Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
US-taalbeleid: Afr. en Eng voorgraads, Xhosa-inisiatiewe

Voorgraads is Afrikaans en Engels die Universiteit Stellenbosch (US) se leer- en onderrigtale, terwyl Xhosa as ’n amptelike Wes-Kaapse taal deur middel van bepaalde inisiatiewe bevorder gaan word as ’n ontwikkelende akademiese taal.

Dit blyk uit die eerste konsep van die hersiende taalbeleid wat Saterdag deur die US bekend gestel is. Die finale aanvaarde taalbeleid sal dan van 1 Januarie 2022 van krag wees.

In dié konsep word genoem taal aan die US behoort toegang tot akademiese, administratiewe, professionele en sosiale kontekste te verbreed “eerder as om ’n hindernis vir studente of personeellede daar te stel”.

Billike toegang vir almal

Met die hersiende taalbeleid word beoog om “billike toegang tot die US vir alle studente en personeellede uit te brei, meertaligheid te bevorder en verantwoordbare leer en onderrig te fasiliteer”, volgens die konsep.

Die US noem die instansie verbind hom ook, sonder om uit die oog te verloor dat die US ook gemeenskappe oor die vasteland en die wêreld heen bedien, tot meertaligheid deur die drie amptelike tale van die Wes-Kaap, naamlik Afrikaans, Engels en Xhosa te gebruik.

Oor spesifiek Afrikaans word in die konseptaalbeleid genoem die toepassing en verryking van die akademiese potensiaal van Afrikaans is ’n manier om ’n groot en uiteenlopende gemeenskap in Suid-Afrika te bemagtig.

Oor Engels word in die konsep genoem sprekers van die verskillende Suid-Afrikaanse tale gebruik Engels om met mekaar te kommunikeer, en Engels het beduidende akademiese, professionele en internasionale waarde. “Daarom gebruik die US Engels gereeld, maar nie uitsluitlik nie, in akademiese, administratiewe, professionele en sosiale kontekste.”

Met verwysing na Xhosa word genoem Xhosa is ’n inheemse taal wat deur een van die grootste taalgemeenskappe in Suid-Afrika gebruik word. Deur middel van spesifieke inisiatiewe dra die US by tot die bevordering van Xhosa as ’n ontwikkelende akademiese taal.

Volgens die konsep is een van die mikpunte van die beleid om meertaligheid as ’n belangrike kenmerk van die US te bevorder.

Só werk die beleid met onderrig

Afrikaans en Engels is die US se leer- en onderrigtale in voorgraadse studie.

• Daar is aparte lesings in Afrikaans en Engels;

• Leergeleenthede soos groepwerk, opdragte, tutoriale en praktiese werk waarby studente van verskillende taalgroepe betrek word, word gebruik om integrasie binne programme te bevorder; en

• Studente word in Afrikaans en Engels ondersteun gedurende ’n kombinasie van toepaslike, gefasiliteerde leergeleenthede.

Eerstejaars

• Vir voorgraadse modules waar sowel Afrikaans as Engels in dieselfde klasgroep gebruik word, word alle inligting in minstens Engels oorgedra, en word opsommings of beklemtoning van inhoud ook in Afrikaans voorsien;

• Vrae in Afrikaans en Engels word minstens in die taal van die vraag beantwoord; en

• Vir eerstejaarmodules stel die US gelyktydig tolking óf op die perseel óf aanlyn gedurende elke lesing beskikbaar, sowel as ’n opname van die oorspronklike, ongeredigeerde lesing en die intydse tolking daarvan.

Daaropvolgende studiejare

Gedurende die tweede en daaropvolgende studiejare stel die US gelyktydig tolking óf op die perseel óf aanlyn beskikbaar op versoek van ’n fakulteit, indien die studente se behoeftes die diens regverdig en die US oor die hulpbronne beskik om dit te voorsien.

Slegs een taal

In die volgende gevalle sal lesings in slegs een taal aangebied word:

• Waar die aard van die leerstof in die module dit regverdig, byvoorbeeld as die module oor die taal self handel; en

• Waar die toegewese dosent in slegs Afrikaanse of slegs Engelse onderrig vaardig is. Vir hierdie modules word bykomende steun voorsien met tolking.

Geheime stemming

Waar alle studente in die klasgroep genooi is om deur middel van ’n geheime stemming te stem en daardie studente wat stem eenparig daarvoor stem, sal die module in slegs Afrikaans of slegs Engels aangebied word, mits die betrokke dosente en onderrig-assistente die nodige akademiese taalvaardigheid het en instem om dit te doen.

Leermateriaal

Die leermateriaal vir voorgraadse modules word soos volg beskikbaar gestel:

• Alle verpligte leesstof word in Engels voorsien, behalwe waar die module oor die taal self handel;

• Verpligte leesstof (buiten gepubliseerde materiaal) word ook in Afrikaans voorsien, tensy dit nie redelikerwys uitvoerbaar is nie; en

• US-moduleraamwerke en -studiegidse is in Afrikaans en Engels beskikbaar.

Lees die volledige eerste konsep van die hersiende taalbeleid hier:

http://www.sun.ac.za/afrikaans/meer-oor/language

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.