Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Vordering in SA met wiskunde, wetenskap te stadig

Leerlinge in gr. 9 se wiskunde- en wetenskapvaardighede het sedert 2015 verbeter, maar gr. 5-leerlinge se vaardighede het effens agteruit geboer.

Dit is een van die bevindinge van die studie oor neiging in internasionale wiskunde- en wetenskapstudie (TIMSS) vir 2019, wat Dinsdag op ’n nuuskonferensie deur die departement van basiese onderwys bekend gemaak is.

Die studie word vierjaarliks gedoen en het ten doel om lande te help om hul onderrig in wiskunde en wetenskap te verbeter.

Die uitslae wys dat daar oor die afgelope 25 jaar wel ’n verbetering by Suid-Afrikaanse leerlinge is, met vier uit tien leerlinge wat in 2019 bewys het dat hulle die basiese wiskunde- en wetenskapvaardighede onder die knie het, teenoor een uit tien in 2003.

Ons gee gereeld aandag aan die matriekeindeksamen en hoërskool, maar ons moet herfokus op laerskole omdat swak prestasie op dié vlak in die toekoms die volgende vlak sal beïnvloed.

Singapoer en vier ander Oos-Asiatiese lande het weer die ander TIMSS-lande ver oortref.

In sowel die wiskunde- as wetenskapafdelings vir gr. 5 en 9, beklee Suid-Afrika een van die laaste drie plekke uit 64 deelnemende lande.

Sowat 21 000 Suid-Afrikaanse leerlinge het aan die studie deelgeneem en meisies het in die algemeen beter gevaar as seuns.

Dr. Vijay Reddy, hoofondersoeker van TIMSS 2019 en navorsingspesialis by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), het op ’n nuuskonferensie gesê die studie wys vaardighede in wiskunde en wetenskap in Suid-Afrika verbeter nie vinnig genoeg nie.

Sy het veral haar kommer uitgespreek oor vaardighede in laerskole wat op die oog af nie so vinnig verbeter vergeleke met wat op hoërskoolvlak gebeur nie.

“Ons gee gereeld aandag aan die matriekeindeksamen en hoërskool, maar ons moet herfokus op laerskole omdat swak prestasie op dié vlak in die toekoms die volgende vlak sal beïnvloed,” sê sy.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sê die departement sal ondersoek instel na die redes vir die gebrek aan verbetering.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het by navraag gesê die studie help tot ’n mate om lig te werp op die toestand van vaardighede by skole. Die uitslae moet egter nie sommer veralgemeen word om op alle skole van toepassing te wees nie.

“Die studie is soos ’n pennetjie wat jy gebruik om die olie van jou motor te toets. Dit gee jou ’n goeie idee oor hoe die olie se situasie lyk, maar nie oor of die hele motor werk nie,” sê Deacon.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het beaam dat meer aandag gegee moet word aan die ontwikkeling van syfervaardighede op laerskoolvlak.

“Die studie is soos ’n pennetjie wat jy gebruik om die olie van jou motor te toets. Dit gee jou ’n goeie idee oor hoe die olie se situasie lyk, maar nie oor of die hele motor werk nie.

“Die regte benadering is om konsepte en leerinhoud op laerskoolvlak reeds onder die knie te kry sodat leerlinge groter vertroue het om in die hoërskool syfervakke te kies. In die toekoms gaan werknemers in die finansiële sektor, ingenieurs en diegene wat opgelei is in die programmering van rekenaarsagteware steeds hoog aangeskrewe wees.”

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), het in reaksie op die uitslae in ’n verklaring benadruk die kwessie van ’n oorvol kurrikulum by skole moet aandag kry.

“Hoewel daar ’n verbetering in die TIMSS-syfers is, skiet Suid-Afrika steeds ver tekort as dit kom by die minimum-basislynvereistes, met slegs 41% van leerlinge in gr. 9 wat daaraan voldoen,” lui die verklaring.

Meer oor:  Angie Motshekga  |  Wiskunde  |  Wetenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.