Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wats jou storie?
Oor die stem van ’n vrou . . .
Francois Smith praat in sy huis in Wynberg oor sy debuutroman, Kamphoer. Foto: Liza van Deventer

DIT is ’n grys winterdag wanneer ons voor die ou gewelhuis in Wynberg stilhou waar Francois Smith en sy vrou, die keramiekkunstenaar Tania Babb, en hul kinders woon.

Kamphoer (Tafelberg) het ontspring uit Nico Moolman se boek The Boer Whore. Dis ’n storie uit die hart van die Vrystaat deur ’n Vrystater wat hiermee sy debuut as skrywer maak.

“Dit is nie ’n boek wat ek uit eie be­weging sou geskryf het nie; dit was grootliks ’n opdragwerk (van Riana Barnard by Tafelberg). Maar by nabetragting was juis dít ’n goeie ding omdat dit my geforseer het in goeters waarmee ek nié te gemaklik was of te houtgerus mee kon omgaan nie.”

Hy praat oor Susan Nell.

“Ek was báie bewus daarvan dat ek as mán oor ’n vróú skryf.”

Karel Schoeman

“In daardie stadium was ek byvoorbeeld in druk korrespondensie met Karel Schoeman, wat my baie gehelp het met van die historiese navorsing. Hy was besig met iets anders waarvoor hy ont­settend baie leeswerk gehad het, wat vir my persoonlik van waarde was.

“Dit was ’n baie vreemde korrespondensie, want enersyds het hy my van materiaal voorsien en andersyds was dit asof hy geskreeu het: ‘Weet jy wat jy doen? Beséf jy dat jy as man probeer skryf oor ’n vrou wat verkrag is?’

“Een ding wat ek voor die tyd reeds geweet het, voordat ek die volle implikasies daarvan besef het – en ek kon dit eers behoorlik besef toe ek daarmee besig geraak het – is in watter mate, wanneer jy oor iemand anders skryf, jy baie seker moet maak dat jy nie oor jóúself skryf nie.

“Hoewel ’n mens skryf met ál jou ervaring, met ál jou kennis, met álles wat in jou is, moes ek vir myself sê: Maak doodseker wie se gevoel is dit hierdie. Is dit ’n mate van algemene melancholie wat in mý is, of is ek nou rêrig besig met wat hierdie Susan besig is om te voel?

“Ek het ook agtergekom dat ek geneig was om te skryf met so ’n effense melancholiese stemming en wat ek goed geweet het eerder ék is as wat dit sý is, en ek moes myself dwing om te herlees. Ek het ook die redakteur Linda Rode gevra om báie spesifiek te kyk vir wat ek genoem het opgeklitste emosies, dinge wat nie rêrig organies uit daai karakter kom nie, maar wat eintlik my eie goeters is wat ek op haar projekteer.”

Vrystaat

Die Vrystaat, waar Kamphoer deels afspeel, is waar Smith grootgeword het – op ’n familieplaas by Rouxville, en in die dorp self.

“Die Vrystaat en daardie soort landskap is in ’n groot mate my innerlike landskap ook – daardie óóptes, daardie kleur en daardie lig . . . En die klanke daarvan ook.

“Hoewel ek glad nie meer blootgestel word aan Sotho nie, is my oor baie goed daarop ingestel.

“Dis vir my nog altyd, saam met Afrikaans, die tale van my hart.”

Die Vrystaatse landskap laat ’n mens natuurlik onwillekeurig aan Karel Schoeman dink.

“Sonder dat ek dit voorsien het, is daar in Susan se terugkoms na Suid-Afrika en daardie reis beslis eggo’s van Karel Schoeman se Ander Land . . . En sy reageer eintlik op ’n tipe Karel Schoeman-landskap; op daardie léégheid. En sy ril daarvan; sy kan eintlik nie daarna kyk nie.

“Ek het met my heel eerste skryfsels al daarvan bewus geraak dat ek Karel Schoeman se stem moet dóódkry in myself . . . En sy ritmes. Die een ding wat ek dink ek ánders doen as Karel Schoeman, is dat ek ’n variasie van ritmes probeer. Álmal is nie net afsplitsings van dieselfde soort gemoedstemming nie. Die ander ding is hierdie boek speel omtrent uitsluitlik in ’n vrou se kop af; ál die ruimtes is eintlik háár ruimtes.”

Om te skryf

Hy is in die boekbedryf omdat hy wil skryf, sê Smith.

“Ek dink die beste wat ek met my lewe kan doen, is om te skryf. Dis net nie so maklik om jou brood en botter daarmee te verdien nie; dís hoekom ek die meeste van my tyd redakteurswerk doen, manuskripontwikkeling . . .” Hy lag. “Ek is dikwels ’n spookskrywer. En ek matig my geweldig aan in die proses deur te sê: ‘Ek dink, nee, moet dit nie só doen nie, doen dit eerder só. Hier kort dít; daar kort dát.’ Ek probeer vasstel wat die teks wil hê, wat in die meeste gevalle iets anders is as wat ’n skrywer wil hê.

Skommelrit

“Dit is makliker met ervare skrywers . . . as iemand met verantwoordelikheid met die teks omgaan, kan hulle báie meer van jou vat wanneer hulle agterkom dat jy met gróót, gróót erns worstel met wat daar staan . . . Ek sê ook: ‘Uiteindelik staan jóú naam op die boek; nie myne nie.’

“En nou, uiteindelik, is daar ’n produk waarop mý naam staan. En die proses was sielkundig . . . emosioneel baie meer uitmergelend as wat ek my ooit kon voorstel . . .

“Dit was ’n skommelrit tussen úiterse wanhoop en so vaagweg voel dat jy iets reggekry het. En daai uitgelewerdheid wat jy het deurdat jy uiteindelik iets het waarvoor jý en nét jy moet pa staan.”

Smith het aanvanklik ’n graad in siviele ingenieurswese behaal. “Ek het geweet ek kan net gaan studeer as ek ’n beurs kry; my pa sou nie vir my kon betaal nie . . . Ek het op Stellenbosch baie vinnig agtergekom dit was ’n ontsettende groot fout en dat ek eintlik in boeke en goeters belang stel. Maar daar sit ek toe. As ek opskop, moet ek die beurs terugbetaal. Toe moet ek deurdruk. Ek het toe ingenieurswese klaargemaak.

“Die volgende jaar moes ek weermag toe. En toe het ek my beurs teruggewerk by die WNNR. In daardie tyd het ek ook die BA met literatuurwetenskap en Afrikaans as hoofvakke deur Unisa behaal.

​Susan Nell

Die jong Susan Nell, hoofkarakter van Kamphoer, vind in Kaapstad ’n ruk lank ’n veilige hawe aan huis van mev. Marie Koopmans-De Wet.

Die eerste aand aan tafel vra die dame haar om haar hoed af te haal.Sy druk haar vingers van agter onder my hare in en kam dit terug. Haar een hand gaan af oor my voorkop en voel-voel weer stadig op, onder my hare in.

Ek begin huil, sien my trane drup . . . Tante Marie se vingers is in my hare, haar vingerpunte sag op my kopvel. “My kind, my kind,” sê sy, “wat het hulle vir jou gemaak?”

Ek hoor Mamello sê: Ngwana wa ka. En dit voel vir my of hulle almal hier by my is, Tiisetso en Mamello (wat haar in ’n grot naby die Winburgse konsentrasiekamp versorg het) saam met tante Marie en tante Margaretha, en ek is hulle kind.

Dit klink vir my of tante Marie se stem van ver kom, asof sy voor in die bek van die grot staan en ek agter in die diepste hoekie sit. Sy sê ek moet probeer om sonder die hoed te lewe anders sal die litteken die belangrikste ding in my lewe bly. (Kamphoer, bl. 228)

“Ek het toe ’n rukkie op Sasolburg skoolgehou – wat hél was – en toe op Aliwal-Noord. Toe het ek vir ’n jaar voltyds by UCT gestudeer en ’n honneurs gedoen.”

Hy het daarna in Volksblad se susterkoerant Die Burger se nagkantoor begin werk as ’n vryskut-teksredigeerder.

Ná twee jaar is hy in die kunsredaksie aangestel, en mettertyd het hy boekeredakteur geword.

“En toe het daar ’n geleentheid gekom by Tafelberg om daar op kontrak af te los. In daardie tyd is ek met Lisbé Smuts getroud, wat toe die tragiese afloop gehad het . . .”

Dr. Smuts, ’n akademikus aan die Universiteit van Kaapstad, is op 7 Februarie 2005, enkele maande ná hul troue, in hul huis in Wellington vermoor.

Doktorsgraad

Smith het hom toe verdiep in ’n doktorsgraad en hom daarna gevestig as vryskut-redakteur van tekste. Sy doktorsgraad-tesis heet Letterkunde en die dood met die subtitel Onmoontlikheid en die moontlikhede van die teks.

“Dit het eintlik gegaan daaroor dat die onkénbare, die gans ándere – en by implikasie die dood – aan die brón van die letterkunde lê, eerder as die lewe as sodanig . . . dít wat jy glád nie kan dink of jy jou glád nie kan voorstel nie, of wat ánderkant ons kennis of ons wete lê, is eintlik die voedingsbron van dít wat ons wil sê.”

Een van die dinge wat hom ontroer het terwyl hy vir Kamphoer navorsing gedoen het, was iets wat ’n amateur-historikus in sy Boereoorlog-boek geskryf het.

“Hy het vertel toe hy ’n kind was, het sy oupa en ouma, wat albei in die konsentrasiekamp op Aliwal-Noord was, in daai stadium saam met hulle in die huis gewoon. En hulle het nooit ooit enigiets oor die oorlog gesê nie. Maar hy kan wél onthou wanneer hulle huisgodsdiens gehou het, het hulle gesing. En wat hy kan onthou, is sy oupa se lae, krakerige basstem . . . hier onder, donker; en sy ouma se hoë, dún stemmetjie wat soos ’n vlermuis bo-oor sy oupa se dowwe gekraak gefladder het. En as hulle gesing het, het hulle altyd só hartseer geraak en begin huil.

Hartseer

“En as kind het hy vir sy pa-hulle gevra: ‘Hóékom is Ouma en Oupa so hartseer?’ Hulle het hom nie geantwoord nie. As volwassene het hy eers agterkom hóékom hulle so hartseer was.

“Daar is goeters wat . . . intense ervarings wat dikwels . . . daardie mense wat dit ervaar het, het net nie die woorde daarvoor nie; kan eintlik nie daaroor praat nie . . . Óf mense dink dis verby en probeer daaróór leef en dan kom dit op allerhande maniere terug . . .” 


  • Smith is die broer van Charles Smith, “Volksblad” se nuusredakteur.
  • Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.