Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Wees bly ANC is aan die bewind’

“Wees bly ons (die ANC) is aan die bewind, want ons is voorstanders van nierassigheid. Laat die EFF en AfriForum op die land los en daar is chaos.”

So het Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, Dinsdagaand op ’n openbare vergadering by die Hoërskool Overvaal gesê toe die departement die wysigings van die toelatingsvereistes vir leerlinge bekend gemaak het.

Lesufi het beklemtoon hy is nie op die vergadering om sy stem dik te maak oor Afrikaans of om die taal dood te maak nie. Inteendeel.

“As ’n skool kies om sy kinders in Afrikaans te onderrig, is dit goed so. Maar as dieselfde skool Afrikaans gebruik om ander kinders uit te hou, sal daar ferm teen hulle opgetree word,” het hy onder die luide toejuiging van sommige ouers gesê.

“As ons agterkom dat die skool nie ten volle gebruik word nie, sal ons optree.”

Lesufi sê mense “in hierdie land” moet dankbaar wees vir die leierskorps van die ANC, want as die EFF of AfriForum op die land losgelaat word, sal daar geen toekoms vir Suid-Afrikaners wees nie.

“Ons (die ANC) is dié mense wat nierassigheid voorstaan. Maar moet ons nie dreig nie. Moet ons nie druk nie. As mense ons druk, doen hulle dit op eie risiko,” waarsku hy.

Ons (die ANC) is dié mense wat nierassigheid voorstaan. Maar moet ons nie dreig nie. Moet ons nie druk nie. As mense ons druk, doen hulle dit op eie risiko.

“Rassisme kan nie uitgestel word nie. Dit moet gestop word. As dit nie gestop word nie, is die uitkoms baie erg. Ons ken die pyn. Ons wil nie wraak neem nie.”

Hy het verwys na mense wat kort voor die verkiesing in 1994 (uit vrees) blikkieskos bymekaargemaak het. Volgens hom is dit ook nie die ANC se doel om op mense se vrees te teer nie.

Volgens hom is daar gedurig mense wat die regering daarvan beskuldig dat hy nie genoeg skole bou nie. “Daaroor wil ek nie eens praat nie. Dit is onwaar,” sê hy.

Elaine Krige, woordvoerder van Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS), het ná die vergadering gesê Lesufi het op die vergadering die raskaart gebruik om sy eie swak leierskap te verbloem. In vyf jaar kon hy net 47 skole bou, terwyl daar sowat 50 skole per jaar nodig is om die groeiende getal leerlinge in Gauteng te huisves.

Sy sê die nuwe regulasies is ’n magsvergryp deur Lesufi en sal alle skole, maak nie saak watter taal ter sprake is nie, benadeel as ouers nie meer inspraak het in die taalbeleid nie.

Oor sy uitlating dat skole se beheerliggaam steeds beleid kan bepaal, sê sy dit is misleidend. Lesufi moet steeds hierdie beleid goedkeur. “Hy sal dit nie doen as die skole nie na sy pype dans nie.”

Dewald Villoen, lid van die Hoërskool Overvaal se beheerliggaam, sê van die voorgestelde regulasies is baie vaag en baie groter duidelikheid daaroor is nodig.

Die verwysings na die hoeveelheid plek wat ’n skool vir leerlinge het moet baie duideliker in die konseptoelatingsvereistes uitgestippel word, sê hy.

Die voorgestelde wysigings is gepubliseer op die departement se webwerf. Kommentaar moet die departement teen môre bereik.

Meer oor:  Afriforum  |  Hoërskool Overvaal  |  Panyaza Lesufi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.