Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Vuwani: Minister gee self klas
David Mahlobo, die minister van staatsveiligheid, gee ’n wiskundeles by die Radzambo Secondary School.

David Mahlobo, die minister van staatsveiligheid, het Woensdagoggend self ingespring en ’n wiskundeklas vir leerlinge in Vuwani aangebied omdat die meeste onderwysers steeds nie by skole opgedaag het nie.

Ondanks etlike vergaderings die afgelope twee weke tussen verskeie ministers, gemeenskapsleiers en selfs Toni Mphephu Ramabulana, Venda-koning, kan duisende leerlinge steeds nie onderrig ontvang nie.

Altesaam 24 skole is twee weke gelede in die Vuwani-distrik deur belhamels afgebrand wat nie deel wil wees van ’n nuwe munisipaliteit wat Malamulele sal insluit nie.

Mahlobo het voor die swartbord ingeskuif by die Radzambo Secondary School om wiskunde aan gr. 12-leerlinge te verduidelik, berig die SAUK. Die skool se mure is met swart roet besmeer.

Mahlobo het gesê onderwysers word glo geïntimideer sodat hulle nie na skole terugkeer nie.

“Onderwysers moet voorvalle van intimidasie aanmeld. Diegene wat onderwysers intimideer, is lafaards en kan nie veroorsaak dat kinders nie skool toe gaan nie,” het hy gesê.

Leerlinge gaan drupsgewys terug na skole, maar baie van hulle vrees vir hul eie veiligheid.

Mobiele klaskamers word sedert Dinsdag by die skole afgelewer wat onherstelbaar afgebrand het.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die nasionale departement van basiese onderwys, sê 234 mobiele klaskamers is nodig. Daar word beplan om vandeesweek 74 af te lewer.

Mhlanga het gesê daar is nie begroot vir die mobiele klaskamers nie en dit bemoeilik die afleweringsproses.

Des van Rooyen, die minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede, het Woensdagoggend met John Vhangani, hoof van die Ratshikwekwete Secondary School, vergader om toe te sien dat die skooldag voortgaan.

Faith Muthambi, die minister van kommunikasie, is sedert Dinsdag in die Vuwani-gebied waar sy selfs al gehelp het om klippe wat paaie versper, te verwyder.

In Malamulele, sowat 40 km van Vuwani, sal Takalani Tshavhuyo, ’n ANC-raadslid van die Makhado-munisipaliteit in Louis Trichardt, in die landdroshof verskyn op aanklagte van brandstigting, openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging. Hy is een van minstens 20 mense wat in hegtenis geneem is weens die geweld in Vuwani. Vuwani is tans deel van die Makhado-munisipaliteit, maar sal ná die munisipale verkiesing deel word van ’n beoogde nuwe munisipaliteit wat Malamulele gaan insluit.

Meer oor:  David Mahlobo  |  Faith Muthambi  |  Malamulele  |  Vuwani  |  Skole  |  Betogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.