Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
UV se ja vir Engels ‘nie oorwinning oor Afrikaans’

Die konstitusionele hof se uitspraak dat Engels die Universiteit van die Vrystaat (UV) se enigste taal van onderrig bly, is nie ’n oorwinning oor Afrikaans nie. Die UV gaan voort om Afrikaans as ’n akademiese taal te ontwikkel.

Só het prof. Francis Petersen, rektor, in sy reaksie gesê. Die UV se uitvoerende bestuur het die uitspraak verwelkom. Die UV is die eerste universiteit oor wie se taalbeleid die konstitusionele hof moes beslis

Petersen het beklemtoon ’n belangrike eienskap van die UV se taalbeleid is sy buigbaarheid en die verbintenis om te streef na ’n ware veeltalige omgewing.

Die hoofgebou van die Universiteit van die Vrystaat. Die konstitusionele hof het die appèlhof se beslissing bekragtig dat die taalbeleid van die UV van dubbelmedium na net Engels verander.Foto: Argief

“Die uitspraak vandag laat die UV toe om voort te gaan met die toepassing van sy progressiewe aanslag tot ’n taalryke omgewing wat tot veeltaligheid verbind is,” lui sy verklaring.

Die UV het in Maart 2016 ’n nuwe taalbeleid aanvaar wat Afrikaans en Engels as parallelmediums van instruksie vervang en wat Engels die primêre medium maak.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het Vrydag in ’n meerderheidsuitspraak AfriForum se aansoek vir verlof om te appelleer teen ’n uitspraak van die appèlhof, wat ook ten gunste van die taalbeleid was, van die hand gewys.

Mogoeng het gesê die taalbeleid is wettig.

Die appèlhof in Bloemfontein het vroeër die universiteit se appèl teen ’n hooggeregshofbevel dat die beleidsbesluit onwettig was, bekragtig. AfriForum en Solidariteit het aanvanklik ’n aansoek gebring om die beleid te hersien en die aanvaarding daarvan ter syde te stel.

Die UV sê die uitspraak laat nie net die UV toe om die nuwe taalbeleid in werking te stel soos dit op 11 Maart 2016 deur die raad goedgekeur is nie, maar dit is ook ’n aanduiding van die waarde wat sy besluit om na Engels as die primêre taal van onderrig oor te skakel het vir hoër onderwys in Suid-Afrika.

Petersen het gesê die UV is toegewyd aan die verbintenisse in die taalbeleid.

Petersen het gesê die UV is toegewyd aan die verbintenisse in die taalbeleid en veral om seker te maak dat taalontwikkeling beskikbaar gemaak word aan studente om seker te maak hulle is suksesvol en dat hoër vlakke van akademiese geletterdheid bereik word – veral in Engels. Dit sluit ook bydraes in tot die ontwikkeling van Sesotho en isiZulu as tale van hoër onderrig in die konteks van die behoeftes van die verskillende kampusse van die UV.

“Ons kan nou voortgaan om seker te maak dat taal nie gebruik word of voorgehou word as gereedskap vir die sosiale uitsluiting van personeel en/of studente op enige van ons drie kampusse nie, en ook voortgaan om ’n pragmatiese leer- en administratiewe omgewing te skep wat verbind is tot en akkommoderend is vir linguistieke diversiteit binne die streeks-, nasionale en internasionale omgewings waarin die UV werk,” het Petersen gesê.

Die UV se fakulteite van gesondheidswetenskappe, geesteswetenskappe en regte het reeds vanjaar die nuwe taalbeleid op eerstejaarvlak ingestel. Dit sluit die beskikbaarstelling van lesings in Afrikaans in. Die ander fakulteite sal dit vanaf 2018 instel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.