Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Vroeë aftrede ‘kan verwoestend wees’ vir onderwys

Die vroeë aftrede van ervare onderwysers kan verwoestend vir onderwys in Suid-Afrika wees.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU). Foto: Leánne Stander

Dit is die mening van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) in reaksie op Tito Mboweni, minister van finansies, se planne om vroeë aftrede aan te bied aan ouer staatsamptenare in ’n poging om die staat se salarisrekening te sny.

Mboweni het Donderdag in sy begrotingsrede gesê die staat se salarisrekening is sy grootste uitgawe.

Mboweni wil die salarisrekening oor die volgende drie jaar met R27 miljard krimp. Een van sy voorstelle is om staatsamptenare van 55 en ouer aan te moedig om vroeër af te tree.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, sê die vakbond sal nie die voorstel vir vroeë skeidingspakkette ondersteun nie.

Hy sê die land se ekonomiese probleme lê eerder in die skuld wat staatsbeheerde ondernemings soos Eskom, die SAUK en SAL opgegaar het.

“Die probleem lê nie by hoeveel onderwysers in ons onderwysstelsel werk nie. Indien onderwysers uit ons stelsel gesnoei word om die staat geld te spaar gaan dit verwoestende nagevolge hê.”

Die probleem lê nie by hoeveel onderwysers in ons onderwysstelsel werk nie. Indien onderwysers uit ons stelsel gesnoei word om die staat geld te spaar gaan dit verwoestende nagevolge hê.

Klopper sê ’n ooglopende oplossing vir die land se ekonomiese probleme is om Eskom en die SAL so gou moontlik te privatiseer.

Hy sê die land en die onderwyssektor kan nie ’n herhaling bekostig van die vernietigende uitwerking wat skeidingspakkette in 1996 gehad het nie.

“Onderwys in Suid-Afrika kan eenvoudig nie bekostig om klaskamerondervinding en kundigheid op te offer en klasgroottes te verhoog weens korrupte en swak bestuur nie,” sê Klopper.

Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) sê in ’n verklaring die vroeë aftreepakkette is eintlik ’n voorwendsel vir minder werksgeleenthede in die openbare sektor.

“Om ouer staatsamptenare, wat kosbare ervaring het, te verwyder sal die gesamentlike kennis en ervaring in die openbare sektor uitput.”

Nkosiphendule Ntantala, president van Naptosa, sê dié vakbond is ook ernstig bekommerd oor die aankondiging van vroeë aftrede. Hy benadruk Klopper se kommentaar dat aftredepakkette in die verlede al ’n verwoestende uitwerking op die kennis en vaardighede in die onderwyssektor gehad het.

Die vakbonde is dit egter eens dat dit ’n positiewe verwikkeling is dat sowat R30 miljard begroot is vir die bou van nuwe skole en om bestaande skole in stand te hou.

Nog R2,8 miljard word bygevoeg tot die toelae om die agterstand in infrastruktuur by skole uit te wis deur puttoilette by meer as 2 400 skole te vervang.

Sadou sê egter hy is verbaas dat Mboweni geen woord gerep het oor die regering se planne om die onderwysstelsel gereed te kry vir die vierde nywerheidsrevolusie nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede vroeër vanjaar gesê onderwysers en leerlinge moet in die volgende ses jaar opgelei word in nuwe tegnologieë soos robotika en kunsmatige intelligensie.

Luidens ’n verklaring deur Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) presteer Suid-Afrika op dieselfde vlak as Uganda wat onderwysstandaarde betref.

Suid-Afrika bestee egter 18 keer meer per kop aan onderwys as Uganda. Dít is volgens die Suider- en Oos-Afrika-konsortium vir die monitering van onderwysgehalte (SACMEQ).

“Dit sal dus nie help om bloot meer geld aan die probleem te bestee nie. Dit is veral belangrik dat geld wat aan onderwys toegestaan word, reg bestuur word,” sê Melanie Buys, onderwysspesialis verbonde aan die SOS.

Sy sê Suid-Afrika bestee reeds ’n groter persentasie van inkomste aan basiese onderwys as die meeste ontwikkelde lande, maar ontvang nie ’n bevredigende opbrengs uit dié belegging nie.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Chris Klopper  |  Onderwys  |  Begroting 2019  |  Saou  |  Aftrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.