Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Vakbonde: Skole kan heropen as alles reg is

Onderwysvakbonde sê skole kan slegs oor twee weke vir die nuwe akademiese jaar heropen as alle maatreëls rakende Covid-19 in plek is.

Volgens die skoolkalender heropen die skole op 25 Januarie vir onderwysers en bestuurspersoneel en op 27 Januarie vir leerlinge. Die departement van basiese onderwys se plan vir die heropening is Dinsdag op ’n vergadering aan die nasionale Covid-19-bevelsraad voorgelê, wat ’n besluit oor die kwessie moes neem.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, het Dinsdagmiddag gesê hy weet nie wanneer die bevelsraad se besluit bekend sal wees nie.

’n Voorstel dat skole eers in Februarie heropen, is Sondag deur dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, op ’n vergadering van die presidensiële Covid-19-koördineringskomitee en die nege provinsiale LUR’e vir gesondheid gedoen.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê daar moet gevra word of die onderwysstelsel gereed is vir skole om oor twee weke te heropen.

Wanneer kinders en selfs onderwysers en werkers by die skool is, is hulle onder gekontroleerde omstandighede en toesig, terwyl ons weet dis nie die geval as skole gesluit is nie.

“Dis nie ideaal dat die aanvang uitgestel word nie, maar in die lig van talle kwessies, is daar groot twyfel of die onderwysstelsel gereed is,” sê hy.

“Om die aanvang met een tot twee weke uit te stel om die stelsel gereed te kry, kan (later die jaar) oorkom word. Die primêre fokus moet op veiligheid en gesondheid wees.”

Volgens SAOU is daar talle voorvereistes vir ’n veilige heropening.

Dit sluit sowat twee miljoen gesigmaskers in wat nuwe leerlinge in gr. 1 en gr. 8 moet ontvang, sowel as handreinigers en ontsmettingsmiddels wat aangevul moet word. Klopper sê net sowat 10% van skole kan hul eie persoonlike beskermende toerusting bekostig.

Die vakbond wil ook weet of alle grade met die heropening gaan moet aanmeld.

“Verlede jaar was alle grade nie by die skool tydens vlak 2 tot vlak 4 van die inperking nie. Waar is die nuwe regulasies (vir skole)? Verlede jaar s’n ten opsigte van vlak 2 en vlak 3 het verval,” sê Klopper.

Volgens hom is dit ook nie duidelik hoe personeellede met onderliggende gesondheidstoestande hanteer gaan word nie. Tydens vlak 2 en vlak 3 in 2020 het ’n kollektiewe ooreenkoms van die Raad op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (ELRC) bepaal onderwysers met onderliggende gesondheidstoestande kan van die huis af werk.

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die onderwysersvakbond Naptosa, sê indien al die nodige protokol gevolg word en persoonlike beskermende toerusting in plek is, is daar geen rede waarom skole nie kan heropen nie.

“Dit beteken nie ons is nie bekommerd oor die nuwe variant van die virus nie en dis juis te meer hoekom elke moontlike aspek gereed moet wees,” sê hy.

Naptosa het nie die departement se plan gesien wat spesifiek aan die bevelsraad voorgelê is nie.

Die onderwysvakbond Sadtu het nie op navrae gereageer nie.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê met die inligting tans tot hul beskikking, is hulle ten gunste daarvan dat skole op die beplande datums heropen.

“Daar is wel nog taamlik onsekerheid oor die nuwe variant van die virus en veral oor hoe dit kinders raak,” sê hy.

Volgens Colditz is daar egter twee sake van belang.

“Wanneer kinders en selfs onderwysers en werkers by die skool is, is hulle onder gekontroleerde omstandighede en toesig, terwyl ons weet dis nie die geval as skole gesluit is nie,” sê hy.

“Daar was ook baie hartseer berigte oor meer kinders, skoolhoofde en onderwysers wat gedurende die afgelope weke aan Covid-19 dood is. Die aanduidings is egter juis dat hulle geïnfekteer is terwyl die skole toe was.”

Mathanzima Mweli, direkteur-generaal (DG) van basiese onderwys, het Maandag gesê die departement se risikoaangepaste strategie maak voorsiening vir die hantering van brandpunte.

“Indien die situasie van so ’n aard is dat dit onmoontlik is om skole te heropen moet ons ’n ander opsie, soos aanlyn leer, oorweeg,” sê hy.

“Van ons kant af beplan ons vir die datums wat gekommunikeer is en ons gaan volgende week ’n opvolgbesoek aan skole maak om hul gereedheid na te gaan.”

Meer oor:  Skole  |  Bevelsraad  |  Elijah Mhlanga  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.