Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
US-studente onthul gevare van bio-afbreekbare sigarette

Met ’n geraamde 5 600 miljard sigaretstompies wat elke jaar weggegooi word, het rook in meer as een opsig een van die hoofoorsake van omgewingsbesoedeling ter wêreld geword.

Nou het ’n groep derdejaarstudente in mikrobiologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) vasgestel dat selfs die sogenaamde omgewingsvriendelike bioafbreekbare sigarette ’n onbedoelde negatiewe uitwerking op die omgewing het.

Die groep – Elizaveta (Lisa) Koroleva, Aza Mqulwa, Scott Norris-Jones, Sidney Reed en Zahraa Tambe – se bevindings is onlangs in die joernaal Environmental Science and Pollution Research gepubliseer.

Hierdie groep mikrobiologie studente in hul derde jaar aan die Universiteit Stellenbosch, het nie net hul eerste navorsingspublikasie gepubliseer nie, hulle het ook vasgestel dat selfs bio-afbreekbare sigaretstompies ’n negatiewe invloed op die omgewing het. Van links is Aza Mqulwa, Sidney Reed, Elizaveta (Lisa) Koroleva, Zahraa Tambe and Scott Norris-Jones. Almal van hulle is tans besig met ’n BSc Hons-graad in mikrobiologie of biochemie aan die US. Foto: Wiida Fourie-Basson

Sigaretfilters word van sellulose-asetaat, ’n soort plastiek, gemaak. Wanneer jy daardie sigaretstompie op die grond gooi, is jy eintlik besig om plastiek, sowel as nikotien, swaar metale en baie ander chemikalieë wat dit geabsorbeer het, in die omgewing te stort. Die ironie is dat die einste filter oorspronklik ontwikkel is om jóú teen die skadelike gevolge van rook te beskerm.

’n Sigaretstompie kan tussen twee tot vyf jaar neem om tot mikroplastiek afgebreek te word. In hierdie tydperk loog dit swaar metale en chemikalieë uit. In ’n poging om ’n oplossing vir die mikroplastiekprobleem te vind, het verskeie maatskappye begin om “bioafbreekbare” sigarette, waarvan die filters uit natuurlike stowwe soos hennep of katoen bestaan, te vervaardig.

Die studente het egter gewonder: Indien hierdie bio-afbreekbare stompies dan soveel vinniger as hul plastiek eweknieë kan afbreek, het hulle waarskynlik ’n groter invloed op bakteriële sisteme in die grond, veral aangesien dit is waar die meeste stompies beland.

’n Groep derdejaarstudente in mikrobiologie aan die Universiteit Stellenbosch het ’n spuitnaald en wondergom gebruik om die longrookaksie van ’n sigaret te simuleer. Dit was ten einde die sigaretstompies te verkry om die invloed van bio-afbreekbare sigarette op die bakteriële samestelling van ’n grondmonster te toets. Foto: Elizaveta Koroleva

Met hierdie vrae in gedagte moes die span vorendag kom met ’n prakties uitvoerbare manier om hierdie hipotese te toets as deel van hulle derdejaarmodule: mikrobiese ekologie, in die BSc-graadprogram in molekulêre biologie en biotegnologie.

Nege weke later moes hulle hul bevindings op ’n proefmodel- akademiese konferensie bekend stel.

Die groep het bevind dat die uitloog van sowel die bio-afbreekbare as die nie-bioafbreekbare sigaretstompies elemente soos aluminium, arseen, boor, barium, kadmium, kobalt, chroom, koper, yster, kwik, mangaan, molibdeen, nikkel, lood, antimoon, selenium, tin, stronsium, vanadium en sink bevat.

Die konsentrasie van swaar metale en metalloïede in die uitloog van bioafbreekbare sigaretstompies was egter aansienlik hoër. In vergelyking met die grondmonster wat aan die uitloog van nie-bioafbreekbare stompies blootgestel is, het die uitloog van bioafbreekbare stompies derhalwe ’n betekenisvolle invloed op die samestelling van die mikrobiese gemeenskap getoon.

“Hoewel bioafbreekbare sigarette as meer omgewingsvriendelik bemark word, is die invloed wat die verhoogde metaalkonsentrasies van hierdie sigarette tot gevolg het, kommerwekkend en is dit ’n potensiële bron van toksiese besoedeling en omgewingskade,” skryf hulle in die navorsingsartikel.

Meer oor:  Universiteit Stellenbosch  |  Sigarette  |  Studie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.