Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Vrystaat, Noord-Kaap gereed vir eindeksamen

Aan die vooraand van die matriek-eindeksamen wat Maandag begin, het die Vrystaatse onderwysdepartement die wens uitgespreek dat dié provinsie weer die eerste plek in die land gaan inneem wat sy matriekslaagsyfer betref.

Howard Ndaba

En die Noord-Kaapse LUR vir onderwys het dié provinsie se matrikulante uitgedaag om hul kant te bring om ’n 100%-slaagsyfer te verseker.

Intussen gaan die Vrystaatse premier en verskeie matrieks in die provinsie Vrydag ’n eed aflê om hulself tot ’n etiese eindeksamen te verbind.

Meer as 2 000 leerlinge sal Vrydagoggend by die Mangaung-buitelugsentrum byeenkom om saam met Sisi Ntombela, premier van die Vrystaat, ’n onderneming te onderteken om niks onwettigs tydens die eksamen te doen nie.

Altesaam 37 340 matrieks van oor die land heen begin die eksamen Maandag met rekenaartoepassingstegnologie.

Meer as 796 000 matrieks sal die eindeksamen in 6 888 eksamenlokale in die land aflê.

Hiervan is altesaam 629 141 heeltydse leerlinge en 167 401 deeltyds.

Die eksamen eindig op 28 November met ’n vraestel oor landboubestuurspraktyk.

Volgens Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse onderwysdepartement, is alles gereed om te verseker dat die 30 000 Vrystaatse matrieks geen probleme ondervind nie.

Hy sê die departement mik weer vir ’n 90%-slaagsyfer en ’n 40%-universiteitstoelating.

“Ons glo dít is binne ons bereik en dat ons, soos vorige jare, weer nommer een in die land sal eindig.”

Die Noord-Kaapse LUR vir onderwys, Martha Bartlett, het by ’n nuuskonferensie in Kimberley gesê sy is vol hoop dat die provinsie vanjaar ’n 100%-slaagsyfer in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen kan behaal. Volgens Bartlett sal dit van vanjaar se matrikulante afhang of hierdie prestasie behaal kan word.

Sy sê haar departement het vanjaar verskeie ingrypingsmaatreëls getref om 2017 se slaagsyfer van 75,6% te probeer verbeter.

Dit sluit in besoeke aan skole oor die provinsie heen, spesiale onderwysklinieke, wiskunde- en wetenskap-werksessies en ondersteuning aan onderpresterende skole.

Die Noord-Kaapse LUR vir onderwys, Martha Bartlett, meen ’n provinsiale slaagsyfer van 100% is moontlik in vanjaar se Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen.

Altesaam 14 263 kandidate in die provinsie sal die eksamens aflê.

Al die kandidate wat vanjaar hul Nasionale Senior Sertifikaat-eksamens skryf, sal op 23 Oktober na die 143 eksamenlokale regoor die provinsie stroom om hul vraestelle in Engels (huistaal) en Afrikaans (eerste bykomende taal) te gaan skryf.

Volgens Bartlett is daar ’n toename van 1 679 kandidate wat die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen in die Noord-Kaap skryf, vergeleke met die 10 519 kandidate wat laas jaar die eksamen afgelê het.

Onder die 12 198 heeltydse kandidate wat vanjaar die eksamen sal aflê, is 2 643 leerlinge wat deurgesit is.

Volgens Bartlett sal altesaam 143 toesighouers by eksamenlokale oor die provinsie heen optree.

Sy het gewaarsku dat onreëlmatighede of kullery nie geduld sal word nie.

Nasieners sal op 1 Desember begin merk en sal teen 15 Desember klaar wees.

Nasiensentrums sal op 15 Desember sluit en die finale uitslae sal op 17 Desember aan die departement gestuur word.

Die uitslae sal op 3 Januarie 2019 aan skole bekend gemaak word.

Die minister van basiese onderwys sal die uitslae op 3 Januarie om 18:00 bekend maak.

Meer oor:  Sisi Ntombela  |  Matrikulante  |  Vrystaat  |  Noord-Kaap  |  Matriekeksamen2018
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.