Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
KYK: UV-hoë deur studente aangerand

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) se finansiële hoof is Dinsdag te midde van betogings oor studentegeld deur studente op die Bloemfontein-kampus aangerand.

Dit was deel van protesoptrede deur studente wat beswaar maak omdat hulle ontevrede is oor die beursgeld van die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) wat aan hulle uitbetaal is.

Studente wat toetse skryf en klasse is glo deur die betogers ontwrig.

Chris Liebenberg, die Universiteit van die Vrystaat se finansiële hoof, en ’n student in ’n worsteling op die trappe van die George du Toit-gebou op Kovsies se Bloemfontein-kampus nadat studente hom rondgestamp het.Foto: Skermgreep

AfriForum Jeug het Dinsdag in ’n verklaring gesê hulle het ’n klagte teen die Student Command-beweging (EFFSC) by die UV aanhangig gemaak. Dít het volgens die verklaring gevolg nadat EFF-studente betoog, talle klasse en toetse ontwrig en sowel studente as personeel aangerand het.

Chantelle du Preez, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir tersiêre instellings, sê die betogers het ook Marchelle Malan, voorsitter van AfriForum Jeug se Kovsies-tak, gedreig dat hulle haar “sal bykom” indien sy video’s teen hulle sou gebruik.

In video’s wat die ronde doen, word ’n worsteling tussen Chris Liebenberg, die UV se senior direkteur van finansies, en studente op die trappe van die George du Toit-administrasiegebou gewys.

Dit beeld uit hoe Liebenberg eers deur studente rondgepluk word en dan by die trappe afgestoot word. Toe hy probeer opstaan, stamp ’n ander student aan hom. Hy gryp na die student en die twee rol oor mekaar teen die trap af. ’n Groep studente staan onder die trappe en toekyk en op die video kan gehoor word hoe vroue-studente gil.

Liebenberg word deur ’n man te hulp gesnel en van die toneel gehelp.

Chris Liebenberg word gehelp om van die toneel weg te kom.Foto: Skermgreep

Liebenberg was Dinsdagaand tydens Netwerk24 se navraag in ’n vergadering met die UV se bestuur om “al die aangeleenthede te bespreek”.

Hy wou nie kommentaar lewer nie, en het gesê die vergadering was om te kyk na die oorsake van wat op kampus gebeur en om die universiteit se optrede te bespreek.

Hy het beklemtoon dat dit belangrik is dat die akademie nie ontwrig word nie.

Lacea Loader, woordvoerder van die UV, het Dinsdagaand bevestig dat ’n senior personeellid deur studente aangerand is.

“Die universiteit se senior bestuur veroordeel die oneerbiedige gedrag en het ’n dringende ondersoek na die voorval begin.”

Die universiteit se beskermingsdiens hou die situasie dop, het sy gesê.

Chris Liebenberg op die trappe nadat studente hom rondgestamp het. Foto: Skermgreep

Volgens Loader het ’n aantal studente akademiese aktiwiteite die middag op kampus ontwrig ná ’n massavergadering van die EFFSC oor die NSFAS-uitbetalings.

“Die studente het die onmiddellike betaling van hul NSFAS-toelae deur die universiteit geëis. Vroeër vanjaar het die universiteit met die studenteraad ooreengekom dat die toelae gedurende die eerste week van elke maand aan studente betaal sal word.”

Dinsdag het die studente geëis dat die toelae vir Junie nou reeds betaal word. Die Mei-toelae is reeds in die eerste week van die maand betaal, sê Loader.

Colin “Fighter” Jerry, voorsitter van die EFFSC op kampus, het in sy reaksie gesê die ontwrigting van klasse was redelike optrede deur die ontevrede studente nadat die universiteit vir Mei minder aan die studente uitbetaal het as waarop hulle geregtig is. Daar is ook aansoeke vir studiehulp deur studente wat al twee maande hangende is, het hy gesê. Studente kan byvoorbeeld nie huurgeld vir verblyf betaal nie.

Hy sê die voorval waarin Liebenberg betrokke was, het plaasgevind nadat hy studente wat byeen was, uitgelok het. Volgens hom is daar ’n video wat dit wys en was die studente se optrede ’n gevolg hiervan.

Dit uitlokking het volgens Jerry daaruit gespruit dat Liebenberg gevra is om die studente toe te spreek, maar hy geweier en aggressief opgetree het.

Jerry ontken dat daar gewelddadige of dreigende optrede teen studente in klasse was. Volgens hom is dié studente bloot uitgenooi om aan die vreedsame protesoptrede deel te neem. Hy sê dit was nie net EFF-ondersteuners wat aan die betoging deelgeneem het nie.

Die moontlike voortsetting van die protesoptrede hang van die reaksie van die UV se bestuur en van wat die studente besluit af, het hy gesê.

Loader het bevestig dat die klasse en administratiewe dienste Woensdag soos gewoon voortgesit sal word.

Teen laataand was die uitkoms van die UV-bestuur se vergadering nog nie bekend nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.