Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
US-taalvoorstel 'slag vir ander Afrika-tale'
Prof. Wannie Carstens Foto: Liza van Deventer

Groot ontevredenheid het Vrydag onder Afrikaanse taalstryders geheers ná die bekendmaking van die bestuur van die Universiteit van Stellenbosch (US) om Engels as voertaal te gebruik.

Kommer dat Afrikaans sy funksie as ’n wetenskap- en akademiese taal gaan verloor, oor wat die domino-effek van hierdie besluit op die langtermyn sal wees en waarom Afrikaans as ’n politieke slaansak gebruik word, is deur kenners geopper.

Die voorstelle van die bestuurslui van die US sal op 30 November aan die raad voorgelê word, waarna daar meer duidelikheid oor die pad vorentoe sal wees.

Prof. Wannie Carstens, hoof van die Skool vir Tale op die Noordwes-universiteit se Potchefstroom-kampus, het gesê die gevolge sal vir Afrikaans ’n groot slag wees. “Dit beteken dat een van Afrikaans se kernfunksies as ’n tersiêre taal verdwyn en as dit begin verdwyn, dan begin jy met die domino-effek dat dit op ander funksies ook verdwyn. Dit loop die langtermyngevaar dat mense gaan sê: Ons het nie meer die taal nodig nie.”

Die universiteitsraad is in ’n moeilike posisie, het hy vervolg. “As die raad nie hierdie taalbeleid gaan goedkeur nie, gaan dit lyk asof die raad teen transformasie is en dit is gewoon nie waar nie.”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het die implikasies as ’n groot terugslag vir Afrikaans en vir die toegang van Afrikaanssprekendes beskryf. “Ervaring by die ander universiteite, technikons en die kolleges het bewys dat die uitfasering of afskakeling van Afrikaans terselfdertyd lei tot die uitsluiting van Afrikaanse studente in praktyk.”

Private universiteite, soos Akademia, is ’n langtermyn-oplossing, maar dit gaan nog ’n dekade vat om Afrikaanse private universiteite op te bou wat alle rigtings aanbied, het hy gesê. “Ons beplan nou om die ontwikkeling van Akademia drasties te versnel.”

Prof. Anne-Marie Beukes, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), het gesê die ATR beskou dit as ’n ernstige terugslag vir Afrikaans as universiteit- en as volwaardige wetenskaptaal. “Afrikaans ís ’n belangrike taal. Dis ’n taal van bemagtiging vir Afrikaanssprekendes. Dus is die verlies van Afrikaans as akademiese en wetenskaptaal ’n verlies vir mense wat dit lewe en praat. Dit is ook ’n terugslag vir ander Afrika-tale wat aspireer om akademiese tale te word.”

Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV, het gesê hy kan nie verstaan hoe Engels die voertaal is nie, terwyl dit slegs die huistaal van 9,3% mense in die land is.

“Engels is die maklike opsie om te kies. Maar wat ek nie verstaan nie, is dat dit nie die huistaal van sowat 90% van die bevolking is nie. Afrikaans is die huistaal van 13,5% van inwoners en daardie getal verdubbel boonop as jy kyk na hoeveel mense dit as ’n bykomende taal vat.”

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, het gesê dit is ’n jammerte dat Afrikaans nou op ’n politieke altaar geplaas word “en dat die universiteitsbestuur voor 30 studente van Open Stellenbosch en die ANC swig”.

“Ons het vertroue dat die raad die regte besluit sal neem in ag genome Stellenbosch se lang Afrikaanse geskiedenis en tradisie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.