Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Verbasing oor 1 000 skole al ‘kodeer’

Die departement van basiese onderwys het reeds begin om ’n kurrikulum saam te stel vir die nuwe data-analise- en koderingvakke vir laerskole wat pres. Cyril Ramaphosa Donderdag in sy staatsrede aangekondig het.

Maar onderwyskenners het hul bedenkinge oor of dié vakke ’n prioriteit moet wees terwyl daar ernstige probleme is met infrastruktuur en veiligheid by skole.

Boonop is daar groot verbasing oor die “1 000 openbare skole” waar die vak reeds volgens Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, aangebied word.

Mhlanga sê ’n span het in Maart in Fourways vergader om te begin skryf aan die kurrikulum, maar dis nog nie afgehandel nie en daar is dus nog nie handboeke nie.

Volgens Mhlanga gebruik die departement solank materiaal van organisasies en universiteite “wat reeds materiaal ontwikkel het”.

Rapport kon geen rolspelers opspoor wat weet van enige openbare skole wat reeds die vakke aanbied nie.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), wat onnies by ongeveer 4 000 skole verteenwoordig, sê hulle weet ook nie van enige openbare skole waar die vakke al aangebied word nie.

Die SAOU is deel van die nasionale taakspan vir kurrikulum en assessering wat tans die Caps-kurrikulum verfyn en daar is nie gesprekke binne die taakspan oor kodering nie, sê Klopper.

Basil Manuel, hoof van die onderwysersvakbond Naptosa, sê hy hoor mense praat van die vakke, maar weet nie “waar die dinge gebeur nie.” Hy meen daar is skole wat nieamptelik die vak op die proef stel.

Melanie Buys, onderwysspesialis verbonde aan die Skole-ondersteuningsentrum (SOS), sê sy weet ook nie van openbare skole wat al die vak aanbied nie.

Riaan van der Bergh, tegnologie-bestuurder by die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê hulle dra nie kennis van enige openbare skole wat dié vakke aanbied nie.

“Ons raai hulle gaan kyk na sagteware wat gratis vir gebruik beskikbaar is met die naam Scratch.”

Dis egter nie hoëvlak-kodering nie en meer soos ’n reeks opdragte wat die gebruiker byvoorbeeld vir ’n hasie- of katjie-karakter gee.

Ware kodering behels die gebruik van ’n spesifieke binêre koderingstaal om ’n toestel opdragte te gee.

Van der Bergh sê dis dalk moontlik om die nodige toerusting aan skole te verskaf, maar daar moet ook opgeleide onderwysers wees.

“Ons is ten gunste van die tegnologie, maar kom ons kry net eers die konteks reg waarbinne dit gebruik gaan word.”

Die drukgroep Equal Education (EE) sê om data-analise en kodering te wil aanbied in skole wat nie eens struktureel veilig is nie, is ’n klap in die gesig van onderwysers en leerlinge wat ’n gebrek aan water, elektrisiteit, ordentlike toilette en behoorlike klaskamers het. “Ordentlike skoolinfrastruktuur is broodno- dig vir gehalte- onderrig en leer – of hulle nou moet leer lees of kodeer.”

Meer oor:  Chris Klopper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.