Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Voortrekker-skool spog met gerestoureerde wa

Die Bethlehem Voortrekker Hoërskool spog deesdae nie net met ’n klein ossewa uit 1938 se herdenking van die Groot Trek nie, maar ook met ’n transportwa – splinternuut gerestoureer.

Braam Oosthuizen van Estcourt in KwaZulu-Natal het die antieke wa in 2019 aan die skool geskenk nadat hy dit in 2018 op ’n veiling in Underberg gekoop het.

Met ’n naam soos “Voortrekker” behoort ’n skool ’n wa te hê, het Oosthuizen besluit. Sy seun, Willie, is vanjaar in matriek in dié skool.

“Nou kan die wa bewaar word vir ons kinders se kinders,” sê Oosthuizen

Die oorspronklike toestand van die wa voordat dit gerestoureer is.

Twee van Anthony Porter se kleindogters, Bianca Lessing (gr. 12) en Zelia Lessing (gr. 8), is ook in die skool. Sy ander kleindogter, Leané Lessing, was in 2018 in matriek hier. Porter het die wa op die skoolterrein gesien en aangebied om dit te restoureer.

Met geldelike hulp van ’n paar oudleerlinge het Porter die wa binne ’n maand tot sy oorspronklike glorie herstel.

Hy sê hoewel die wa redelik verweer was, was hy verstom om die oorspronklike vakmanskap te sien waarmee dit aanmekaargesit is.

“Dié soort waens is gebou om vragte van tussen 5 t en 10 t te vervoer en het ’n span van 20 tot 24 osse benodig. Met my navorsing vir die restourasieproses het ek op ’n foto afgekom waar ’n stoomlokomotief op so ’n wa vervoer word,” sê Porter.

Johan van Zyl, senior vakkundige van die Oorlogsmu­seum van die Boererepublieke in Bloemfontein, het dit as ’n transportwa geïdentifiseer.

Willie Oosthuizen by die gerestoureerde transportwa van die Bethlehem Voortrekker Hoërskool.

Hy sê dié soort waens is oorspronklik gebruik om swaar goedere van die kus na die binneland te vervoer en kan moontlik enige tyd vanuit 1910 tot selfs so ver terug as 1895 dateer.

Teen 1860 was veranderinge in Suid-Afrika noodsaaklik weens die ontdekking van diamante. Fortuinsoekers en transportryers het die land ingestroom en ’n nuwe vervoerstelsel was nodig. Groot voorrade moes daagliks oor lang afstande vervoer word en die transportwa was gevolglik sterker, swaarder en ook laer op die grond as die kakebeenwa, sê Van Zyl.

Die transport­waens se lengte het gewissel tussen 3,6 m en 6,9 m.

Van Zyl het die skool gelukgewens met sy bewaringsprojek en sê die museum is trots op ’n skoolgemeenskap “wat poog om erfenis aan hul kinders oor te dra”.

Benette Brits, adjunkhoof van die skool, sê sy het behoorlik trots gevoel toe sy die gerestoureerde wa gesien het.

Non sibi sed patriae. Nie vir onsself nie, maar vir ons vaderland. Of in dié geval, vir ons nageslag.

“Ons is trots om te weet ons Voortrekker-gemeenskap deel in die trotse tradisies en simbole van ons skool wat meer as 100 jaar oud is. Die feit dat die ossewa deel vorm van ons skoolwapen, maak die bewustheid van bewaring onder ons leerlinge net groter. Tradisie kweek Trekker-trots,” sê Brits.

Meer oor:  Bethlehem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.