Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
VF+ dien klag in oor ‘Lesufi Grondwet 272 keer oortree het’

Die Vryheidsfront Plus het klagte teen Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, ingedien omdat hy tussen 2014 en 2018 die Grondwet na bewering 272 keer oortree het met sy aanhoudende pogings om Afrikaans met Engels te vervang.

Dié klag is deur Philip van Staden, lid van die provinsiale wetgewer, by die integriteitskommissie van Gauteng, ’n onafhanklike liggaam, ingedien.

Lesufi het ontvangs van die klagte van die integriteitskommissie erken en sê ’n volledige antwoord sal aan die kantoor van die kommissaris verskaf word.

Panyaza Lesufi Foto: Daily Sun

In Van Staden se beëdigde verklaring, waarin die klagte uiteengesit is, voer hy aan dat Lesufi sedert 2014 ’n vendetta teen Afrikaans het deurdat hy gedurig daarna verwys as ’n sogenaamde apartheidstaal.

“Die VF Plus glo LUR Lesufi minag die Grondwet met die aanhoudende pogings,” sê Van Staden.

Die VF Plus voer verder aan dat Lesufi ’n politieke agenda dryf deur sy visier op Afrikaansmediumskole in te stel om die aandag af te lei van die gebrek aan nuwe skole en opknappingswerk by bestaande skole in die provinsie.

Die party steun sterk op art. 29 van die Grondwet, wat te make het met die reg tot basiese onderrig, om hul argument te staaf. Volgens hulle het Lesufi dié artikel deur sy aksies 272 keer tussen 2014 en 2018 oortree.

“Dit is tog sekerlik nie Afrikaans se skuld dat skole in voorheen benadeelde gebiede nie goed presteer nie. Lesufi moet ophou met die politieke speletjie en ophou inmeng by skole wat goed funksioneer en presteer,” lui Van Staden se verklaring.

Daar word verwys na Lesufi se voorstel in 2015 dat Afrikaanse skole na dubbelmediumskole moet verander.

“Ons glo as die LUR regtig besorgd was oor onderrig, sou hy ook voorgestel het Engelse skole moet dieselfde dubbelmediumbeleid volg.

“Lesufi gebruik Afrikaans as ’n slaansak om sy politieke loopbaan te bevorder in plaas daarvan om na die behoeftes van die leerlinge om te sien,” sê Van Staden.

Die VF Plus sê Lesufi moet eerlik wees oor sy motiewe. “Skole in Gauteng moet Engels word, glo weens leë klaskamers in Afrikaanse skole – dit is nie net onwaar nie, maar plaas geweldige druk op Afrikaanse skole om leerlinge van ander skole in te neem.”

In reaksie op die aanklagte het Lesufi gesê daar is nooit te kenne gegee dat Afrikaans afgeskaf moet word nie. “Dit is kleinlike politiek wat nie regtig ernstig opgeneem word nie.

“Ons departement sal glad nie afgeskrik word om skole meer toeganklik vir al ons kinders te maak nie,” sê Lesufi.

Van Staden noem dat ’n opname deur die drukgroep Equal Education by 200 Gautengse skole dit aan die lig gebring het dat tot 100 leerlinge by sommige skole een toilet moet deel.

“Dié toestande is erger as in ons land se oorbevolkte tronke,” sê Van Staden in sy verklaring.

Terwyl 45% van die totale Gautengse provinsiale begroting aan onderwys toegewys is, glo hulle daar is min om daarvoor te wys ten opsigte van infrastruktuur.

Die VF Plus het Lesufi voorheen by die ouditeur-generaal verkla oor moontlike wanbesteding van die onderwysbegroting. Dié saak is na die openbare beskermer verwys, waar die ondersoek voortduur. Die party het in 2016 ook ’n strafregtelike klag van aanhitsing tot geweld en intimidasie teen Lesufi gemaak, wat nog ondersoek word.

Van Staden sê hulle wag nou vir die uitslag van die integriteitskommissaris se ondersoek, en sal daarna moontlik nog strafregtelike stappe teen Lesufi oorweeg.

KASSIE

Die integriteitskommissie

Die integriteitskommissie is ’n onafhanklike provinsiale liggaam wie se taak dit is om klagtes teen LUR’e te hanteer.

Die kommissaris is by magte om ’n LUR van sy pligte te onthef indien hy ná ’n ondersoek so bevind. In Gauteng word die pos deur dr. Ralph Mgijima beklee.

Hy was nie Dinsdag beskikbaar vir kommentaar nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.