Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Werknemer geskors oor uitgelekte vraestel

’n Werknemer van Altron Document Solutions, verspreider van Xerox in Suid-Afrika, is op 17 November geskors nadat ’n interne ondersoek bevind het hy het ’n afgekeurde kopie van ’n matriekeindeksamenvraestel huis toe geneem.

Altron se verklaring volg nadat die Valke gesê het Themba Daniel Shikwambana (31) het Maandag in die hof verskyn in verband met die beweerde diefstal van die tweede wiskundevraestel, wat op 16 November geskryf is.

Hy is op borgtog van R1 000 vrygelaat en moet op 27 Januarie weer in die hof verskyn.

Shikwambana werk vir ’n maatskappy in Johannesburg wat deur die onderwysdepartement gekontrakteer is om die vraestelle vir vanjaar se matriekeindeksamen te druk. Volgens Shikwambana se LinkedIn-profiel is hy sedert Julie 2019 ’n inligtingstegnologie-spesialis vir Xerox.

Altron het nie die geskorste werknemer se naam bekend gemaak nie.

Volgens Chris Kabwato, Altron se kommunikasiehoof, druk Altron Document Solutions namens Lebone Litho Printers die vraestelle vir die Gautengse onderwysdepartement. Lebone Litho Printers is ook gekontrakteer om die vraestelle te bind en af te lewer.

Indien dokumente gedurende die produksieproses nie volgens die vereiste gehaltespesifikasies gedruk of gebind word nie, word dit as ’n afgekeurde kopie beskou. Dit kan onder meer deur foutiewe afwerking of papiere wat in die drukker vassit, veroorsaak word.

Kabwato sê die maatskappy is besig met ’n volledige interne ondersoek en die werknemer is hangende verdere dissiplinêre optrede geskors.

“Die maatskappy gee ook sy samewerking aan wetstoepassingsowerhede. Altron Document Solutions het verskeie maatreëls getref om te verseker soortgelyke voorvalle gebeur nie weer nie, insluitende om die span wat die vraestelle druk, te roteer,” sê hy.

Die tweede wiskundevraestel is voor die aanvang van die eksamensessie na leerlinge in minstens agt provinsies versprei. Die tweede fisiesewetenskappe-vraestel is ’n week later ook uitgelek.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, sê die ondersoek na die uitlek van ander vraestelle duur voort en nog inhegtenisnemings word binnekort verwag.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het op 18 November op ’n nuuskonferensie die moontlikheid genoem dat die wiskundevraestel by die drukkers kon uitlek. Sy sal na verwagting later die week ’n aankondiging oor die voorvalle doen.

• Die DA het die inhegtenisneming in ’n verklaring verwelkom, maar sê daar is nog talle vrae wat dringend beantwoord moet word om die geloofwaardigheid van die eindeksamen te verseker.

Die party wil onder meer weet wanneer ’n volledige verslag oor die voorvalle beskikbaar gaan wees en hoeveel vraestelle uitgelek is, asook of plaasvervanger-vraestelle gebruik is nadat die departement van die voorvalle bewus geraak het, en hoeveel plaasvervanger-vraestelle geskryf is.

Die party wil verder weet hoe die departement gaan verseker ander vraestelle word nie uitgelek nie en of leerlinge wat betrokke was by die voorvalle die vraestel oor sal moet skryf.

Meer oor:  Matriekvraestelle  |  Misdaad  |  Uitlek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.