Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
US se kanseliersmedalje gaan aan ‘akademiese wonder’

Die Universiteit Stellenbosch (US) se kanseliersmedalje is vanjaar toegeken aan dr. Xanthe Dawn Hunt (27) wat deur akademici van dié universiteit as ’n akademiese wonder beskryf word.

Op ’n onlangse internasionale kongres oor gestremdheid, wat in Europa plaasgevind het, is sy as ’n genie beskryf, volgens ’n verklaring van die US.

Dr. Xanthe Dawn Hunt aan wie die Universiteit Stellenbosch (US) se kanseliersmedalje Donderdag toegeken is. Foto: Verskaf

Die kanseliersmedalje word jaarliks aan ’n finalejaarstudent of nagraadse student toegeken wat nie net akademies uitnemend gevaar het nie, maar ook op verskillende wyses tot die kampuslewe bygedra en hard gewerk het aan die ontwikkeling van mede-kurrikulêre eienskappe.

Hunt het die medalje Donderdagmiddag tydens die gradeplegtigheid in die Coetzenburg-sentrum op Stellenbosch ontvang saam met haar PhD-graad in sielkunde.

Prof. Awie Greeff, voorsitter van die departement sielkunde, sê Hunt het reeds sowat 30 publikasies agter haar naam, wat meer is as wat talle akademici in die sielkunde in hul ganse loopbane verrig.

Sy is ook die eerste meestersgraadstudent in die geskiedenis van die departement wie se graad tot ’n PhD opgegradeer en as geslaag aanvaar is met geen aanpassings nie.

Nog ’n meldenswaardige hoogtepunt het tydens haar studie om die graad PhD voorgekom toe sy vir ’n kursus in biostatistiek op meestersvlak ingeskryf het, ondanks die feit dat sy nie wiskunde vir matriek voltooi het nie.

Die US sê aanvanklik wou die kursus-sameroeper haar nie tot die kursus toelaat nie, maar het tog ná ’n ruk met huiwering ingestem. Hunt het die kursus cum laude geslaag en haar punte was die tweede hoogste in die klas.

In haar studiejare, wat in 2010 begin het, het sy die volgende vererings gekry:

* Die US se politiekewetenskapeerbewys vir uitnemendheid vir ’n toppresterende eerstejaarstudent;

* Die departement Engels se eerbewys vir uitnemendheid vir ’n toppresterende eerstejaarstudent;

* Die rektorseerbewys vir akademiese uitnemendheid;

* Top-fakulteitpresteerder (drie keer aan haar toegeken);

* Die prestige-Babette Taute Engels-studiebeurs.

Hunt het elke vak waarvoor sy ingeskryf het cum laude geslaag met die uitsondering van net een diensmodule. In die eerste vyf jaar van haar studieloopbaan het sy ’n gemiddeld van 82,08% gehandhaaf.

Haar navorsing omsluit gestremdheidstudies, openbare gesondheid, monitering en evaluering van vroeë kinderjare-ingryping en akademiese kommunikasie. Sy beskik oor ’n baccalaureusgraad in die geesteswetenskappe, ’n honneursgraad in die joernalistiek én in die sielkunde, ’n meestersgraad in biostatistiek, en nou ’n PhD in sielkunde.

Sy het reeds ’n kontrak gesluit sodat haar PhD aanstaande jaar as boek gepubliseer word. Sy beoog ook om vroeg in 2019 ’n uitstalling oor haar PhD-werk in die Holocaust-sentrum in Kaapstad aan te bied.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.