EikestadNuus

In reaksie op die bekendmaking van die verslag sê De Villiers hy het nie met die regsproses ingemeng nie.

“Ek is tevrede dat ek in absolute goeie trou opgetree het, en dat die verkiesingsproses korrek verloop het. Dit is nou deur die ondersoek bevestig,” sê hy.

“Al waaroor ek spyt is, is dat daadwerklike pogings om my en die universiteit verdag te maak, ook aanvalle op oudregter Cameron, die ander regters en die prosesse van die konstitusionele hof ontketen het.

“Nie ek of enigiemand anders het enige geheime of onderduimse bedoelings gehad toe ons oudregter Cameron probeer oortuig het om homself as kanseliers­kandidaat beskikbaar te stel nie,” sê De Villiers.

“Daar was geen poging tot geheimhouding nie. Dit was algemene kennis dat ’n aantal vooraanstaande US-alumni, insluitende lede van die US se rektoraat, oudregter Cameron as ’n uitstekende kandidaat vir die verkiesing van ’n nuwe kanselier beskou het.

“Dit is ook heeltemal onrealisties om aan te voer dat een mens soveel invloed kon uitoefen om ’n hele regbank van tien vooraanstaande regters van die konstitusionele hof daarvan te oortuig om ten gunste van die Universiteit Stellenbosch te beslis, en alle lede van dié kieskollege – buiten twee – om vir regter Cameron te stem,” sê De Villiers.

Fourie is aangestel om ’n onafhanklike ondersoek te lei ná ’n klagte teen De Villiers.

In ’n brief aan die instelling, op 24 Oktober vanjaar het dr. Leon Schreiber, ’n US-alumnus, die raad versoek om die bewerings te ondersoek dat De Villiers by die hofsaak probeer inmeng het deur Cameron te probeer oorreed om die benoeming vir die kanseliersverkiesing te aanvaar.

Dit volg nadat die konstitusionele hof op 10 Oktober vanjaar eenparig in die guns van die universiteit beslis het in die saak waarin die US die aansoek van Gelyke Kanse, om die instelling te dwing om na die 2014-taalbeleid terug te keer, teengestaan het.

Die uitvoerende komitee van die raad het by sy spesiale vergadering op 31 Oktober besluit om ’n ondersoek te laat doen om goeie beheer, bestuur en deursigtigheid te verseker, waarna Fourie aangestel is om die ondersoek te doen. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.