Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Wes-Kaap gee groen lig dat leerlinge vroeër terugkeer

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het sekere skole in die provinsie die groen lig gegee om al hul leerlinge vroeër terug te ontvang, in teenstelling met die president se aankondiging dat die res van die grade eers op 24 Augustus moet terug.

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede week aangekondig matriekleerlinge sal op 3 Augustus terugkeer skool toe, gr. 7-leerlinge op 10 Augustus en die res van die grade op 24 Augustus. Die regulasies is egter steeds nie in die Staatskoerant gewysig nie.

Die WKOD het vroeër vandeesweek in ’n brief aan skole gesê hulle kan alle leerlinge ná slegs twee weke terug ontvang, mits die WKOD dit goedkeur. Sommige skole gryp nou die geleentheid aan om voort te gaan met onderrig sodat kinders van gr. 1 tot 7 nie vir ’n maand by die huis moet sit nie.

“Aangesien die huidige regulasies steeds geld, kan skole wat aansoek gedoen het om ander grade te laat terugkeer, voortgaan daarmee as die beheerliggaam en skoolgemeenskap daarmee saamstem,” lui die brief van Brian Schreuder, onderwyshoof van die WKOD.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys. Foto: Argief

Dit geld egter nie vir hierdie week nie omdat dit ’n verpligte vakansieweek is.

Die Laerskool Eversdal in Durbanville is een van die skole wie se bestuur en skoolbeheerliggaam leerlinge se terugkeer goedkeur.

“Volgens vorige prosesse is al Laerskool Eversdal se grade reeds ingefaseer ná die inperkingstyd. Ná die kort vakansie van twee weke sal al ons grade (1 tot 7) weer op Woensdag 12 Augustus begin,” lui ’n brief aan ouers.

“Ons het gewag om te kyk of daar meer duidelikheid oor die sluiting van skole en die reëls daaroor van die nasionale onderwysdepartement sal kom, maar daar is niks meer gesê nie en ons het besluit om voort te gaan.”

Volgens Ramaphosa se aankondiging sou slegs die gr. 7-leerlinge op 12 Augustus terugkeer ná twee weke se vakansie, terwyl die res van die leerlinge eers op 24 Augustus sou terugkeer ná ongeveer ’n maand by die huis.

Die WKOD het Donderdag gesê hy hoop die nuwe regulasies word binnekort in die Staatskoerant gepubliseer.

Intussen hou almal, leerlinge, onderwysers en ander personeel in die Wes-Kaap, hierdie week vakansie. Personeel hoef nie by die skool te wees nie, maar die nasionale skoolvoedingsprogram gaan voort.

Matrieks, hul onderwysers en ander personeel sal volgens die WKOD, soos pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het, eerskomende Maandag terugkeer en vir die voorsienbare toekoms nie weer vakansie hê totdat hulle die eindeksamen aflê nie.

Vroeër is berig die DA het Woensdag ’n beëdigde verklaring by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om ’n bevel te bekom dat Ramaphosa se aankondiging oor die sluiting van skole onwettig, ongrondwetlik en nie bindend nie verklaar moet word.

“Die DA is van mening dat die aankondiging geen wettige uitwerking het nie en dat skole dus tegnies nie moes gesluit het nie aangesien daar geen wetlike vereiste daarvoor is nie.”

Die DA is steeds nie ten gunste van die sluiting van skole nie en sê dit was nie ’n besluit wat geneem is in die beste belang van die akademiese vordering van leerlinge nie.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, het vroeër gesê die maand lange sluiting van skole is nie in die belang van leerlinge nie en gaan onmeetbare skade aan die ekonomie aanrig.

Sy sê sy was ten gunste van ’n twee weke lange blaaskans omdat baie onderwysers gedurende die inperking deurlopend gewerk het.

“ ’n Verposing sou hulle tyd gee om te herlaai en hul stresvlakke te verlaag. Maar ’n sluiting van vier weke druis in teen die belange van leerlinge.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.