SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Nuus
vgk-diens vir ontslape rektor
‘Ons broer is by die huis’
‘Hy het ’n betekenisvolle rol in Belhar-belydenis gespeel’
Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, soen Beryl Botman tydens die gedenkdiens wat gisteraand gehou is.Foto: DENVOR DE WEE

KAAPSTAD. – Hulle het gisteraand hul “broer” huis toe gebring.

Kerkleiers van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) het ’n gedenkdiens vir die ontslape rektor en visekanselier, teoloog en VGK-dominee prof. Russel Botman in die Belhar-gemeente van die VGK gehou.

“Dit is histories beduidend dat ons vanaand in hierdie gebou bymekaarkom om Russel se lewe te herdenk,” het dr. Llewellyn MacMaster, projekleier by die sentrum vir inklusiwiteit by die Universiteit Stellenbosch (US), gesê.

“Hy was as student ’n lidmaat van hierdie kerk en later as dosent by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) was hy ’n ouderling in hierdie kerk.”

Belydenis van Belhar

Die Belydenis van Belhar is in 1986 in dié kerk deur die voormalige Nederduits-Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika aanvaar en onderteken.

“Russel het ook ’n belangrike rol in die Belhar-belydenis gespeel en seker gemaak dat die belydenis deur kerke dwarsoor die wêreld aanvaar word,” het MacMaster bygevoeg.

“Vanaand is ons, as die kerk, se geleentheid om vir Russel te sê: ‘Jy sal altyd een van ons wees.’ Ons wil hom vanaand huis toe bring, ten spyte van hoe hy ’n eensame dood gesterf het.”

Rouklaers kon voor die diens teeliggies ter ere van Botman voor in die kerk aansteek.

Botman se vrou, Beryl, en hul kinders en familielede het die diens bygewoon.

“Russel en sy generasie het ’n betekenisvolle rol gespeel in die aanvaarding van die Belhar-belydenis,” het ds. Peter Grove van die VGK-sinode gesê.

“Hulle moes in ’n rassistiese orde in Suid-Afrika veg vir ’n meer inklusiewe samelewing.”

Botman was ’n teologiestudent aan die UWK toe die idee van die Belydenis van Belhar gebore is.

“Russel het daardie dag in 1978 in my sistematiese-teologieklas gesit toe ons vir die eerste keer die idee van ’n belydenisskrif bespreek het. Hy was my ster-student,” het prof. Jaap Durand, teoloog en voormalige viserektor van die UWK, vertel.

Mosie

“Ek het vir die klas gevra: ‘Sê julle vir my, wat is die grootste probleem wat agter apartheid lê?’ En hulle het geantwoord die kernprobleem is die onversoenbaarheid tussen verskillende groepe. Russel en die klas het toe ’n mosie opgestel wat ons dieselfde jaar nog vir die sinode gestuur het,” het hy vertel.

Dié mosie was die inspirasie vir die Belydenis van Belhar-wat in 1982 deur onder andere Durand en die teoloog prof. Dirkie Smit neergepen is.

“Russel en die tokkelokke van die 1970’s was lekker woelig as studente en aktiviste gewees. Hulle het selfs ons personeel daarby ingesleep,” het prof. Edna van Harte, voormalige dekaan van die Militêre Akademie in Saldanha, gesê.

Sy was ’n UWK-dosent toe Botman aan die universiteit gestudeer het.

“En toe ons later albei by die US aangestel is, het ons dit nog met koffie en skons by die Mugg & Bean in Stellenbosch gaan vier.

“Die prys wat hy by die US betaal het, was nie ’n maklike prys nie. Sy laste was swaar. Hy het as viserektor destyds die taaldebat met uitnemendheid hanteer en transformasie was tot aan die einde vir hom ’n moeilike taak. Ons verloor ’n briljante man met integriteit,” het sy gesê.

Die sangeres Vicky Sampson het haar bekende lied “African Dream” tydens die diens gesing.

Dr. Pallo Jordan, oudminister van kuns en kultuur, dr. Franklin Sonn, voormalige ambassadeur, en prof. Richard van der Ross, oudrektor van die UWK, het ook die gedenkdiens bygewoon.

Lynne Brown, die nuwe minister van openbare ondernemings, het ook ’n huldeblyk gelewer.

’n Moeilike pad

“Russel was reeds ’n besonderse studenteleier by die UWK en dit het hom voorberei vir sy plek in die geskiedenis om die rektor van die US te word,” het Brown gesê.

“Hy het ’n moeilike pad gehad wat hy moes stap, want verandering is nie maklik nie. Hy het gekom van die linkse UWK na die regse US en moes ’n middeweg tussen die twee vind.

“Sommige mense wil dit partymaal afmaak dat Russel die eerste swart rektor van die US was, maar vir baie van ons is dit belangrik.

“Ons het onsself in hom raakgesien, want ons het besef daardie persoon in daardie posisie lyk dan amper soos ek,” het Brown gesê en rouklaers het instemmend agterna “ja” gesê.

“Miskien was hy ’n bietjie mooier as ek,” het sy geskerts.

“Ons is vanaand hier om die aflosstokkie by die leier Russel Botman te kom optel. Hamba kahle, vaarwel. Tot ons mekaar weer sien, Russel.”

  •  Die Belydenis van Belhar is ’n belydenisskrif met die kerntemas van eenheid, versoening en geregtigheid om die destydse Nederduits-Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika se protes teen apartheid te verwoord.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.