Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
UV-studente ‘verheug’ oor rektor se uittrede
Prof. Jonathan Jansen, visekanselier en rektor van die UV, stap uit die Equitas-gebou nadat hy sy uittrede aangekondig het. Foto: Conrad Bornman

Studente aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) het Maandag in die sosiale media uiting aan hul blydskap gegee nadat prof. Jonathan Jansen, rektor en visekanselier van die UV, aangekondig het dat sy termyn op 31 Augustus verstryk.

Volgens Lindokuhle Ntuli, studenteraadvoorsitter, is Maandag “ ’n geweldige lekker dag”.

Hy het kort ná die aankondiging op sy Facebook-blad geskryf dit is gedane sake.

“It is now official, Prof Jonathan Jansen is stepping down as UFS Vice-Chancellor and Rector. Can we all meet to sing Solomon Mahlangu. It’s done!”

Skaars ’n uur nadat hy dit geskryf het, is die inskrywing al 60 keer gedeel en sowat 180 mense het dit ge-like.

“Jy kan in die sosiale media sien dat die studente gelukkig is (oor die aankondiging),” sê Ntuli.

“Dit was nooit ’n aanval op Jansen as persoon nie, maar wel ’n aanval op sy kantoor en wie hy in die kantoor is,” sê ’n verheugde Ntuli.

Ntuli sê studente hoop dat die nuwe rektor en visekanselier progressief sal wees en die studente se belange op die hart sal dra.

“Dit gaan nie oor enigiemand anders nie. Dit gaan oor ’n goeie toekoms vir die studente.”

Luidens ’n verklaring deur regter Ian van der Merwe, voorsitter van die UV-raad, sal Jansen in September vanjaar ’n genootskap aan die Sentrum vir Gevorderde Studie en Gedragswetenskappe aan die Stanford-Universiteit in Amerika aanvaar.

“Die genootskap, wat vroeër vanjaar aan hom toegeken is, is vir hom ’n geleentheid om sy loopbaan as internasionaal bekende akademikus in opvoedkunde te bevorder. Prof. Jansen se vertrek is ’n groot verlies vir die universiteit, maar die raad aanvaar sy besluit om uit te tree en sy akademiese loopbaan, asook ander geleenthede, na te streef,” lui die verklaring.

Ná die aankondiging wou nie een van die senaatslede wat by die gebou uitgestap gekom het, met Netwerk24 oor die aankondiging praat nie.

Die verklaring lui verder dat die UV-raad dankbaar is vir “die visie en die inspirerende leierskap” wat Jansen in sy termyn verskaf het.

“Hy het die universiteit deur moeilike en komplekse tye gelei – van ná die Reitz-voorval tot en met die onlangse studenteprotesaksie.

“Hy het ook bestendigheid en respek vir die universiteit gebring – nasionaal sowel as internasionaal.”

Van der Merwe het hom namens die raad en die universiteitsgemeenskap bedank “vir sy bydrae as ’n bekwame, energieke en toegewyde leier”.

Indien Jansen se pos teen die einde van Augustus vanjaar nog nie gevul is nie, sal prof. Nicky Morgan, huidige viserektor, as rektor en visekanselier waarneem.

“Die raad sal binnekort die proses begin om deur middel van ’n nasionale en internasionale soektog ’n opvolger aan te stel.”

Jansen sê luidens ’n verklaring dat hy destyds in 2009 aan sy kollegas gesê het dat hy nie langer as sewe jaar sal aanbly nie.

“Na my raming die optimale tydperk om ’n meetbare impak op die akademiese transformasie van ’n universiteit te maak,” lui die verklaring.

Hy sê hy het altyd verwag dat die oomblik van sy uittrede gemengde gevoelens sou meebring.

“Aan die een kant was die afgelope sewe jaar by verre die opwindendste leierskapposisie wat ek bevoorreg was om te beklee.”

Hy noem verder hoogtepunte in sy UV-loopbaan onder meer “die stadige, maar bestendige transformasie van koshuise”, die “meer inklusiewe taalbeleid” en “die geleidelike, maar besliste veranderinge aan die institusionele simboliek vir groter insluiting, wat met die universiteitswapen begin het”.

Hy sê die besluit om uit te tree is ook moeilik.

“Ek was baie, baie bevoorreg om vir so lank op so ’n spesiale plek te wees.”

  • Lacea Loader, woordvoerder van die UV, het bevestig dat dr. Choice Makhetah, viserektor, ook bedank het en net tot 31 Mei by die UV sal wees.

“Prof. André Keet, direkteur: Instituut vir Versoening en Maatskaplike Geregtigheid, wat reeds in ‘n raadgewende hoedanigheid in die rektoraat dien, sal van 1 Junie 2016 in dr. Makhetha se portefeulje waarneem totdat die raad die vakante pos gevul het.”

Morgan sal van 16 Mei 2016 tot 15 Augustus 2016 ’n kort sabbatsverlof neem. Prof. Prakash Naidoo, prinsipaal van die Qwaqwa-kampus, sal vir hierdie tydperk in Morgan se portefeulje waarneem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.