Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oom Jan (109) van Riversdal oorlede

GEORGE. – Een van die Suid-Kaap se oudste en bekendste inwoners, Jan Duminy, is Maandag in Riversdal oorlede. Hy was 109 en sou op 13 November 110 jaar oud geword het.

Oom Jan, soos hy alombekend was, was ’n inwoner van die Droom-aftreeoord. Hy is aan natuurlike oorsake dood.

Die laaste paar jaar was dit al tradisie dat ’n partytjie op sy verjaardag gehou word. Dit is gewoonlik deur sy groot vriend die oud-Springbok Jannie Engelbrecht bygewoon.

Engelbrecht het Duminy deur sy broer Hannes, wat sedert 1968 altesaam 16 buitelandse Springbok-toere meegemaak het, leer ken. Hannes is in 2005 in die ouderdom van 94 oorlede.

Chris Veldsman, uitvoerende hoof van Droom, het gister aan Die Burger gesê Duminy was die laaste tyd nie siek nie. Hy was net doof en het swaar geloop. Hy het meestal gelê.

Volgens Veldsman was Duminy baie puntenerig. “Ek sê dit in ’n positiewe sin. Dinge moes reg gewees het.”

Die verpleegsters moes elke week sewe piesangs en ’n pakkie pepermente vir hom koop. Die piesangs was een vir elke dag. As hulle dit nie gedoen het nie, was daar probleme.

Hy was ook baie goedhartig. Aan die einde van die jaar het elke verpleegster ’n kontant-geskenkie ontvang om dankie te sê vir hul hulp.

Hy was al sedert 1987 ’n inwoner van die aftreeoord.

Engelbrecht het gesê Duminy se dood is vir hom ’n groot skok.

“Ons was groot vriende. As ek in die omgewing was, het ek by hom aangery.

“Hy was ’n verbasende mens. Hy het nog met ’n graaf en ’n vurk gewerk terwyl hy al in die negentig was.”

Volgens Engelbrecht was Duminy ook ’n baie sterk en gelowige mens.

Emor Nel, Hessequa se burgemeester, het gesê Dumimy was ’n gerespekteerde en geliefde inwoner. Almal het elke jaar na sy volgende verjaardag uitgesien.

“Hy het ’n vol lewe gehad tot op ’n hoë ouderdom. Ons gun hom rus.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.