Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Vosloo-egpaar belê in Afrikaans by US

Ton Vosloo en Anet Pienaar-Vosloo, ’n egpaar met noue bande met die Universiteit Stellenbosch (US), borg van 2020 af die Ton en Anet Vosloo-leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk aan die US vir vyf jaar.

Benewens die Leerstoel word beursgeld beskikbaar gemaak vir verdienstelike studente wat Afrikaans op nagraadse vlak aan die US studeer.

Volgens die Vosloo-egpaar is die Leerstoel gemik op die verdere uitbou van Afrikaans as belangrike instrument in diens van die Suid-Afrikaanse gemeenskap as ’n geheel.

Ton Vosloo en sy vrou, Anet Pienaar-Vosloo het Woensdag-aand tydens 'n geleentheid by die STIAS-sentrum in Stellenbosch bekendgemaak dat hulle 'n leerstoel vir 5 jaar lank sal borg by die Universiteit Stellenbosch ter bevordering van Afrikaanse. Van links na regs is prof. Ilse Feinauer, Ton Vosloo, Anet Pienaar Vosloo en prof. Wim de Villers. Foto's: Jaco Marais

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, sê die skenking help nie alleen met die handhawing van Afrikaans as onderrigmedium nie, maar ook met die bevordering van Afrikaans as wetenskap- en beroepstaal binne ’n meertalige gemeenskap.

“Sover ons weet, is dit die eerste en enigste geborgde Leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk by enige universiteit,” sê hy.

Prof. Ilse Feinauer is as bekleër van hierdie Leerstoel aangewys. Sy is verbonde aan die departement Afrikaans en Nederlands in die US se fakulteit lettere en sosiale wetenskap.

“Dit is vir my ’n ongelooflike eer en voorreg om hierdie Leerstoel in die Afrikaanse Taalpraktyk te kan beklee. Ek gee alle krediet aan prof. Wim de Villiers wat die aanvoorwerk gedoen het om hierdie Leerstoel binne die departement Afrikaans en Nederlands ’n werklikheid te maak.”

Volgens Feinauer is beurse reeds aan vier honneurs-, drie magister-, twee PhD-studente en een na-doktorale genootskap in Afrikaans en Nederlands vir 2020 toegeken.

“Hierdie Leerstoel skep vir die departement geleentheid om by uitstek nagraadse studente te bemagtig om in en oor Afrikaans navorsing te doen om ná hul studie in en met Afrikaans ’n professionele loopbaan te kan volg,” sê sy.

Prof. Ilse Feinauer, Ton Vosloo, Anet Pienaar Vosloo en prof. Wim de Villers saam met die studente wat sal baatvind by die leerstoel.

Feinauer gee sedert 1982 aan die departement Afrikaans en Nederlands klas en is van 1996 af betrokke by die nagraadse program in vertaling wat onder haar leiding van ’n nagraadse diploma in vertaling tot ’n PhD in vertaling uitgebou is.

Sy was van 2005 tot 2008 die voorsitter van die departement en van 2015 tot einde 2018 die visedekaan: navorsing van die fakulteit lettere en sosiale wetenskap.

In 2013 het Feinauer die eerste vrou by die US geword wat tot hoogleraar in die Afrikaanse taalkunde bevorder is. In 2014 het die Taiyuan-Universiteit vir Tegnologie in Taiyuan, Shanxi (China), ’n ereprofessoraat in hul fakulteit internasionale taal en kultuur aan haar toegeken.

Ton Vosloo aan die woord. Foto: Jaco Marais

Ton Vosloo was tot 2015 vir 59 jaar in die bedryf as joernalis, redakteur, uitvoerende hoof en voorsitter van Naspers en die afgelope drie jaar ere-professor in joernalistiek aan die US.

Anet, ook ’n oudjoernalis, is besig met die derde televisiereeks Mooi vir die TV-kanaal VIA. Sy is ’n Matie wat in die kunste gestudeer het en welbekend is vir haar rol as medestigter en direkteur van onder meer die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees, Aardklop en verskeie ander feeste landwyd. Sy is ook die eerste vroulike voorsitter van die Baxter-teater in Kaapstad.

“In my memoires Oor grense: ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering, wat verlede jaar gepubliseer is, het ek ’n hoofstuk geskryf, getiteld ‘Afrikaans in ’n kreeftegang’. Daarin het ek die punt gemaak dat ek hoop begenadigde individue tree na vore vir wie dit van A tot Z om Afrikaans gaan,” sê Vosloo.

“Ek en Anet ek het die genade dat ons kan help. Afrikaans is, soos Jan Rabie geskryf het, ons suurstof. Dis nou die tyd om in te tree om hierdie ongelooflike kennisbron ter wille van ons nasie se toekoms verder uit te bou.”

Die Vosloos is reeds ’n geruime tyd gewaardeerde US-skenkers.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.