Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Vakbond: Onderwysbegroting nie voldoende

Geld ontbreek vir skole-infrastruktuur én onderwysopleiding. Dit is maar twee van die punte waaroor vakbonde en rolspelers in onderwys besorg is ná Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Dinsdag haar begrotingsrede in die parlement gelewer het.

Die uitvoering van nasionale beleid op provinsiale vlak is ook ’n kopsorg, sê Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys.Foto: Argief

Die nasionale departementele begroting vir die 2019-’20- boekjaar beloop R24,5 miljard – ’n toename van 3,4% teenoor die vorige jaar.

Volgens Colditz is dié begroting voldoende vir die nasionale departement.

“Die nasionale departement is daar om oorkoepelend beleid op te stel en monitering te doen. Die uitvoering van dié beleid lê egter in die provinsiale departemente, wat tans nie na wense is nie.”

Mugwena Maluleke, sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), meen die begroting is onvoldoende.

“Eerstens is dit nie genoeg om die kwessie van verswakkende infrastruktuur in skole te pak nie. Swak infrastruktuur hou ’n gevaar vir leerlinge en onderwysers in.”

Maluleke sê die begroting neem verder nie vroeë kinderontwikkeling in aanmerking nie.

“Die basiese onderwysdepartement gaan die sektor vir vroeë kinderontwikkeling oorneem. Sowat 30 000 nuwe personeellede gaan in dié departement aangestel moet word om dit te behartig. Die begroting maak eenvoudig nie voorsiening daarvoor nie.”

Maluleke sê hy is ook bekommerd oor onderwysersopleiding waarvoor daar waarskynlik ook nie geld gaan wees in dié begroting nie.

“Ons waardeer die groter begroting, maar dit is eenvoudig nie genoeg nie. Provinsies soos die Oos-Kaap, Limpopo en KwaZulu-Natal benodig onderwysersassistente omdat ouers in dié provinsies trekarbeiders is en kinders agtergelaat word om op hul eie voort te gaan.”

Hy sê assistente in dié provinsies sal leerlinge help om beter te vaar op skool.

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê in ’n verklaring hy is tevrede dat Motshekga haar begroting wil aanwend vir die bevordering van voorskoolse onderrig, robotika en die uitbou van inheemse tale.

“Ons sal egter moet sien of geld reg bestuur word om die doelwitte wat Motshekga in haar begrotingsrede stel, te verwesenlik.”

Tans ontvang die meeste leerlinge in Suid-Afrika reeds vanaf gr. 4 onderrig in ’n tweede of derde taal, terwyl lees in hul moedertaal nog geensins vasgelê is nie.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die SOS, sê dit is verblydend dat die departement voorskoolse onderrig wil prioritiseer.

“Indien voorskoolse onderrig verpligtend is, moet die onderwysdepartement egter genoeg geld beskikbaar stel om gehalte-onderwysers op te lei en aan te stel, aangesien min voorskoolse onderwysers tans oor die regte kwalifikasies beskik of behoorlike salarisse verdien.”

Colditz en Buys steun ook die minister se uitsprake oor die belangrikheid van moedertaalonderrig en inheemse tale.

“Motshekga het ’n sterk boodskap gelewer dat alle tale gelyk is. Sy het ook gesê uitsprake om enige taal te onderdruk is onaanvaarbaar,” sê Colditz.

Buys sê navorsing het getoon dat kinders wat in hul moedertaal leer lees en somme maak, ’n groter kans op akademiese sukses het as kinders wat in ’n tweede of derde taal onderrig word.

“Tans ontvang die meeste leerlinge in Suid-Afrika reeds vanaf gr. 4 onderrig in ’n tweede of derde taal, terwyl lees in hul moedertaal nog geensins vasgelê is nie.”

Die onderwysdrukgroep Equal Education (EE) sê in ’n verklaring die regering het daarin misluk om ouers, leerlinge, onderwysers en die publiek by te staan met ’n samehangende plan om geweld in skole uit te wis.

“Ten spyte van die desperate situasie het Motshekga se begrotingsrede meestal geswyg oor die ingrypings om geweld in skole te takel.”

Luidens die EE se verklaring het Motshekga vlugtig na geweld in skole as een van haar 11 prioriteite oor die volgende drie jaar verwys.

Meer oor:  Fedsas  |  Sadou  |  Paul Colditz  |  Angie Motshekga  |  Mugwena Maluleke  |  Onderwys  |  Begrotingsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.