Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Brackenfell-verslag: ‘Niemand uitgesluit op grond van ras’

’n Verslag van die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) oor ’n matriekafskeid van leerlinge van die Hoërskool Brackenfell, Kaapstad, toon dat dit ’n private geleentheid was, dat niemand uitgesluit is op grond van ras nie en dat daar geen gronde bestaan om onderwysers te vervolg nie.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, het Maandag in ’n verklaring gesê die verslag se feite bevestig aanvanklike berigte dat dit ’n private geselligheid was.

Op 11 September het die skool ’n brief aan ouers gestuur om te sê dat die skool se matriekafskeid in opdrag van die onderwysdepartement gekanselleer word.

Daarna het ’n leerling se ouer besluit om ’n geselligheid te reël vir haar dogter en van haar vriende, omdat sy iets spesiaal wou doen nadat die amptelike matriekafskeid gekanselleer is.

Debbie Schäfer

Die byeenkoms is gereël by ’n private venue (’n wynplaas) op 17 Oktober. Kaartjies het R500 gekos. Volgens Schäfer het sy die uitnodiging gesien en is daar geen verwysing na die skool nie. Die uitnodiging het gespesifiseer dat 100 mense welkom is, nadat die venue laat weet het dat 100 pleks van 50 mense geakkommodeer kan word weens die verslapping van Covid-19-regulasies.

Die uitnodiging is wyd versprei, via WhatsApp-groepe. Die ouer het klasverteenwoordigers versoek om dit op hul WhatsApp-klasgroepe te versprei, en die hoof het bevestig dat dit so gedoen is. Die uitnodiging is ook op die ouers se Facebook-blad geplaas en was oop vir mense buite Hoërskool Brackenfell. 42 leerlinge van die Hoërskool Brackenfell en 30 van ander skole het dit bygewoon.

’n Aparte WhatsApp-groep is begin vir diegene wat die byeenkoms wou bywoon. Volgens Schäfer verklaar dit bewerings van sommiges dat hulle op ’n WhatsApp-groep uitgesluit is.

Bewerings is ook in die openbaar gemaak dat die hoofmeisie nie die byeenkoms bygewoon het nie “omdat geen leerlinge van kleur dit bygewoon het nie”.

Volgens die verslag is die hoofmeisie en hoofseun genooi, maar het nie die byeenkoms bygewoon nie weens ander planne die dag en omdat hulle hul eie matriekbyeenkomste georganiseer het.

Vier onderwysers is in hul persoonlike hoedanigheid genooi omdat hulle noue bande het met die ouer wat alles gereël het. Die skool was bewus van die geleentheid, maar die skool en die organiseerders het dit as ’n private byeenkoms beskou. Dit was nie nodig om die goedkeuring van die hoof of die beheerliggaam te kry nie.

Ouers het toesig by die geleentheid gehou.

Luidens die verklaring is dit duidelik dat dit ’n private byeenkoms was wat deur ouers en leerlinge gereël is ná die teleurstelling omdat die amptelike matriekafskeid afgestel is. Die feit dat mense van ander skole dit bygewoon het, wys dit was nie ’n skoolbyeenkoms nie. Dit is nie op skooleiendom gehou nie.

Die mediadiensverskaffer, wat ook deur die skool gebruik word, is gevra om foto’s by die byeenkoms te neem en het per ongeluk foto’s van die byeenkoms op die skool se webtuiste gelaai. Ouers het toe beswaar aangeteken. Die skool het nie toestemming hiervoor gegee nie en die foto’s is verwyder.

Die getuienis is dat uitnodigings na alle matriekklasse versprei is. Daar is geen getuienis dat mense uitgesluit is op grond van ras nie.

Daar is ook geen gronde om stappe te doen teen onderwysers wat die private byeenkoms bygewoon het nie.

Voorval belig rassespanning

Schäfer sê die voorval het ander voorvalle van rassespanning by die skool belig. Die skool doen dié stappe om die kwessie te hanteer:

• Hulle het reeds in Junie ’n diversiteitskomitee gestig ná bewerings van rassistiese optrede deur sommige individue. Die werksaamhede is deur Covid-19 gekortwiek, maar gaan nou voort;

• Die beheerliggaam sal oorweeg of ’n beleid aanvaar moet word oor kwessies wat na vore gekom het as gevolg van die voorval;

• Strukture gaan geskep word om meer terugvoering van ouers te kry;

• ’n Getal aktiwiteite van die verteenwoordigende raad van leerlinge word beplan om leierskap onder leerlinge en verhoudings tussen leerlinge van verskillende agtergronde te bevorder; en

• Bykomend sal die distrikskantoor ook ’n reeks diversiteitswerkswinkels vir personeel reël, wat deur die Instituut vir Geregtigheid en Versoening gefasiliteer sal word.

Volgens die WKOD bly hy verbind tot inklusiwiteit en ’n viering van diversiteit. Hy is egter bekommerd dat mense byeenkomste gebruik om rassespanning te skep voordat die feite vasgestel is, luidens die verklaring. Dit vererger rassespanning pleks van om hindernisse af te breek.


Meer oor:  Debbie Schäfer  |  Brackenfell  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.