Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Vakbonde wil met Angie praat oor seksonderrig

Onderwysvakbonde is steeds briesend oor die departement van basiese onderwys se voorgestelde lewensoriënteringskurrikulum oor seksvoorligting.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) is een van vele vakbonde wat dringend met Angie Motshekga, die minister, oor die inhoud van die kurrikulum wil vergader.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys. Foto: Joshua Sebola

Chris Klopper, SAOU-president, sê die gevoel van die breër gemeenskap is dat die inhoud van die leermateriaal ontoepaslik vir leerlinge van daardie ouderdom is.

Die SAOU het die week ’n meningspeiling onder van sy lede hieroor gedoen en die meer as 740 respondente was geheel en al daarteen gekant.

Altesaam 87,7% het ook gesê die nuwe inhoud, kurrikulum en lesplanne is nie aan hulle voorgelê nie, en 97,9% het gesê hulle het nog nie opleiding oor die wysigings ontvang nie.

Die respondente het aangedui dat die SAOU die veranderings moet teenstaan.

“Die onderwysers moet dit in werking stel, maar niemand sê vir hulle of dit werklik gaan verander nie,” sê Klopper.

Klopper het reeds van die leerinhoud aan Motshekga gestuur en gesê as dit is wat sy verwag onderwysers vir kinders moet leer, moet sy weet daar gaan onderwysers wees wat weier om dit te doen.

“Ons wil hê die gemeenskap moet kan besluit wat gepas is om vir kinders te leer,” het Klopper gesê.

Vir hom is dit kommerwekkend dat die departement dit (die voorgestelde wysigings) “in die geheim gedoen het”.

Allan Thompson, voorsitter van die Nasionale Onderwysersunie (Natu), het dit beaam en gesê daar is glad nie met hulle daaroor in gesprek getree nie.

“Hoe kan die departement van ons onderwysers verwag om in iets onderrig te gee sonder dat ons die materiaal gesien het of daaroor ingelig is?” wou Thompson weet.

Lede van Natu is ook van mening dat die nuwe leermateriaal ontoepaslik is.

Die Nasionale Professionele Onderwysersorganisasie van Suid-Afrika (Naptosa) het op sy beurt gesê daar is ’n behoefte aan seksopvoeding wat ouderdomstoepaslik is, maar die departement moet eers vooraf die verskillende vakbonde raadpleeg.

“Ons kan nie iets steun wat ons nie gesien het nie,” het Basil Manuel, Naptosa se uitvoerende hoof, gesê.

’n Herrie het losgebars nadat die voorgestelde studiemateriaal van die departement se nuwe Comprehensive Sexuality Education (CSE) sowat twee weke gelede aan die media gelek is.

Van die omstrede inhoud is ’n illustrasie van hoe om ’n vroue-kondoom te gebruik (gr. 9), besprekings oor masturbasie (gr. 7) en beskrywings van “wat tydens vaginale, orale en anale seks gebeur” (gr. 8).

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, het Vrydag by navraag gesê die departement is in gesprek met die onderskeie vakbonde.

“Mense is besig om die dam onder die eend uit te ruk oor iets wat nog getoets word,” het Mhlanga gesê.

Volgens hom is dit nie so dat die nuwe CSE-handleidings vir onderwysers en leerlinge al volgende jaar in gebruik geneem gaan word nie.

“Die departement het besef handleidings is nodig omdat skole in die verlede hul eie studiemateriaal van die internet bekom het en van dit onvanpas was,” het Mhlanga gesê.

Mhlanga het bevestig dat toetslopies met die nuwe CSE-handleidings by skole in onder meer die Vrystaat en Limpopo gedoen is.

“Ons het heelwat terugvoering gekry, positief en negatief, en sal aanpassings maak,” het Mhlanga gesê.

Meer oor:  Saou  |  Natu  |  Naptosa  |  Angie Motshekga  |  Onderwys  |  Seksonderrig  |  Seksvoorligting  |  Onderwysvakbonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.