Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
'Verander apartheidsera-name van Kaapse skole'

Die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) het Woensdag benadruk dat hy nie skole kan dwing om hul name te verander nie en dat skole se name heeltemal in die hande van die skole se beheerliggaam is.

Dit is in reaksie op die Wes-Kaapse ANC wat die oggend geëis het dat die departement “die leiding neem” met die verandering van skoolname wat uit die apartheidsera dateer.

“As ’n organisasie vind ons die name uit die apartheidsera vir ons skole onaanvaarbaar en dit druis in teen ons Grondwet, wat na ’n skoon breuk met ons lelike en afskuwelike verlede strewe.”

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys. Foto: Deon Raath

Volgens die ANC word name soos die Hoërskool Jan van Riebeeck, die Hoërskool D.F. Malan, Rhodes High School en die Hoërskool Eben Dönges en talle ander beskou as die “voortsetting van ’n spesifieke geskiedenis waar enigiets swart en van Afrika as onbenullig en van geen historiese waarde beskou is en die argitekte van apartheid en kolonialisme as helde van ons nasie vereer word”.

“Ons glo om dié name te behou, is aanstootlik en wreed en maak ’n bespotting van die nuwe nasie wat ons probeer bou,” lui die ANC se verklaring.

Jessica Shelver, woordvoerder van Debbie Schäfer, LUR vir onderwys, sê die regstel van die ongeregtighede van die verlede is belangrik vir die provinsiale regering, “omdat ons steeds sit met die nalatenskap van apartheid wat mense uitgesluit laat voel, selfs in ons skoolstelsel”.

Schäfer het in haar begrotingstoespraak in 2015 ’n beroep gedoen op enige skool wat meen dat sy naam steeds die apartheidsbestel verteenwoordig, aansoek doen by die WKOD om dit na ’n inklusiewe naam te verander.

“Die WKOD kan nie ’n skool dwing om sy naam te verander nie – dit is heeltemal die prerogatief van die beheerliggaam, wat die skoolgemeenskap verteenwoordig. Indien enigiemand in die gemeenskap ’n skool se naam aanstootlik vind, moet hulle die beheerliggaam nader om die vereiste proses te volg om dit te wysig.”

Volgens die ANC in die Wes-Kaap is die name uit die apartheidsera “kragtige simbole” en wil hy ’n duidelike tydlyn by die WKOD vir die verwydering van dié simbole kry.

“Ons neem kennis daarvan dat die WKOD die belangrike taak van naamveranderings aan die skole oorlaat onder die voorwendsel dat dit demokraties is – net nog ’n voorbeeld dat die DA geen aptyt het om te regeer nie, veral nie op wyses wat die koloniale en apartheidsbedeling ontwrig nie.”

Luidens die verklaring sal die Wes-Kaapse ANC hom tot die howe wend indien die provinsiale regering hom nie daartoe verbind om skole se name te verander nie.

Meer oor:  Wkod  |  Debbie Schäfer  |  Apartheid  |  Naamsverandering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.