Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
WKOD verduidelik oor skole se sluiting

Alle skole in die Wes-Kaap is vandeesweek toe vir ’n blaaskans, maar gr. 12 en 7-leerling moet weer op onderskeidelik 3 en 12 Augustus terugkeer skool toe.

So sê Kerry Mauchline, woordvoerder van Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, by navraag oor die vier weke lange sluiting van skole wat onlangs deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig is.

Brian Schreuder hoof van die Wes-Kaapse departement van onderwys. Foto: Lerato Maduna

Volgens Mauchline het die hoof (Brian Schreuder) van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) verlede Vrydag ’n brief aan skoolhoofde gestuur oor die sluiting, en verdere besonderhede uitgestippel.

Mauchline sê onafhanklike skole word nie geraak deur Ramaphosa se aankondiging nie en gaan volgens hul eie kalenders voort.

’n Nasionale nuuskonferensie van die departement van basiese onderwys wat vir Sondag beplan is, is uitgestel en nog geen besonderhede is in die Staatskoerantgepubliseer nie. “Daar is regtig baie onsekerheid oor die pad vorentoe,” sê sy.

Luidens die brief is die skole van 27 Julie tot 24 Augustus gesluit. Dit is nog onduidelik watter grade vanaf 24 Augustus sal terugkeer skool toe. Daar is besluit dat alle onderwysers, leerlinge en ander personeel in die Wes-Kaap van 27 tot 31 Julie ’n blaaskans moet vat.

Van personeel word nie vereis om in dié tyd by die skool te wees nie. Hoofde se verteenwoordigers of senior bestuur moet egter ’n oog hou op sekere bedrywighede by die skool, soos die nasionale skolevoedingsprogram wat moet voortgaan. Gr. 12-leerlinge, hul onderwysers en ander personeel (soos deur die hoof bepaal) moet op 3 Augustus terugkeer skool toe.

Gr. 7-leerlinge en hul onderwysers sal vir twee weke lank ’n blaaskans neem en op 12 Augustus terugkeer skool toe. Die departement van basiese onderwys het die aangepaste skoolkalender vir 2020 op 11 Junie gepubliseer, wat aandui dat 10 Augustus ’n openbare vakansiedag is, en 11 Augustus ’n skoolvakansiedag. In die afwesigheid van aanwysings in dié verband bly die vakansiedae so.

Die terugkeer van ander grade vanaf 24 Augustus sal bekend gemaak word sodra die departement van basiese onderwys daaroor besluit het. Daar word ook vir inligting oor skole vir leerlinge met spesiale behoeftes gewag.

Alle onderwysers en ander personeel moet op 17 Augustus terugkeer skool toe om vir die ander grade se terugkeer die volgende week voor te berei. Onderwysers wat nie gr. 12- en gr. 7-leerlinge onderrig nie, is aan diens, selfs al is hulle gedurende die tweede en derde week tuis.

Omdat huidige aanwysings nog in plek is, mag skole wat aansoek gedoen het vir afwykings om ander grade terug te bring, voortgaan om dit te doen indien die beheerliggaam en skoolgemeenskap saamstem. Dit geld egter nie vir van 27 tot 31 Julie nie.

Die Independent Schools Association of Southern Africa (Isasa) het nie dadelik op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

Meer oor:  Wkod  |  Kerry Mauchline  |  Wes-Kaap  |  Skole  |  Sluiting  |  Onderwysdepartement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.