Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Wysiging aan wet moet probleme by skole oplos – Motshekga

Wysigings aan wetgewing oor basiese onderwys moet beskou word as ’n manier om probleme by skole oor die land heen op te los, sê Angie Motshekga, minister van basiese onderwys.

Sy het aangekondig dat sy en haar departement Maandag met die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) vergader het om onder meer die vordering met die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette te bespreek.

Sy het benadruk dat sy ook met ander rolspelers en onderwysvakbonde sal vergader voordat die wetsontwerp in die parlement ter tafel gelê word.

Angie MotshekgaFoto: ELIZABETH SEJAKE

Die vergadering met Fedsas het volgens haar gevolg op ’n versoek van dié organisasie om met die departement te praat “sodra die proses vir openbare insae oor die wetsontwerp afgehandel is”.

Motshekga het Maandag in ’n verklaring hieroor ook gesê met die wysigingswetsontwerp wil hulle dele van die Suid-Afrikaanse Skolewet opdateer.

“Op die vergadering het ons onder meer gepraat oor toelatingsregulasies, die aanstel van onderwysers, die deursoeking van leerlinge, asook die terme en kriteria vir lede van skoolbeheerliggame.”

Die minister sê die voorgestelde wysigings moet nie die skoolstelsel “wurg” nie. “Dit moet nie as ’n struikelblok beskou word nie, maar eerder as ’n instrument wat kan help om van die probleme by skole op te los.”

Paul Colditz, Fedsas-hoof, het ná die vergadering gesê die gesprekke met Motshekga was “positief”.

“Ons is optimisties dat daar ’n goeie resultaat sal wees, veral ten opsigte van die magte van skoolbeheerliggame.

“Van die belangrike aspekte van die wetsontwerp wat ons in belang van skoolbeheerliggame bespreek het, was dié oor taal- en toelatingsbeleid waaroor provinsiale departemente van onderwys groter seggenskap wil hê.

“Nog ’n aspek waaroor gepraat is, is die voorstel dat skoolbeheerliggame nie betrokke sal wees by die aanstel van skoolhoofde nie.”

Intussen het Anelle Burger, woordvoerder van Cape Home Educators, Saterdag in ’n meningstuk op Netwerk24 onder meer geskryf dat die voorgestelde regulasies in die wetsontwerp veral die vryheid en gepaardgaande sukses van tuisonderrig bedreig.

“Die voorgestelde regulasies in art. 51 gee voor dat ouers wat tuisonderrig kies, nie vertrou kan word met die opvoeding van hul kinders nie. Tuisonderrigouers is volgens die regulasies nalatig, onbekwaam en weet nie wat die beste vir hul kinders is nie. Ouers moet ’n burokraat (die hoof van die departement) daarvan oortuig dat hulle in die beste belang van hul kinders optree,” het sy onder meer geskryf.

Wat tuisonderrig betref, het Motshekga Maandag in haar verklaring gesê dat sy die belangrikheid van die nakoming van alle wetlike verpligtinge wil benadruk.

“Die regering het ’n algehele verantwoordelikheid oor kinders. Leerlinge wat tuis onderrig word, moet aanvanklik geregistreer word sodat ons kan weet hoeveel leerlinge in die stelsel van tuisonderrig val.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.