Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Vier met VS-wortels na VSA met gesogte beurs

Vier begaafde Suid-Afrikaners met Vrystaatse wortels is vanjaar houers van die gesogte Fulbright-beurs om hul studies in Amerika voort te sit.

Jana le Roux. Foto: Verskaf

Altesaam 23 Suid-Afrikaners is volgens die Amerikaanse ambassade in Pretoria beurshouers om onder meer hul meesters- en doktorsgrade aan Amerikaanse universiteite te verwerf. Die program behels ook ander navorsing.

Die oud-Vrystater Jana le Roux (38) is die enigste Suid-Afrikaner wat vir die Hubert H. Humphrey-genootskapprogram gekies is, wat deel is van die Fulbright-program.

Le Roux is oorspronklik van Bloemfontein en het aan die Hoërskool Sentraal gematrikuleer. Sy is die dogter van die Springbok- en Vrystaat-rugbyspeler wyle Martiens le Roux.

Le Roux vertrek Maandag na Amerika waar sy vir 'n jaar aan die Universiteit van Minnesota se Hubert H. Humphrey School of Public Affairs in die regte en stadsbeplanning gaan studeer.

Volgens Le Roux is die beurs se waarde tussen R1 miljoen en R1,5 miljoen.

Sy het tot op meestersgraadvlak in regte aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer. Die afgelope ses jaar het sy as regsadviseur vir die uitvoerende burgemeester van Kaapstad, eers Patricia de Lille en toe Dan Plato, gewerk.

Sy sê die keuringsprogram was uiters mededingend en baie streng.

“Jy moet duidelik kan bewys watter impak jy op die openbare sektor maak en bewys wat jy reeds gedoen het.”

Marnus du PlooyFoto: Verskaf
Chris Dreyer. Foto: Verskaf
Mpho Motseki. Foto: Verskaf

Die Bloemfonteiner Marnus du Plooy (26), wat aan die Hoërskool Bloemfontein gematrikuleer het, vertrek Sondag om sy akademiese reis voort te sit.

Du Plooy wil met die Fulbright-beurs sy doktorsgraad aan die Duke-universiteit in Noord-Carolina verwerf.

Hy het tot op meestergraadvlak in mikrobiologie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer.

“Ek dink ek sien die meeste uit na die uitdaging om nuwe mense te ontmoet en om by die nuwe omgewing aan te pas. Eintlik maar net die nuwe avontuur.”

Eintlik maar net die nuwe avontuur.

Die ander twee oud-Vrystaatse beurswenners is reeds in Amerika.

Chris Dreyer (35), ’n meganiese en lugvaartingenieur wat oorspronklik van Bloemfontein is, studeer vir ’n meestersgraad in ingenieurswese aan The New School in New York.

Mpho Motseki, oorspronklik van Ficksburg, studeer vir ’n meestergraad in genderstudies aan die Western Kentucky University in Bowling Green, Kentucky.

Motseki het haar meestersgraad in kommunikasie aan die Universiteit van Limpopo verwerf.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.