
Die Mossel Bay EC Primary School, voorheen bekend as die All Saints Primary School, in Mosselbaai.Foto: Verskaf
Daar is verwarring oor die toekoms van die Mossel Bay EC Primary School, voorheen bekend as die All Saints Primary School, in Mosselbaai.
Dit het onlangs aan die lig gekom dat die skool moontlik kan sluit.
Ouers en ander belanghebbendes wou dit voorkom en wou hê die Wes-Kaapse minister van onderwys moes ingryp. Hulle het ook regsadvies ingewin.
Dawid Kamfer, woordvoerder van die All Saints Primary School se aksiekomitee, sê hulle het intussen van die Wes-Kaapse onderswysdepartement gehoor dat die skool nie gaan sluit nie.
Die aksiekomitee hou Donderdagaand ’n vergadering waar ouers en belanghebbendes teenwoordig sal wees. Die situasie oor die skool se toekoms sal bespreek word.
“Ons is verheug. Ons weet egter nie wat agter die skerms gebeur het nie.”
Volgens Kamfer het hulle wel gehoor dat ’n onderwyser en die opsigter by die skool na ’n ander skool oorgeplaas gaan word.
Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê geen besluit is nog geneem oor die toekoms van die skool nie.