Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
US-student getuig: Steeds bang om Afrikaans te praat

Een van die studente wat beweer ’n koshuis van die Universiteit Stellenbosch (US) het hul taalregte geskend, het Maandag op ’n sitting van die Menseregtekommissie (MRK) gesê sy was en is soms steeds bang om in haar koshuis Afrikaans met haar vriendinne te praat.

Die MRK hoor tot Dinsdag getuienis aan in sy ondersoek na die beweerde skending van taalregte aan dié universiteit.

Milda van Dyk
Milda van Dyk, eerstejaarstudent in die regte aan die Universiteit Stellenbosch. Foto: Ané van Zyl

Milda van Dyk (19), ’n eerstejaarstudent in die Minerva-vrouekoshuis, sê sy en haar medestudente het tydens die verwelkomingstydperk elke dan en wan om hulle rondgekyk voordat hulle iets in Afrikaans sou sê.

Sy sê dié vrees het vernaamlik tydens die verwelkomingstydperk aan die begin van die jaar geheers toe die huiskomiteelede (HK) hul daaglikse aktiwiteite gereël het.

Sy sê tydens die verwelkoming het haar kleingroepie-mentor en ’n HK-lid gesê die eerstejaars “moet meer aandag gee aan die taalbeleid van verwelkoming”.

Sy sê hulle was verplig om gedurende die verwelkomingsprogram Engels te praat, behalwe gedurende geskeduleerde vrye tyd, soos tussen 13:00 en 14:00.

Sy sê dit is nie net aan haar en haar groepie oorgedra nie, maar ook aan ander eerstejaarsvriendinne.

Die slegs-Engels-beleid het volgens Van Dyk nie net met formele aktiwiteite soos praatjies gegeld nie, maar selfs as die eerstejaars terugstap na die koshuis van ’n park af, of terwyl hul gedurende ’n groepaktiwiteit kraletjies ryg.

Sy het van ’n voorval in die Jan Marais-park vertel waar sy en ’n groep vriendinne in ’n kringetjie gestaan het en Van Dyk in haar moedertaal gesê het: “Kom ons neem ’n foto.”

Volgens Van Dyk het een van haar maats haar stilgemaak en gesê daar is ’n HK-lid naby, hulle moet Engels praat.

MRK-kommissarisse Chris Nissen (links) en André Gaum. Foto: Ané van Zyl

Sy sê die rede wat die leiers verskaf het, is om inklusief te wees en vir ingeval ’n nie-Afrikaanssprekende wil verstaan en by die gesprek aansluit.

“Hulle het gesê as ons nie bereid is om slegs Engels te praat nie, sal ons na ons kamers gestuur word,” het Van Dyk aan die MRK gesê.

“Dit beteken dan eintlik die idee van ‘verwelkoming’ is daarmee heen, want jy word dan nie meer verwelkom nie,” sê sy.

In baie gevalle as daar Afrikaans gepraat is, is dit stopgesit, het Van Dyk getuig.

Volgens haar het ’n inwoner van Minerva vroeër vanjaar in die koshuisgang gestap en op haar selfoon met haar ma gesels. Iemand het glo uit ’n kamer geskree: “English, please!”

Hulle het gesê as ons nie bereid is om slegs Engels te praat nie, sal ons na ons kamers gestuur word.

Van Dyk sê sy en ’n vriendin was ontevrede oor dié beleid. Hoewel die koshuis se primaria, Chelsea Jones, die voorval in die gang streng veroordeel het, het sy gesê Van Dyk en haar vriendin moet net uithou totdat die verwelkomingstydperk binne tien dae verby is.

Volgens Van Dyk het die probleem nie aandag gekry nie.

Van Dyk het die inwonende hoof, Mariëtha Lemmer, genader en gevra dat die HK vir die eerstejaars om verskoning moet vra vir die manier waarop hulle die reëls afdwing.

’n Vergadering tussen al die eerstejaars, Jones en Lemmer het gevolg, waar daar volgens Van Dyk verskeie meisies was wat gesê het hulle is bang om Afrikaans te praat en vrees dat hulle in die moeilikheid sal beland.

Sy sê ná die vergadering is daar aangeneem dat dinge uitgestryk en almal tevrede is.

Daar is nooit vir ons jammer gesê nie en dit het baie van ons steeds gepla.

Later is daar volgens haar weer ’n gesprek oor taal deur universiteitsbeamptes by die koshuis gevoer, maar dit was vrywillig. Sy sê die gevolgtrekking was dat verhoudings in die koshuis herstel en bewaar moet word.

“Daar is nooit vir ons jammer gesê nie en dit het baie van ons steeds gepla.”

Sy het gesê haar akademiese mentor het haar en haar medestudente ook aangeraai om so gou moontlik oor te slaan na Engels as studietaal omdat “dit net makliker is”.

Van Dyk, ’n student in die regte, het getuig sy sukkel om leermateriaal in Afrikaans te bekom omdat alle voorgeskrewe handboeke slegs Engels is.

Die verhoor gaan Dinsdag weer voort in Stellenbosch, waar verteenwoordigers van die DA en verskeie koshuise, insluitend Minerva, gaan getuig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.