
Peter Marais. “Alle Afrikaanssprekendes moet saamstaan om die taal van ondergang te red.” Foto: Franna Lombard
Afrikaans is terug in ’n konsentrasiekamp, het ’n voormalige Wes-Kaapse premier gister by die Universiteit Stellenbosch gesê.
Peter Marais, nou verbonde aan die Kaapse Federale Alliansie, sê dit lyk asof die Engelse hierdie keer die oorlog gewen het sonder om ’n skoot af te vuur.
“Engels is besig om Afrikaans oor te neem,” het hy gister voor die universiteit se Administrasie B-gebou gesê.
Alle Afrikaanssprekendes sal moet saamstaan om Afrikaans as onderrigtaal van ondergang te red, het hy gesê.
Marais was saam met die historikus prof. Hermann Giliomee en die sanger Stef Bos die sprekers by ’n protesaksie teen die Universiteit Stellenbosch se pro-Engelse-taalbeleid.
Dié protesoptrede is deur Stellenbosch Lente, ’n pro-Afrikaanse aksiegroep, gereël. Dit is egter swak bygewoon.
Stellenbosch Lente wil nie die jeug verhinder om in ander tale te studeer nie, maar ons eis die grondwetlike reg vir elkeen om in sy moedertaal te studeer.
Stellenbosch Lente
Stellenbosch Lente versoek in sy memorandum die universiteit om meer Afrikaanse studente eerder as Engelssprekendes te werf.
“Stellenbosch Lente wil nie die jeug verhinder om in ander tale te studeer nie, maar ons eis die grondwetlike reg vir elkeen om in sy moedertaal te studeer.
“Soos enige kultuur wil ons ook hier aan die suidpunt van Afrika trots wees op ons uniekheid. Moet dit asseblief nie verder afbreek nie,” lui die memorandum.
Marais het gewaarsku dat tensy alle Afrikaanssprekendes laer trek as een verenigde taal- en kultuurgemeenskap, die ongelukkige dae “ons sal inhaal”.
“Ons (wit en bruin mense) is een volk. Een pa, maar twee ma’s. Julle het hom (die bruin man) nou nodig, want sonder hom kan julle nie ’n meerderheid wees nie,” sê Marais.
Giliomee sê dit is baie belangrik dat die stryd, om “ ’n volwaardige aanbod van Afrikaans” by die US te behou, voortgesit moet word.
“Ons moet eenvoudig nie moed verloor nie. Dit is ’n saak wat nie net sal weggaan nie,” sê hy.
“Ek dink nie ons kan vir enigiets minder vra as ’n volwaardige aanbod in Afrikaans nie. Dit is ’n stryd wat ons beplan om te voer totdat daar voldoen word aan die regte wat ons het kragtens die Grondwet.”