Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Verligting én vrae oor verkorte kurrikulum

Onderwyskenners sê aanpassings aan die skoolkurrikulum, oftewel die kurrikulum-en-assesseringsbeleidsverklaring (KABV), word lank reeds verwag, maar hulle het vrae oor van die veranderings aan vanjaar se kurrikulum.

Weens die verlies aan skooldae te midde van die koronavirusinperking is die akademiese jaar verkort en die kurrikulum vir gr. 1 tot gr. 11 besnoei.

Maryna Besseling, beroepsraadgewer van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, sê die hersiening van die kurrikulum word al lank verwag.

“Die onderwysstelsel moes die afgelope tien jaar dieselfde kurrikulum met minimale aanpassings of vernuwing hanteer. Die inkrimp van die kurrikulum het aangetoon dat daar inhoud in grade en fases is wat verouderd is, wat onnodige herhalings is, of wat nie relevant vir kritieke vaardighede is nie.”

Sy sê die departement van basiese onderwys het twee jaar gelede aangedui dat die kurrikulum hersien moet word en die bedoeling was om die inhoud teen einde vanjaar af te handel. Dit is egter weens die pandemie vertraag.

Volgens Besseling kan die verkorte kurrikulum moontlik riglyne vir 2021 bied.

Ons wil hê die kinders moet sekere feite ken en onderwysers is gedruk om deur die inhoud te werk, want die fokus van klasgee is op die oomblik: Kan die kinders die toets deurkom?

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, wou nie sê of en hoe die kurrikulum vir 2021 aangepas gaan word nie, en sê die departement fokus tans daarop om leiding en ondersteuning aan skole te verskaf om die akademiese jaar te voltooi.

Hy het bevestig die aanvanklike plan was om die kurrikulum te hersien en dan oor die pad vorentoe te besluit.

“Die hersiening van die kurrikulum gebeur in die normale onderwysproses. Die uitkoms hiervan kan egter nie vooraf bepaal word nie.”

Hema Hariram, uitvoerende beampte van die vakbond Naptosa, sê vakbonde was aanvanklik deel van die taakspan wat die besnoeiing van vanjaar se kurrikulum hanteer het en was tevrede met die proses.

Toe die opsies vir skole se roosters ontwikkel is, het die departement volgens haar egter verdere besnoeiings gemaak. Sy sê dié veranderings is teleurstellend en kommerwekkend.

“Toe dit aan ons voorgelê is, het ons gevra wie die departement geadviseer het en daar is aangedui dat hulle kenners gekonsulteer het. Wat egter baie duidelik is uit die taal wat in die omsendbrief en bylaes hieroor gebruik is, is dat die kenners nie in voeling met die KABV is nie, want daar is baie verwysings na die ou stelsel gemaak.”

As ons in die verkorte akademiese jaar kernkonsepte kon identifiseer wat kinders moet weet en verstaan, hoekom word dit nie net vorentoe ook gedoen nie?

Dr. Francois Naudé, onderwyskonsultant en navorsingsgenoot aan die Universiteit van Johannesburg se sentrum vir onderwyspraktyknavorsing, sê van die grootste kritiek oor die KABV is dat daar te veel inhoud is.

“As ons in die verkorte akademiese jaar kernkonsepte kon identifiseer wat kinders moet weet en verstaan, hoekom word dit nie net vorentoe ook gedoen nie?”

Naudé sê onderwysers is wel steeds bekommerd oor of al die werk voor die eksamen afgehandel gaan kan word.

“As ons kyk na van die veranderings wat gemaak is, gee die departement nie regtig baie leiding nie. Waar daar herhaling van sekere konsepte is, het hulle miskien gesê kom ons hanteer dit net een keer. Maar hulle gebruik woorde wat baie teenstrydig is soos ‘doen dit een keer, maar in diepte’. Dis onmoontlik om ’n konsep een keer in diepte te behandel.”

Naudé sê as leerlinge iets een keer gesien of gehoor het, beteken dit nie hulle verstaan al die nuanses van die konsep nie.

Hoe lyk die veranderings?

Luidens ’n dokument wat die Skoleondersteuningsentrum (SOS) oor die kurrikulum-aanpassings saamgestel het, het onderwysers talle vrae oor die veranderings.

Johan Koekemoer, hoof van die Vereniging vir Afrikaanse Wiskundeonderwysers (VAW), sê die hersiene kurrikulum en assesseringsplan vir gr. 10 tot gr. 12 is kommerwekkend.

“Die doelstelling van die dokument is volgens die departement eerstens om onderwysers te bemagtig om belangrike kerninhoud en vaardighede te dek. Is daar dan enige inhoud in die oorspronklike KABV wat nie belangrike kernelemente is nie, en indien wel, hoekom onderrig ons dit?”

Die dokument vir die aanpassing van die kurrikulums vir gr. 4 tot gr. 9 is, volgens Koekemoer, “omslagtig” en moeilik verstaanbaar.

Volgens die VAW is van die aanpassings deur die departement “onwetend goed”.

“Ons is dankbaar dat die departement erken dat die meeste temas eintlik sinloos kwartaalliks herhaal word. Die VAW sal graag wil sien dat ons dié nuwe benadering oordra na 2021, waar ons eerder minder en dieper, as baie en vlak werk.

“Ons is egter bekommerd dat die boustene wat in 2021 nodig is om aan te hou bou, afwesig gaan wees en dus die reeds oorvol, oorspronklike kurrikulum onder nog meer druk gaan plaas,” sê Koekemoer.

Hariram sê hulle is bekommerd oor leerlinge in die grondslagfase en verduidelik dit is internasionale praktyk dat dié leerlinge vanweë die belangrikheid van onderrig in die vormingsjare vroeër terugkeer.

Marnelda de Beer, hoof van die Afrikaanse Grondslagfasevereniging (AGV), bevraagteken die feit dat die werk vir wiskunde in dié fase nie verminder is nie, maar die getalgebied wel.

“Die gr. 1’s moet net tot tien getalname kan lees en skryf. Om plekwaarde aan te leer is ook ingekrimp van 19 tot 15. Goeiste, as hy kan plekwaarde uitwys van 15 kan hy vir seker 19 ook uitwys.”

Volgens Besseling is in die grondslagfase herhalings in wiskunde verwyder en in huistaal is die aanleer van kursiefskrif in gr. 2 verwyder, wat moontlik implikasies sal hê vir leerlinge wat na gr. 3 beweeg.

“Van gr. 4 af skryf leerlinge hoofsaaklik net kursief, so die volledige las om dit aan te leer lê nou in gr. 3,” verduidelik sy.

Sy sê die wysigings aan die intermediêre (gr. 4 tot gr. 6) en senior fase (gr. 7 tot gr. 9) is minimaal.

Hariram is egter bekommerd oor veranderings aan die senior fase se kurrikulum en sê die oorspronklike KABV sluit sosiale wetenskap, ekonomiese bestuurswetenskap, kuns en tegnologie in. Skole kan nou net twee van die vier vakke kies.

Sy sê dié verandering is kommerwekkend.

“Dit beïnvloed die hele fase. Gr. 7 is gewoonlik deel van laerskole en gr. 8 en gr. 9 is deel van hoërskole. Nou is twee laerskole dalk die voedingskole vir een hoërskool; en laerskool A bied twee vakke aan, terwyl laerskool B die ander twee vakke aanbied. Wanneer leerlinge dan na gr. 8 gaan, ontstaan daar gapings,” sê sy.

Leerlinge wat dus byvoorbeeld nie in gr. 7 sosiale wetenskap as ’n vak het nie, kan in ’n hoërskool beland wat wel dié vak aanbied.

Hariram voeg by die vier vakke help leerlinge ook om vakkeuses vir gr. 10 te maak.

Besseling sê die verandering dui daarop dat die getal vakke in die senior fase te veel is en dat daar vroeër aan spesialisering aandag gegee behoort te word.

“Die opsies om net twee vakke te kies is net ’n riglyn en oorwegend daargestel vir skole wat sedert die inperking nog nie voldoende onderrig vir dié grade kon gee nie, asook vir skole waar probleme met aflospersoneel is.”

Celeste Labuschagne, een van die SOS se Wolkskooldosente vir fisiese wetenskap, is veral bekommerd oor gr. 9, wat die einde van ’n fase is.

“Daar is belangrike werk wat in gr. 9 gedoen word om leerlinge gereed te kry vir gr. 10 se fisiese wetenskap, soos balansering van chemiese vergelykings en die skryf van formules, asook die reaksies van metale met sure, suurstof, ensovoorts.

“Dis konsepte waarop gebou word in grade vorentoe en onderwysers het ekstra tyd nodig om daardie beginsels vas te lê. Ek is bevrees dat hierdie besluit en situasie dalk die vak vorentoe gaan kniehalter,” sê sy.

Charlotte Fourie, ’n Wolkskooldosent in inligtingstegnologie (IT) en rekenaartoepassingstegnologie (RTT), sê die dokument oor die aanpassings aan die IT-kurrikulum vir gr. 11 is teleurstellend en kommerwekkend.

“Die dokument gee ook min tot geen leiding aan onderwysers oor hoe om die onmoontlike taak uit te voer. Die gr. 11-kurrikulum is gewoonlik baie moeilik om betyds te voltooi. Die voorgestelde veranderings is basies net ‘doen dieselfde hoeveelheid werk in aansienlik minder tyd’. Ek kan nie sien hoe onderwysers en leerlinge al hierdie doelwitte gaan bereik nie.”

Mhlanga het op ’n vraag oor onderwysers se kommer gesê elke skool het ’n vakadviseur wat deur die distrikskantoor ontplooi word en onderwysers wat verward is, moet by die adviseurs om hulp aanklop.

Wat gebeur in 2021?

Hoewel die departement nie in hierdie stadium kommentaar oor die 2021-kurrikulum wil lewer nie, sê Mhlanga, sal hulle “nie enige dele van die kurrikulum weggooi nie”.

“Die struktuur van die kurrikulum is só ontwerp dat dit besnoeiing toelaat sonder om die sleutel-kennisareas in gedrang te bring. Die werk wat nie in 2020 gedoen word nie, sal steeds in 2021 geleer word.”

Mhlanga verseker ouers dat die matrieks vanjaar sal klaarmaak en dat elke leerling van gr. R tot gr. 11 “alles sal leer” voordat hulle die skool verlaat. Hy het ouers na die KABV en ander dokumente verwys om hulself gerus te stel.

Hariram sê die taakspan sal aan volgende jaar se kurrikulum saamwerk.

“Ons is ingelig dat die kurrikulum vir 2021 ook aangepas moet word en dat die volgende grade se onderwysers moet verseker dat fundamentele konsepte aandag geniet.”

Naudé sê hy is nie noodwendig bekommerd oor volgende jaar nie, maar die jare daarna.

Hy meen die model dat kinders inhoud moet bemeester, is uitgeleef.

“Ons wil hê die kinders moet sekere feite ken en onderwysers is gedruk om deur die inhoud te werk, want die fokus van klasgee is op die oomblik: Kan die kinders die toets deurkom?”

Volgens Naudé moet gevra word of dit genoeg is vir skoolgaande kinders om die wêreld te betree en ’n standvastige of betekenisvolle werk te kry.

“Vaardighede is verskriklik belangrik en kan ons regtig met die huidige eksamens kinders se vaardighede toets?

Hy sê kinders is baie bestand teen leemtes wat dalk volgende jaar kan ontstaan.

“Veral op hoërskool is dit moontlik om daarvoor op te maak. Die groter vraag is: Waar kom die tyd vandaan, want ons is besig om hulle te oorlaai met ander inhoud?

“In die grondslagfase is daar definitiewe mylpale wat jy teen sekere ouderdomme wil bereik. Dis nie die einde van die wêreld as dit nie gebeur nie, maar dis goed dat kinders dit op skool leer en as hulle nie in die klaskamer is nie, is ons nie verseker dat hulle dit leer nie.”

Besseling sê daar is ook vrae oor die voortbestaan, relevansie en struktuur van sekere vakke.

“Die uitbreiding van die kurrikulum om vaardighede vir die vierde nywerheidsrevolusie in te sluit, byvoorbeeld vakke soos robotika, kodering en entrepreneurskap, kan oorweeg word.

“ ’n Kurrikulum is nie ’n argaïese struktuur wat in die behoeftes van die onderwyser moet voorsien nie, maar ’n dinamiese struktuur wat die leerlinge van die land op die veranderende vereistes van ’n nuwe werkmag moet voorberei.”

Meer oor:  Elijah Mhlanga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.