Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
US: Taalbeleid gaan oor toegang, nié politiek

Die Universiteit Stellenbosch (US) hou vol dat sy beleid in 2016 aangepas is sodat taal die toeganklikheid tot die universiteit en meertaligheid sal bevorder en nie weens politieke druk of protes nie.

Die Universiteit Stellenbosch se Ou Hoofgebou. Foto: Leanne Stander

Die US het Woensdag aan Netwerk24 gesê sy huidige taalbeleid “ondersteun ook die bevordering van ’n transformerende studente-ervaring”, soos in sy visie vir 2040 en strategiese raamwerk uiteengesit is.

Die drukgroep Gelyke Kanse se aansoek om verlof om die konstitusionele hof te nader sal Donderdag aangehoor word om te appelleer teen ’n uitspraak van die hooggeregshof in 2017 ten gunste van die US in ’n hersieningsaansoek van sy taalbeleid.

Die US opponeer Gelyke Kanse se aansoek om verlof tot appèl en ’n voorwaardelike aansoek aan die appèlhof.

Volgens die US staan die vertrekpunte van sy 2016-taalbeleid “in skerp teenstelling” met die indruk dat die universiteit geswig het onder die druk van protesgroepe en vrese “dat die US sou brand as daar nie ’n nuwe taalbeleid aanvaar word nie”.

“Die vertrekpunt is kennisoordrag deur meer as een taal, ingestel op die behoeftes van studente,” sê Susan van der Merwe, US-woordvoerder, in die verklaring.

“Dit is eenvoudig nie waar dat die US sou gesê het dat die instelling besluit het om ‘onderrig slegs in Engels aan te bied om te keer dat taal swart studente uitsluit nie’. Engels is nie die US se enigste onderrigtaal nie.”

Die US voer aan in sy verklaring dat hy reeds “volledig” op Gelyke Kanse se beweringe geantwoord het in sy eedverklarings aan die hooggeregshof in Kaapstad tydens die vorige hofsake oor die taalbeleid.

Gelyke Kanse se aansoek om die taalbeleid te hersien en ter syde te stel is toe op 25 Oktober 2017 deur die hof van die hand gewys.

Teen hul finale studiejaar kan hulle nasionaal en internasionaal meedoen.

In sy hofstukke voer Gelyke Kanse aan dat daar nie ’n poging aangewend is om te verduidelik wat die wysiging van die taalbeleid veroorsaak het nie en dat dit aan studenteprotes toegeskryf kan word.

“Toe dit in die US-raad voorgestel is dat die raad ’n beleid moet aanvaar vir gelykheid van Afrikaans en Engels as onderrigtaal, het die voorsitter gesê indien dit sou gebeur, sal die US brand,” lui die hofaansoek.

Die US het egter daarop gewys dat die hof bevind het dat die taalbeleid van 2016 aan die Grondwet en die regering se taalbeleid vir hoër onderwys van 2002 voldoen.

Van Merwe sê daar is met die huidige taalbeleid beoog om uitvoering te gee aan art. 29 van die Grondwet in verband met taalgebruik “in die US se akademiese, administratiewe, professionele en sosiale kontekste”.

“Dít, het die hof aangevoer, vereis noodwendig ’n toename in billike toegang tot die US vir alle studente en personeel, sowel as pedagogies verantwoordbare onderrig en leer. En aangesien die US se kampusse in die Wes-Kaap geleë is, het hy hom tot meertaligheid verbind deur die provinsie se drie amptelike tale, naamlik Afrikaans, Engels en Xhosa, te gebruik.”

Nadat die nuwe taalbeleid in 2016 aanvaar is, het Gelyke Kanse en agt ander applikante die hooggeregshof genader om dit te hersien.

Die 2016-beleid maak voorsiening vir voorgraadse modules waar Afrikaans sowel as Engels die onderrigtale is.

“Waar dit redelikerwys uitvoerbaar en opvoedkundig verantwoordbaar is, sal lesings afsonderlik in Afrikaans en Engels vir groot groepe aangebied word, maar tutoriale en praktika sal studente van albei taalgroepe weer in een sessie saamtrek.”

Gelyke Kanse se aansoek om verlof tot appèl in die konstitusionele hof oor die US se taalbeleid sal Donderdag aangehoor word. Foto: Facebook

In lesings waar Afrikaans en Engels gebruik word, moet alle inligting minstens in Engels oorgedra word en “aangevul word met ’n samevatting of beklemtoning in Afrikaans”.

Vir eerstejaarmodules sal intydse tolking tydens lesings beskikbaar wees en kan dit vir verdere studiejare deur fakulteite versoek word.

“Voorgraadse lesings kan in een taal aangebied word net waar die aard van die leerstof dit regverdig, die dosent slegs in een taal kan klas gee of die klasgroep per stembrief eenparig vir een taal stem.”

Studente kan verder ondersteuning in albei tale ontvang en verpligte leesstof sal ook in Afrikaans en Engels beskikbaar wees, behalwe vir gepubliseerde materiaal.

In die voorgraadse modules word vraestelle en ander opdragte in albei tale opgestel en kan studente hul werk in Afrikaans of Engels voltooi.

Die US sê sy meertalige model bied steun aan Afrikaanse studente wat in hul eerste jaar nog nie Engels “op akademiese vlak bemeester het nie”.

“Teen hul finale studiejaar kan hulle nasionaal en internasionaal meedoen. Hoewel alle inligting ook in Engels oorgedra word, word Afrikaans nie op die agtergrond geskuif nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.