Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
WKOD trek klag terug oor rasklassifikasie
Glen Snyman
Glen Snyman Foto: Rapport

Die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) het Woensdag bevestig dat hy 'n klag van wangedrag teruggetrek het teen ’n onderwyser en aktivis wat homself in ’n aansoek as ’n “Afrikaan” beskryf het, terwyl hy glo voorheen aangedui het dat hy ’n bruin man is.

Die media het verlede week insae gekry in ’n kennisgewing oor tugstappe teen Glen Snyman van Grootkraal UCC Primêr naby Oudtshoorn en ’n klagstaat wat hom van bedrog beskuldig.

Luidens dié kennisgewing wat deur die ANC in die Wes-Kaap beskikbaar gestel is, is hy versoek om Woensdag ’n tugverhoor by te woon.

Die WKOD het egter Woensdagmiddag bevestig die klag is teruggetrek en gesê dat hy Snyman sal nader “om ons in staat te stel om sy persoonlike besonderhede akkuraat op te neem, soos vereis”.

Snyman het op sy CV aangedui dat hy ’n Afrikaan is, maar het op ander aansoeke en dokumente aangedui dat hy bruin is.

“Hoewel ons glo dat ons moet voortgaan om die ongeregtighede van die verlede reg te stel, het ons die saak hersien en glo dat dit nie verdere optrede regverdig nie. Dit het egter ’n aantal kwessies gelug in verband met rasseklassifikasie en identiteit wat dieper gesprek en nadenke vereis.”

Bronagh Hammond, WKOD se kommunikasiehoof, sê nasionale wetgewing vereis ’n telling vir diensbillikheid wat in die werwingsproses aan elke kandidaat toegewys is, aan die hand van hul ras en geslag.

“Snyman het op sy CV aangedui dat hy ’n Afrikaan is, maar het op ander aansoeke en dokumente aangedui dat hy bruin is.”

Hammond het bevestig dat dié onreëlmatigheid onder die departement se aandag gebring is en klagte is toe teen Snyman ingedien.

Sedertdien het die WKOD verneem dat Snyman wel as ’n “Afrikaan” identifiseer en al jare teen die regering se stelsel van rasklassifikasie veg.

“Dit is uiters persoonlik en gevoelig.”

Snyman is ook bekend as die stigter van People Against Race Classification (Parc).

Hy het Woensdagaand gesê hy is bly alles is nou agter die rug.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys. Foto: Curt Lottring/Son

Die kennisgewing van die WKOD se direktoraat vir werknemerbetrekkings aan Snyman noem dat hy van wangedrag beskuldig word aan die hand van bewyse van getuies.

Dit sluit in die klagstaat wat aanvoer dat hy rondom 21 Oktober 2017 na bewering bedrog gepleeg het in ’n aansoek om as hoof van ’n hoërskool in die omgewing aangestel te word.

Luidens die klagstaat het Snyman “voordeel getrek vir die doeleindes om gekortlys te word” deur aan te dui dat hy ’n Afrikaan is.

Debbie Schäfer, LUR vir onderwys, het die oggend in ’n verklaring gesê sy het dringend meer inligting oor die saak gevra toe sy daarvan bewus geraak het.

“Een van die talle euwels van apartheid was die klassifikasie van mense volgens hul sogenaamde ras. Dit is waarteen soveel mense in die land geveg het om van ontslae te raak. So, ek was verstaanbaar geskok om te ontdek dat my departement glo iemand aankla as gevolg van hoe hulle kies om hulself te klassifiseer.”

Schäfer sê die departement sal nie “die viktimisering van mense wat nie kunsmatige en arbitrêre klassifikasies navolg” duld nie.

In Desember verlede jaar is daar berig dat Snyman ’n aansoek teen die WKOD en nasionale departement van basiese onderwys in die arbeidshof ingedien het om onder meer te eis dat die klassifikasies “bruin” en “Indiër” geskrap word en eerder net as swart Suid-Afrikaners geag word of dieselfde gewig moet dra.

Hy het ook gevra dat die WKOD onmiddellik ophou om die woord en identiteit “bruin” te gebruik, ’n einddatum vir die WKOD se diensbillikheidsplan binne ses maande en dat die plan gewysig word om die rasklassifikasie van kandidate weg te laat.

In dié tyd is daar berig dat die nasionale departement in sy hofstukke gesê het die wetgewing bepaal reeds dat die generiese term “swart” gebruik word vir swart, bruin en Indiërmense.

Meer oor:  Glen Snyman  |  Wkod  |  Rasklassifikasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.