Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Wim de Villiers se kop geëis by US-konvokasie
Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US.Foto: Argief

As George Steyn, voorsitter van die Universiteit Stellenbosch (US) se raad, en die rektor, Wim de Villiers, nie in die nabye toekoms bedank nie, en as oudregter Edwin Cameron as die volgende kanselier van die US ingehuldig word, sal hy bedank as president van die US se konvokasie.

Só het dr. Jan Heunis, president van die konvokasie van die US, Donderdagaand op die algemene jaarvergadering van die konvokasie in Stellenbosch gesê.

Die konvokasie is ’n vergadering van gegradueerdes en lede van die personeel van die US. Dit is bygewoon deur sowat 320 mense en talle hoës in die universiteit, onder andere De Villiers en dr. Ronel Retief, US-registrateur.

Heunis eis De Villiers en Steyn se koppe na bewerings dat De Villiers Cameron onregmatig probeer beïnvloed het in ’n hofsaak tussen die US en Gelyke Kanse. Heunis het namens Gelyke Kanse opgetree in die saak.

Gelyke Kanse wou die US dwing om terug te keer na sy 2014-taalbeleid, maar die hof het eenparig in die US se guns besluit.

Daar word beweer De Villiers het Cameron probeer beïnvloed deur vir hom die kanselierskap van die US aan te bied. Die US het ’n ondersoek na die saak begin.

De Villiers ontken ten sterkste dat hy onbehoorlik opgetree het en sê ’n ondersoek sal dit bewys.

Heunis het op die vergadering gesê De Villiers se beweerde optrede was “hoogs onreëlmatig” en hy sal bedank as De Villiers nie bedank nie. Luidrugtige applous het in die ouditorium opgeklink toe hy die aankondiging maak.

Dr Jan HeunisFoto: Argief

“Dit was met ’n gevoel van uiterste ongeloof en verbasing dat ons moes verneem dat die rektor by verskeie geleenthede een van die tien regters in ’n saak, waarin die rektor self die eerste respondent was, telefonies gekontak het om die moontlikheid van sy kanselierskap te bespreek,” het Heunis gesê.

“En dit voor en nadat die saak in die hof geargumenteer is, en voordat die uitspraak gelewer is. Die kontak tussen hom en regter Cameron voordat die uitspraak in die saak gelewer is, was hoogs onreëlmatig,” het Heunis gesê.

“Uiteraard is die uitslag hiervan dat die uitspraak van die hof onherstelbaar besmet is. Ons sal nie aanvaar dat geregtigheid geskied het nie, en daar is beslis nie gesien dat dit geskied nie.”

Heunis het vervolg hy was geskok om te hoor dat Cameron die telefoonoproepe geneem het, en ook dat hy De Villiers ontmoet het voordat die uitspraak in die saak gelewer is.

Heunis het ook gesê De Villiers het nie die waarheid gepraat toe hy gesê het dat Gelyke Kanse dit goedgekeur het dat die kanselierskap aan Cameron aangebied is nie.

“Dit is gewoon onwaar,” het Heunis gesê.

De Villiers het voor Heunis se toespraak gesê die uitspraak deur die konstitusionele hof stel dit duidelik dat die US se 2016-taalbeleid regmatig is.

“Die hof het dit beskryf as ’n deeglike, omvattende en inklusiewe beleid. Die US is steeds verbind tot die gebruik van Afrikaans, saam met Engels, teen die agtergrond van inklusiwiteit en regverdigheid.”

De Villiers het herhaal dat hy die ondersoek teen hom verwelkom, en gesê hy sien uit na die verslag deur die ondersoekspan, gelei deur afgetrede regter Burton Fourie.

“Ek sal nie verder kommentaar lewer oor die ondersoek nie,” het hy gesê. “Kom ons gaan as ’n inklusiewe Matie-gemeenskap saam vorentoe.”

Heunis het gesê: “Niemand wil die universiteit agter ’n taalgordyn toetrek nie. Al wat verlang word, is dat die taal van die meerderheid van die bevolking van die Wes-Kaap en van die meerderheid van die meerderheidsbevolkingsgroep van die Wes-Kaap ’n primêre taal van onderrig met gelyke status aan Engels aan die US sal wees.”

Niemand wil die universiteit agter ’n taalgordyn toetrek nie. Al wat verlang word, is dat die taal van die meerderheid van die bevolking van die Wes-Kaap en van die meerderheid van die meerderheidsbevolkingsgroep van die Wes-Kaap ’n primêre taal van onderrig met gelyke status aan Engels aan die US sal wees.

Heunis het bygevoeg hy is al talle kere in sy loopbaan gekonfronteer deur mense wat “ongewillig is om op ’n ordentlike manier te debatteer”. Hy het ook gesê hy het dit teëgekom in gevalle waar daar ’n “afwesigheid is van logiese argumente”.

’n Groep van ongeveer vyf mense agter in die ouditorium het Heunis uitgejou en hom onder meer ’n lafaard genoem omdat hy gedeeltes van sy toespraak in Afrikaans gelewer het.

Cameron is aangestel as die 15de kanselier van die US en volgens De Villiers verpersoonlik hy die US se waardes. De Villiers het gesê hy sien uit na die reusebydrae wat Cameron tot die US gaan maak.

Aan die begin van die byeenkoms was daar ’n tekort aan ’n kworum. Hoewel die ouditorium vol was, was daar nie meer as 250 alumni teenwoordig nie. Dit het beteken dat die konvokasie eers Donderdagaand laat amptelik verklaar is toe 271 alumni in die ouditorium getel is.

Die nuwe uitvoerende komitee van die konvokasie sou ook by die vergadering gekies word. Die konvokasie het ses verteenwoordigers in die universiteitsraad. 

Retief het in haar toespraak gesê daar word beplan dat die meer as 200 000 alumni reg oor die wêreld in die toekoms beter by konvokasievergaderings betrek sal word. Sy het gesê die moontlikheid van tegnologiese uitbreidings sodat lede byvoorbeeld aanlyn kan stem, word ondersoek.

Waldimar Pelser, TV-persoonlikheid en redakteur van Rapport, was die spreker by die geleentheid.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.