Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Verengelsing bedreig onderrig, kultuur’

Die verengelsing van universiteite het ’n bedreiging vir onderrig op tersiêre vlak van toekomstige studente en onderwysers asook kultuurbelange geword.

Prof. Philip Spies

So sê prof. Philip Spies, voorsitter van die loodskomitee van Gelyke Kanse, wat binnekort saam met studente van die Universiteit Stellenbosch (US) ’n hofsaak oor moedertaalonderrig in die konstitusionele hof aanvoer.

Die oogmerk is die tersydestelling van die US se 2016-taalbeleid.

Hy sê verengelsing is ’n ernstige bedreiging vir langtermyn-ontwikkeling in Suid-Afrika in die vierde nywerheidsrevolusie.

In die nuwe ekonomiese wêreldbestel word die gehalte van samelewings en mense se vaardighede uitsluitlik op moedertaalonderrig gegrond.

Die regsgeding is deurslaggewend vir moedertaalonderrig, veral vir inheemse tale – waarvan Afrikaans die verste op tersiêre vlak ontwikkel het.

Afrikaans is veral in die laaste loopgraaf in die huidige bedeling omdat die een universiteit na die ander verengels.

“Die geding gaan allereers oor die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid, maar dit het veel wyer implikasies vir Suid-Afrika se onderwysstelsel en die ontwikkeling van sy samelewing.

“Onderrig in inheemse tale is die afgelope twee dekades voorgestaan deur veral swart intellektuele wat ontnugter is deur talle Afrika-regerings se verheffing van ’n koloniale taal as dominante taal tot nadeel van die inheemse tale.”

Volgens Spies het bruin Afrikaanssprekendes die laagste deelnamekoers en die laagste deurvloeikoers op universiteitsvlak, en die agteruitgang duur voort.

Sommiges het in die dekolonisasiedebat na Afrikaans verwys as die suksesvolste dekolonisasie-inisiatief op die vasteland.

Die Universiteit Stellenbosch Foto: Verskaf

“Moedertaalonderrig word as een van die vernaamste ontwikkelingsinstrumente vir enige gemeenskap beskou, soos die geval inderdaad met Afrikaans as ’n gevorderde moderne taal is en was.

“Die hofsaak het nou nuwe betekenis verkry omdat in die beoogde nuwe taalbeleid van die departement hoër onderwys die belang van die inheemse tale sterk beklemtoon word.

“ ’n Vername oorsaak van Suid-Afrika se disfunksionele skoolstelsel is dat leerders van veral swart skole net tot gr. 4 moedertaalonderrig ontvang, waarna hulle na Engels moet oorslaan.”

Gesaghebbende navorsing toon dat sulke leerlinge in gr. 12 ’n agterstand van tot vyf jaar teenoor hul moedertaal-eweknieë het, sê Spies.

Volgens hom het die konstitusionele hof se uitspraak in die saak van AfriForum teen die Universiteit van die Vrystaat (UV) sommige mense mismoedig gemaak oor Gelyke Kanse se vooruitsigte. Daar is egter belangrike verskille tussen die twee sake.

Spies meen die aanvaarding van die nuwe US-taalbeleid in 2016 is ’n ontkenning van die bevolking-samestelling van die Wes- en Noord-Kaap.

“In dié provinsies, anders as in die Vrystaat, is Afrikaans die meerderheidstaal en ook die taal van die meerderheid bruinmense. En in die Wes-Kaap, binne’n radius van 60 km, is daar drie Engelse universiteite.”

Gelyke Kanse koester die hoop dat die konstitusionele hof oortuig sal kan word dat die aanvaarding van die US se taalbeleid ongrondwetlik én irrasioneel was.

“Indien dit gebeur, sal dit die kantelpunt word vir positiewe prosesse wat moedertaalonderrig in Suid-Afrika gaan bevorder.”

’n Suksesvolle uitslag is daarom van die grootste belang vir die verdere ontwikkeling van die land, sy multikulturele bevolking en al die inheemse tale, sê Spies.

Meer oor:  Gelyke Kanse  |  Philip Spies  |  Taalbeleid  |  Universiteite  |  Verengelsing  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.