Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
UWK-regstudent kry beurs om in Leiden te studeer

Soos sommige klein meisietjies seker à la Disney-flieks prinsesse wil word, het Tarryn Abrahams geweet wat sý gaan word nadat sy Legally Blonde gesien het.

Danksy hierdie komedie het dié boorling van Kuilsrivier in gr. 12 geen twyfel gehad oor wat sy aan die Universiteit van Wes-Kaapland wil studeer nie, het Aidan van den Heever, UWK-woordvoerder, in ’n verklaring gesê.

Tarryn Abrahams (23). Foto: Verskaf

“Ek het by die UWK tuis gevoel. Danksy die gehalte van die dosente was ek lief vir my studies. Hulle was soos goeie vriende wat hul kennis oordra,” sê Abrahams (23), wat haar LLB-graad in 2017 aan die UWK behaal het, in die verklaring.

Daarna het sy ’n oorbruggingsjaar geneem en as au pair in Nederland gewerk. Sy het daarna teruggekeer om aan haar meestersgraad te begin werk.

Op 22 Augustus vanjaar sal sy egter weer sak en pak terugkeer na Nederland om aan die Universiteit van Leiden te studeer. Vir haar navorsing gaan sy die regsraamwerk van die au pair-bedryf ondersoek en sy beoog om haar meestersgraad aanstaande jaar te voltooi wanneer sy terugkeer.

Die Universiteit van Leiden het wyle oudpres. Nelson Mandela in 1999 met ’n eredoktorsgraad vereer, en die Mandela-studiebeursfonds vir Suid-Afrikaanse studente het in 2012 tot stand gekom.

Nadat sy ’n e-pos-kennisgewing van die universiteit se kantoor vir internasionale betrekkinge gekry het, het sy besluit om vir dié beurs aansoek te doen.

Van den Heever het by navraag gesê sover hul kennis strek, is Abrahams die eerste student aan dié universiteit wat die beurs ontvang.

Die beurs word aan Suid-Afrikaanse studente gebied om vir ’n semester in Nederland te studeer.

Foto: Verskaf

Volgens Abrahams put sy inspirasie uit Mandela se nalatenskap.

“Hy was nie bang om grense te verskuif nie. Hy het almal aangemoedig om hul drome te volg. Hy het in ’n ander, moeilike tyd geleef, maar hy het deurgedruk. Ek is deur my eie moeilikhede en het nou ’n geleentheid om deur te druk en die onbekende te betree. Maar só wil ek myself inlig en opvoed, soos hy gesê het ons moet,” sê sy.

Hilda Wilson, bestuurder van die UWK se kantoor vir internasionale betrekkinge, sê Abrahams is ’n goeie ambassadeur en sy sal ander studente aanmoedig om in haar voetspore te volg.

Meer oor:  Uwk  |  Nederland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.